Moet nooit uit vel uit hardloop
2011-11-12 13:49
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
“Rooilorrie, Rooilorrie kom in,” kraak dit oor die tweerigting-radio.
“Rooilorrie, staan by,” kom die antwoord.
“Ek dink dis jou fênbelt wat hier voor ons in die sand lê.”
“O hel, ja, die lorrie loop warm!” radio Paul terug.
En alles ruk tot stilstand. 250 km in Barotseland in. 250 km noord van Katima Mulilo. 250 km van niks en nêrens.
Ons drie voertuie versamel onder ’n groot ou koelteboom en ses man bondel saam by Rooilorrie se enjinkap. Of eintlik net vyf, want ek weet hiér kan ek geen bydrae lewer nie. My motormeganika lê by die bel van die AA (dis nou nié Alkoholiste Anoniem nie, alhoewel ek glo dit help partykeer). Verder weet ek drie van die manne is boere en ’n boer maak ’n plan. Dan het Mario Bonthuys ook met sy hande groot geword. Klein Fellies, tans in matriek, staan maar daar rond, want hy weet nie wat anders om te doen nie. Sy pa het hom saamgesleep, miskien sodat hy iets kan leer.
“Paul, die tention pully het afgebreek,” sê vriend Kalie.
“Dis gróót moeilikheid,” laat val Groot Fellies. Dan vervolg hy: “Maar hier gaan ons nie uit vel uit hardloop nie!”
Nie uit vel uit hardloop nie? Dan onthou ek gisteraand se gekorswel om die kampvuur. Fellies het vertel van die wynboer van Rawsonville met so ’n verskriklike verkreukelde gesig. Dis blykbaar net velle en plooie. By navraag sou die boer met so ’n handbeweging opmerk: “Dis sodat ek nie uit vel uit hardloop nie!”
Ons het geskater. Maar nou lag ons nie. Ons is in strontstraat, want as ons Rooilorrie nie aan die loop kry nie, is daar helse moeilikheid…
Ons ses man is besig om soos menige male tevore ’n groep motorfietse logisties te ondersteun in hul ewige behoefte (en ons s’n ook) om in plekke in te neuk waar jy eintlik nie wil in nie. Die plan is – of was? – om ongekarteerde paaie deur Wes-Zambië en Oos-Angola te vat tot teenaan die DRK se grens. Dan ’n draai by Luena in die Moxico-provinsie van Angola te gooi en uiteindelik weer deur Zambië huis toe te gaan.
Hoekom Luena? Want dis daar dat ’n groepie MPLA-kommando’s Unita se Jonas Savimbi uitgevat en só die burgeroorlog in Angola beëindig het. Ons het ook oorlogbande met Angola en Savimbi –?maar dit was ’n ander tyd en miskien ’n ander plek?
“Miskien moet ons daai pully skip en dan hier onder deur die alternator, bo-oor die fên laat loop.
“Ma’ hoe sit ons dan weer tension op die belt?”
Só dryf my vriende se suiwer meganiese Afrikaans na my aan waar ek onder die boom aan my pyp teug en terugdink aan vorige breekspulle. Breekspulle waar ek geglo het hiér kom ons nie uit nie…
Daai dag in Botswana se Okwa-depressie, waar Piet Doep se Land Rover se u-bolt gebreek het. Piet het bloot ’n Mills-sigaretjie opgesteek, ’n brandewyntjie gegooi, so in die verte ingetuur, bloudraad uit die gereedskapskis gevis, en ons het verder gery.
Of die keer diep in die Kaudom se dik sand, toe Grant Craig sy Land Rover se rathefboom morsaf terug gerat het. Grant, op sy beurt, het ’n graaf gevat, so ook ’n toiletrol, en die bosse ingesak. Met sy terugkoms het hy ’n vice grip (skroefbek) iewers in die ratkas ingedruk en dié ding het as hefboom ons huis toe gekry.
Terug by die hede is sewe van die motorfietsers ver vooruit. Hulle beweeg baie vinniger as ons deur hierdie diksand-bospaadjies. Ek hoop hulle hou by die afgesproke konvooi-dissipline, menende ry-en-wag. Verder het hulle ’n helske klomp geld op hierdie avontuur uitgegee. Veral op logistieke ondersteuning. Hulle gaan de hel in wees as die breek van ’n voertuig hul avontuur befomfaai. Of so dink ek.
Weer eens verwonder ek my oor die biker-spesie. Spesifiek dié wat al my pad gekruis het. Hulle is nou nie juis jou gewone ou nie. Almal is hoogs gekwalifiseerde, professionele en suksesvolle sakemanne. Menende hulle is stinkryk, of is dit finansieel gemaklik? Oukei, ek weet niks kom verniet nie en dit gaan vir seker gepaard met ’n sekere ongenaakbaarheid, maar dan is daar tog ’n kinderlikheid wat wil-wil kop uitsteek as hulle daai fietse brandskop.
Vat nou die huidige groepie wat iewers vooruit met ’n brullende stuk staal tussen die bene die dik sand en swiepende takke van toegegroeide bospaadjies trotseer. Daar is drie medici: Martin Diekmann uit Windhoek; Francois van der Westhuizen, ’n ortopediese chirurg; en Deane Murfin, ’n narkotiseur-spesialis. Laasgenoemde is albei uit Gauteng. Dan drie ingenieurs (’n spesie in eie reg): Jaco Potgieter, Frik Steynberg en Pieter Maré. Ook ’n sakeman, Ronald Nel. Beslis gaan hulle die duiwel in wees oor ons breekspul…
Laat ons tog nie uit vel uit hardloop nie!
“Nee wat, manne, hier gaan ons nie regkom nie,” sug die Bontes.
“Kom ons sleep die lorrie tot ons die bikers opvang, dan plan ons weer,” sê Fellies.
“Die sand is so dik, ons sal die twee Land Cruisers in tandem moet koppel as ons die lorrie wil tou,” Kalie.
So gesê, so gedaan.
Dis ’n idilliese staanplek. Spierwit sand, ’n heerlike swemgat vol krokodille en paviljoene vol PB’s (plaaslike bevolking). ’n Staanvuur wat die fietsrymanne voorberei het, brand Jean d’Arc hoog. Ek pak stoele uit en begin kos berei: braaibroodjies, aartappelslaai en skotse beeshaas (scots fillet, vir die Afrikaanssprekendes).
Ondertussen vergader die hele fietser-kontingent onder Rooilorrie se enjinkap en bespreek die breekspul uit ’n mediese en ingenieurs-oogpunt.
En voor my oë gebeur iets wat nog nooit in my sewe jaar lange verbintenis met fietsers gebeur het nie. Ons word ons. Dis nie meer ons en hulle nie. Dis nie meer die back-up en die bikers nie. Dis nou nie meer Rooilorrie se probleem nie, dis óns probleem.
Ongelukkig kon nie ’n boer, narkotiseur, ortopeed, rekenmeester of ingenieur daai lorrie weer aan die loop kry nie. Maar Martin Diekmann het nie uit vel uit gehardloop nie. Per satellietfoon het hy ’n onderdeel uit Windhoek bestel en na Katima laat karwei. Hy en Pottie het die hele pad terug aangepak, die ding gaan haal en 48?uur later het ons dieper die onbekende ingebeur…
Die Luiwavlakte- nasionale park in Zambië se noordweste is nie heeltemal onbekende wêreld vir die avontuurlustige 4X4-reisiger nie. My vriend en mentor Jan Boshoff het my jare gelede van dié plek vertel, van die migrasie van duisende blouwildebeeste wat slegs deur die Serengeti in Tanzanië oorskadu word. Ek het hom nie geglo nie, want hoekom weet ander dan nie daarvan nie? Tot ons die wye vlaktes in gery het.
Dit het nog nooit in my gelê om op papier te “oe” en “a” oor hoe besonders ’n plek is nie. Gewoonlik sê ek: “Gaan kyk maar self.” Ek sê dit weer. Troppe blouwildebeeste wat ewe skielik die blouwilleweghol kry en tussen voertuig en motorfiets deur nael. Dis ’n voorreg om so iets te beleef, het ek weer eens gedink en ’n Mosi-bier op die lewe gelig.
By Lukulu is ons per ferry (pont) oor die Zambezi-rivier en weer by die dorpie Zambezi, waar ons stuk-stuk brandstof uit plastiekkanne moes aankoop. Tot by die Angolese grenspos tussen Chavuma en Caripande. Toe hardloop ons uit vel uit… Of eintlik het ons tyd te min geraak…
Die lewe maak dat tyd ’n beperkende faktor word. ’n Dag het net soveel ure, ’n leeftyd net soveel jare. Die breekspul, woeste paaie en tydsame rivierkruisings het sy tol geëis, spesifiek van dié wat wêreldse afsprake in die gewone harwar van terug-by-die-huis gemaak het. Moet ons nou omdraai of die heeltemal onbekende pad verder deur Angola aandurf? Dít met die wete dat die wêreld daarbuite nie vir ons gaan wag nie. En die matriek-rekordeksamen wag vir niemand. Ons het om oopgespreide padkaarte en deurmekaar geskommelde GPS’e vergader en vir mekaar gekyk.
“Ons mag maar uit tyd uit hardloop, maar nie uit vel uit nie,” was die konsensus en met ’n gelatenheid is die burokrasie van bosgrensposte aangedurf.
’n Angolese onwettige toegangstarief van $100 per persoon by Caripande is daai Sondagmiddag gereduseer tot vier Portugese Bybels en tien Bic-penne (wat die mense van dié veraf plek se behoeftes onderstreep het).
Skaars 10 km die bospaadjie af is daar ’n houtstellasie. Eintlik is dit ’n brug oor ’n grote rivier. Skielik verstaan ons hoekom hier nie karre ry nie. Want hulle kán nie. Die houtdwarssparre is los. Die houtpilare is wankelrig.
Die ingenieurs onder ons het beplan en getoets. Die boere het die kop geskud. Die medici het gehoop die mediese skemas sou instaan en Mosi-bier het die deurslag gegee. Aan die ander kant het ek Valiant Swart se Donkerpad in die CD-speler ingeglip.
“As jy die anderkant haal/
moet jy wys en betaal/
maar as jy terug wil kom/
gaan maak maar self daai som.”
Ons het nie omgedraai nie…
Die bykanse onbegaanbaarheid van die oorlog-befomfaaide paaie van Oos-Angola is nie oorvertelbaar nie. Riviere sonder brûe is deurkruis, bloot omdat ons moes. Brandstoflose Luena se Marxistiese burokrasie het nog ’n halfdag uit ons tyd gevreet.
Landmyne het gesorg dat ons iewers by Luzi, ’n klein nedersetting, met toestemming van die “Commandante” op die dorp se sokkerveld ons staning gemaak het. As medereisigers het ons – logistiek én motorfietsers – gesing:
I ch hatt’ einen Kameraden,
Einen bessern findst du nie.
En die Angolese son is purperrooi deur die bos ingesluk.
Dit het wel ’n malle gejaag gekos terug Zambië toe. Tot by Kalabo, deur ’n grenspos wat die PB’s nie eens te voet aandurf nie. My woorde en tyd is te beperk om al die oomblikke te beskryf. Die afwesigheid van grenspersoneel by Zambië se Sikongo. Die jaag om betyds vir die laatmiddag-Mongu-pont te wees. Daai nag se pletter-ry deur sand en vloedvlakte, terwyl Bon Jovi It’s My Life oor die CD-speler uitbasuin. Fellies wat per satellietfoon vliegtuie uit Katima probeer reël dat Klein Fellies tog net betyds sal wees vir sy rekord-eksamen.
En dan die aand in Katima Mulilo waar die kring voltooi is en die son hom in die magtige Zambezi-rivier verdrink. Ons het vir mekaar gekyk.
Ons het nooit uit vel uit gehardloop nie. En die tyd het ook nie opgeraak nie.
Ek dink Klein Fellies iewers op ’n vliegtuig, op pad om sy rekordeksamen te gaan skryf, het miskien iets geleer. Soos: Matriek is nie so belangrik in die ou lewe nie. Wat wel belangrik is: Jy moet net nóóit uit vel uit hardloop nie.