Mode-pioniers

2012-10-21 14:52

Ella Buter  - die aweregse

Ella Buter is in 2005 aangewys as die wenner van die Nederburg-veiling se Rare South African Fashion Finds-kompetisie, en dis duidelik hoekom: Haar klere val beslis buite die alledaagse.

Superella, haar winkel in Melville, Johannesburg, lyk allermins soos ’n boetiek. Dis deels boetiek, deels uitstalling. Teen die mure hang interessante objets – van kolwyntjiepanne en jellievorms tot antieke skêre. Op ’n groot tafel staan allerhande versamelstukke en snuisterye wat jou laat wens dít was ook te koop. ’n Stokou resepteboek trek my aandag: Good Housekeeping Family Favourites.

Die uitstallery, vertel Ella, gaan seker terug na haar loopbaan voor sy in 1998 die LISOF/Elle-beurs gewen het en mode-ontwerp gaan studeer het. “Ek was wat hulle noem ’n visual merchandiser.” Overgesetsynde, die mens wat moes sorg dat die vensteruitstallings van groot winkels soos John Orr’s die klante na binne lok.

“Ek was al in die dertig toe ek gaan studeer het en was daarom baie realisties oor die modebedryf.

“Die winkel gaan oor meer as klere. Ek ontwerp elke seisoen ’n nuwe voorkoms vir die winkel en hierdie somer is die tema bak. Dit pas in by die meelkleure waarop ek tans fokus.” 

Sy het as tiener ’n naaimasjien by haar ma gekry en van toe af haar eiesoortige skeppings gemaak. Sy dink haar Hollandse pa het ’n belangrike estetiese invloed op haar ontwerpe gehad.

“My klere is uniformagtig, met eenvoudige vorme. Ek werk graag met die basiese vorms, soos driehoeke, sirkels en vierkante, en verkies natuurlike stowwe, soos katoen, linne, wol en sy. Dis alles materiaal wat die vorm behou. Ek is nie ’n drapeersel-ontwerper nie.

“En omdat ek in Afrika grootgeword het, speel Afrika ’n besliste rol in my ontwerpe. Maar een van die grootste uitdagings vir Suid-Afrikaanse ontwerpers is om goeie lap plaaslik in die hande te kry.” 

Ella ontwerp klere wat sy self ook dra. “My kliënte is ’n baie spesiale soort vrou. Hulle gee nie om om ’n stelling te maak met hulle klere nie, is gewoonlik hulle eie baas, en ouderdom en grootte maak nie saak nie.” Sy ken haar kliënte. “Ek kan sommer dadelik sien as iemand hier instap of sy van my klere hou of nie. As iemand nie dadelik kan relate met my klere nie, sal hulle dit nie geniet om dit te dra nie.”

’n Paar interessante beelde – fantasiefigure gemaak van optelgoed – staan in die winkel rond. Sy stal dit vir ’n kennis uit.

“Dit sluit perfek aan by my filosofie van ‘iets uit niks’. My muse vir my somervertoning by die SA Modeweek vroeër vanjaar was juis ’n bietjie fantasie: ’n vrou van 2050 wat in 1950 leef. Pret is ’n belangrike aspek van my werk, anders word werk ’n sleur.”

* Loer in by Superella, h/v 7e Laan en 9e Straat, Melville (oorkant die Bamboo-sentrum).




Suzaan Heyns - die waaghals


Sy mag dalk net 31 wees, maar sy word gereken as een van die groot hedendaagse Suid-Afrikaanse ontwerpers. Sy het in 2011 in Melville haar eerste boetiek oopgemaak en ’n maand of wat gelede ’n tweede een, dié keer in Johannesburg se glansryke Melrose Arch.

Suzaan is bekend vir innoverende, waag¬halsige skeppings, soos haar klerereeks, Reimagine concrete, vroeër vanjaar bewys het. Hoe op aarde gebruik mens sement in ’n klerereeks?

“Ek het die lap in sement gedoop en daarna om ’n borsstuk gemodelleer,” vertel sy doodluiters, asof sement en mode normaalweg in een asem genoem word.

Haar muse, verklap sy, was nog nooit mode nie, maar eerder beeldhou, kuns en argitektuur. “Ek het ’n kunsagtergrond en wou eintlik ’n beeldhouer word. My ouma het wel klere gemaak en ek is altyd saam met haar na die Oosterse Plaza in Fordsburg om te gaan mate¬riaal soek. Ek dink daar iewers het ’n liggie in my kop aangegaan: Jy vat hierdie lap, só ’n patroon en dan gebeur hierdie skepping.”

Met die sementreeks wou sy die grense ’n bietjie verskuif, maar moenie bevrees wees nie: Haar klere is baie drabaar en uiters modieus. Sy geniet dit veral om in leer te werk, maar gebruik dit heeltemal anders as wat die norm is deur dit byvoorbeeld met ’n vloeiende chiffonskepping te kombineer. “Ek is dol oor leer. Dit verouder baie goed en ’n mens kan dit op soveel wonderlike maniere vorm. Ek hou ook van die organiese aspek. Elke stuk lyk anders.” Wol en sy is ook gunsteling-stowwe.

Net soos Ella het ’n LISOF/Elle-beurs Suzaan in die modewêreld laat beland. En Ella het ’n rol gespeel hierin. “Ek het by Full Stop, ’n eetplek oorkant Ella se Superella, gewerk. Eendag bring sy toe die Elle daar aan met die opdrag dat ek moet inskryf.” Die res, soos hulle sê, is geskiedenis. Sy en haar klere het al ’n hele paar toekennings verwerf, onder meer die Anglo Gold Ashanti Auditions 2009 vir die mees kreatiewe reeks en ’n Glamour Magazine se Style Star Women of the Year Award 2011 as ontwerper. Sy pronk op die Mail & Guardian se lys van 200 Young South Africans, en haar finale rok van die reeks “True Colours” is ook by vanjaar se Design Indaba benoem as Most Beautiful Object in South Africa.

www.suzaanheyns.com


Jacques van der Watt  - die toonaangewer


Hy het “nog altyd” klere gemaak, vertel Jacques by sy ateljee in Johannesburg se Foxstraat. Niks in die ateljee verklap die glansrykheid van sy skeppings of kliënte nie, en vir iemand wat al gewoond moet
wees aan die kollig wat die modewêreld op hom skyn, is hy bra skaam. “Ek het op skool al self patrone ontwerp en gemaak, en pas ná matriek by Leggats Academy of Design gaan studeer. My eerste werk was by Egoli as wardrobe designer. Ek was drie jaar daar toe ek my eie besigheid begin het, onder meer as stilis.”

In 1998 het sy handelsmerk Black Coffee die lig gesien.

Vanwaar dié naam? “Mense wat swart koffie drink, is nie juis die norm nie. Al veroorsaak die naam dalk aanvanklik so ’n bietjie verwarring as dit aan mode gekoppel is, sal jy dit nie sommer vergeet as jy dit eers ken nie.”

Hoe sou hy sy klere beskryf? “Dis klere vir mense wat opweeg wat die funksie van klere in hulle lewe is. Dis slim snitte dog baie vroulik en soms ongewoon, maar ek probeer nie skok nie.”

Hy herhaal graag vorms soos sirkels en driehoeke en sorg dat geen twee seisoene se skeppings dieselfde lyk nie. Sy gunsteling-materiale is sagte truistof, sy, katoen en ’n sy-en-wolmengsel.

“Ek verkies iets sags of iets wat baie struktuur kan gee. Ek sal meters en meters en meters lap in ’n ontwerp gebruik. Dis een¬voudige lap, maar die geheim lê in hoe dit gebruik word.”

Jacques speel graag, soos sy unieke rok, wat op allerhande verskillende maniere gedra kan word, bewys. (Gaan kyk by www.everyonecanbeadesigner.com.)

Hy beskryf sy tipiese kliënt as iemand bo 30 en gesofistikeerd. Grootte tel nie. “Dit gaan veel eerder oor hóé iemand ’n uitrusting dra.”

Jacques is beslis ’n trendsetter op die plaaslike modefront, soos sy reeks winterjasse, spesiaal geskep vir die Suid-Afrikaanse klimaat, duidelik bewys.

Wat inspireer hom? “Alles. Daar is nie een persoon wat my meer as ander inspireer nie, behalwe dalk Vivienne Westwood. Destyds was sy die odd one out, maar nou kan ’n mens haar invloed oral sien. Sy het die hele modebedryf se manier van dink verander met haar asimmetriese snitte en deconstruction.”

Deconstruction? “Dis byvoorbeeld wanneer ’n kledingstuk ongesoom is, of die nate buitekant sit, of die uitgewaste voorkoms van ’n jean,” verduidelik hy geduldig.

Sy werk is al vertoon op die loopplanke van New York, Berlyn, San Francisco en Suid-Afrika se onderskeie modeweke.

Wat is die vreemdste ding wat hy al moes ontwerp? “Seker die kostuum vir ’n vriendin se honde. Sy wou hulle soos warmbrakke laat lyk,” lag die man wat groot toekennings soos die Mercedes-Benz Award for South African Art and Culture en beste ontwerper (2010) by die African Fashion International agter sy naam kan skryf.

* Daar is boetieks in die Bamboo-sentrum in Melville en by Arts on Main in Foxstraat, Johannesburg.
www.blackcoffee.co.za


Chanellé Vlok  JONG TALENT

Sy is nog maar 26, maar maak van die mooiste hoede (en ander modieuse hooftooisels) waarop ek al my oë gelê het – en dít boonop dikwels met die hand. Soos Ella en Suzaan is Chanellé ook ’n voormalige student van LISOF, waar sy mode-ontwerp studeer het. Maar hoedemakery – “het jy geweet die Engels is millinery?” – het haar altyd gefassineer.

“Ek was altyd besig om hooftooisels vir myself te maak, want ek was verveeld met die bykomstighede wat ’n mens te koop gekry het. Ek het daarvan by die SA Modeweek verkoop, en my by een só ’n modeweek gaan voorstel aan Albertus Swanepoel.”

Hy het haar binne twee dae geleer om ’n vilthoed met die hand te maak.

Sy het die ses maande lange internskap wat Albertus haar by sy New Yorkse ateljee aangebied het met albei hande aangegryp. Terug in Suid-Afrika was sy vasbeslote om van haar stokperdjie ’n besigheid te maak.

Van haar Cloche-skeppings was weer by die pas afgelope SA Modeweek te sien.

Moenie kerkhoede verwag nie – dink eerder aan die soort skeppings wat jy by glansryke perdewedrenne soos die Ascot sal kry. En handgemaakte vilthoede van vintage-vilt uit die 1960’s. Behalwe vir dié vilt is sisal haar gunstelingstof om mee te werk.

Ongelukkig moet sy, ter wille van gehalte, die meeste van haar materiaal invoer, en om ’n hoed met die hand te maak duur minstens ’n dag, soms twee. Dit maak natuurlik dat haar hoede heelwat meer kos as die made-in-China-massavervaardigde hoede waarvan ons winkels wemel. Maar al moet Chanellé ook as stilis werk om die pot aan die kook te hou gee sy nie om nie.

“Ek was van kleintyd af gefassineer deur ’n mooi hoed. My ma en ouma het gróót gegaan – en my ma doen dit nog steeds – as dit kom by hoede en hooftooisels,” vertel sy.

“Al my skeppings is uniek. My pa, ’n oudhede-handelaar, het vir my outydse hoedvorms uit hout bymekaar gemaak, en ek het ook my eie pasmaak-blokke laat maak. Ek speel rond met kleur en vorm en voor jy jou kom kry, word die hoed self ’n skepping.”

* Jy kan Chanellé se hoede by Johannes¬burg se Neighbourgoods Market, Egality in Parkhurst en The Bromwell in Kaapstad kry.

www.cloche.co.za 




Van links:

Ella Buter  - etiket Superella
Fantasie speel ’n groot rol in haar ontwerpe, soos haar somervertoning by die SA Modeweek vroeër vanjaar weer gewys het.


Jacques van der Watt - etiket Black Coffee
Sy ontwerpe is al by die modeweke van New York, Berlyn, San Francisco en Suid-Afrika vertoon.




Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-16°C High level clouds. Cool. Pta: 2-20°C Sunny. Mild.
Jhb: 2-14°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: -3-15°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 7-22°C Sunny. Mild. PE: 12-17°C More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Enquiry Desk Consultant

Durban
The Prestige Personnel Agency
R9 000 - R10 000 Per Month

Credit Consultant

Durban
The Prestige Personnel Agency
R11 000 - R12 000 Per Month

Parts Sales Representative -Middelburg

Witbank
Creativ Crew
R420 000 - R450 000 Per Year

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot R2000 op die gewildste elektroniese ware

Kry elke dag besparings wat jou kop sal wegblaas op die gewildste elektroniese ware. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!