Om te wag op 'n nier

2012-10-02 13:07

Henri van Aswegen van Randburg reken hy is die enigste ou wat muurbal speel op dialise. Foto: Jan Ras

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Om my te help hoef jy nie dood te wees nie,” sê Henri van Aswegen, projekingenieur, sportman, versamelaar van antieke kameras… en ’n man met nie minder nie as drie niere, wat nou dringend ’n vierde kort. (Die “ou” niere word nie uitgehaal nie, sê Henri, omdat hulle steeds ’n geringe mate van werk verrig.)

Terwyl alle oë die afgelope twee maande op die Olimpiese Spele en Paralimpiese Spele was, was hy by ’n minder bekende sportgebeurtenis in Durban – die stryd om te bepaal wie Suid-Afrika volgende jaar in die Wêreld-oorplantingspele gaan verteenwoordig. Boonop weer in Durban, want aanstaande jaar word die Spele vir die eerste keer in Suid-Afrika gehou.

Maar Henri, wat al twee medaljes vir SA ver¬ower het, kon uiteindelik nie deelneem nie. Omdat hy weer op dialise is.

“Man, kom ek begin by die begin,” val hy weg met die verhaal oor sy wankelende gesondheidspad. Hier, by sy en sy vrou, Eléna, se voorstedelike huis in Northriding, Randburg, dompel ’n spier¬-wit gans (onlangs uit die straat gered) sy kop in ’n badjie water in die droë Hoëveld-tuin. Daar’s iets van Henri in die gans: Albei lyk so aktief, tog is elkeen op ’n manier ingehok.

Henry was skaars 42 toe sy voete in 1999 begin opswel en hy baie naar begin gevoel het. Iets ernstigs was fout… Uiteindelik het ’n nefroloog (nierspesialis) nierversaking by hom gedaignoseer. Dit was onomkeerbaar. Gesonde niere verwerk elke dag sowat 200 liter bloed, met 1 tot 2 liter se afval wat jou liggaam deur urine uitskei. Henri se niere kon dit nie doen nie.

“Omdat die niere – jou lyf se filter – nie gif¬stowwe in jou liggaam kan uitskei nie, bly dit in jou lyf, sak na onder en laat jou swel.”

Terwyl hy moes wag op ’n moontlike oorplanting was nierdialise die enigste opsie: Drie keer per week was hy vir vier ure lank aan ’n masjien gekoppel om sy bloed skoon te spoel.

“Dis baie onaangenaam, want jou bloeddruk spring rond en jy kry hoofpyn. Jy kan ook geen sessie misloop nie,” verduidelik hy.

Die ergste was dat hy sy sport moes prysgee.

“Ek het nog altyd muurbal gespeel, fiets gery en selfs gholf probeer. Nou’s ek seker die enigste ou wat muurbal speel op dialise!”

Henri is ’n man wat nie glo aan stilsit nie. Dit was dus ’n resep vir angs en depressie.

“Daar’s letsels op my arm waar die slagare aan are gekoppel is – ’n fistel, noem dokters dit – om die dialise te vergemaklik deur ’n sterk bloedvloei te verseker.” Hy sit my vinger daarop, en ek kan voel hoe die bloed pomp…

“Ek was erg depressief. ’n Mens dink die einde is in sig.”

In ’n land waar daar boonop ’n erge tekort aan orgaanskenkers is, was Henri se prognose maar sleg. ’n Mens kan ook nie vir té lank op dialise bly nie, dit verinneweer jou.

“Maar mense skenk eenvoudig nie. In Swede en Australië, as jy gebore word, kom jou naam op die skenkerslys. Jy moet aansoek doen om van die lys afgehaal te word. Maar hierso… ” sê Eléna.

Die enigste opsie is ’n oorplanting, en jy wag vyf tot tien jaar vir ’n skenker – óf van ’n lewende skenker óf van iemand wat oorlede is.

In 2001 het sy broer Christo, een van ’n laatlammetjie-tweeling en ’n dekade jonger as Henri, een van sy niere aangebied. Henri het eers dié nuus geglo toe Christo, kompleet met ’n drup¬staander, vir hom in sy hospitaalkamer besoek en sy steke kom wys het. Die oorplanting was suksesvol.

“Henri was weer ’n nuwe mens,” sê Eléna.

“Ek ken hom gesond vir vier uit die 25 jaar wat ons saam is. Maar dit was amazing. As jy hom nie voor en ná die tyd gesien het nie, sal jy dit nie kan glo nie. Binne drie dae het hy ’n klomp gewig verloor en sy velkleur het weer gesond gelyk. Hy kon ook weer sport speel.”

Dis in dié tyd dat Henri uitgevind het van die Wêreld-oorplantingspele. Die Spele vind al sedert 1978 elke tweede jaar plaas en enigiemand wat ’n orgaan of beenmurg ontvang het, kan deelneem.

“Die doel is om mense bewus te maak van die behoefte aan orgaan- en weefselskenkers én om die gesondheid van mense wat organe ontvang het te bevorder,” verduidelik Henri.

“Jaarliks sterf honderdduisende mense terwyl hulle op organe wag. Boonop lei min skenkers tot ’n groot swartmark vir onwettige oorplantings omdat pasiënte so desperaat is.”

Ironies vind daar nou, in ’n land waar die eerste hart suksesvol oorgeplant is, al hoe minder oorplantings plaas, meestal uit mense se onkunde. Een positiewe gevolg van die Spele is ’n toename van minstens 30% in die getal orgaanskenkers in gasheerlande, wat ’n sterk dryfveer is vir volgende jaar se Spele hier.

“Ek het in 2005 en 2007 vir die Spele gekwalifiseer, maar kon weens ’n gebrek aan geld nie deelneem nie.” Maar in 2009 is Henri se droom bewaarheid en kon hy in Australië brons wen vir muurbal. “Die Spele in Australië was ongelooflik,” vertel Eléna. “Jy besef hoeveel mense is deur dieselfde drama as jy. Jy bou ’n band met hulle op.”

Verlede jaar in Swede het Henri silwer gewen. ’n Goue medalje in 2013 het na ’n sterk moontlikheid begin lyk…

Maar reeds tydens die Spele van 2011 het die onaangename simptome van ’n vorige donker tyd weer kop begin uitsteek – en die vermoede posgevat dat sy broer se nier ook begin ingee. Terug by die huis moes Henri hoor hy moet weer vir dialise gaan.

“Dis traumaties. Jy’t so baie angs,” vertel Eléna. “Jy’s alleen, want mense weet nie waardeur jy gaan nie. Dan vind jy ook uit wie werklik jou vriende is.”

As sy sien hoe die donker Henri omvou, dwing sy hom om op te staan.

“En dan ry ons fiets! ’n Mens voel sleg, jy voel nie lus om dinge te doen nie. Ek probeer hom uit daardie ding kry. Ons kan normale dinge doen.”

Vandat Henri die eerste keer met nierversaking gediagnoseer is, het hy en Eléna besef jy moet elke geleentheid aangryp.

“Jy weet nie wat môre bring nie,” sê Henri.

“Ons het die laaste tien jaar baie gereis, Suid-Afrika voos gery. Natuurlik sover as wat die dialise dit toelaat, want vakansies moet rondom hospitale beplan word.”

“Die ander groot aanpassing was in Henri se dieet,” sê Eléna. “Sout, wat in byna alle kos voorkom, moes uitgesny word.”

“Vloeistof is die groot probleem vir my liggaam,” voeg Henri by. “Selfs as ek aan sport deel¬neem, moet ek min water drink.” Hy moet ook versigtig wees met vitamiene en minerale, want dit bou op tot gevaarlike vlakke in sy liggaam – maar as sportman het hy dit juis nodig. Die chroniese moeg¬heid is ook iets wat hom onderkry. En hy kry voortdurend koud.

Ja, ons bespreek die dood baie met mekaar, erken Eléna. “Ek dink ons is ook baie nader aan mekaar. Ons doen min dinge nié saam nie, ons is onafskeidbaar.”

Henri glimlag wrang: “Ek wil dit nou nie dramaties laat klink nie, maar om elke dag die dood in die oë te staar is nie die aangenaamste ding nie. My naam is op ’n lys. Ek het al die toetse gedoen. Ek probeer myself nou help.”

Daarom speel hy steeds muurbal een keer ’n week – “al moet ek eintlik nie” – en hy het begin swem én hy hou sy werk as ingenieur vir steenkoolkragstasies vol. Hy het ook vanjaar weer aansoek gedoen om aan die kwalifiserende Spele deel te neem, al het hy vermoed hulle sou hom afkeur omdat hy dialise ondergaan.

“Ek is desondanks Durban toe, net om al ons vriende te sien.” Bygesê, por Eléna hom aan: Hy’t ook ’n muurbal-afrigtingskliniek vir jonges met oorplantings gegee.

“Ek kan wag tot iemand doodgaan. Dit kan tien jaar vat. Of ek kan probeer om iets te doen.”

’n Muurbal-vriend en Eléna het albei toetse laat doen om te bepaal of hulle aan hom ’n nier kan skenk, maar ongelukkig was dit nie moont¬lik nie. Intussen praat hulle met soveel mense moontlik oor orgaanskenking, maar sosiaal is dit nie altyd so maklik nie.

“As jy ’n geselsie wil doodknip, praat hieroor,” sê Eléna. “Die meeste mense weet nie wat om te sê nie. Hulle voel telkens skuldig en benoud.

Selfs as hulle bloot uitvind dat Henri nierversaking het.” Maar as hulle positief is, vra hulle vir meer inligting.

En dis waarop hulle hoop.

“As ons die lys van orgaanskenkers in Suid-Afrika net kan verdubbel, dan is ons hoop al baie beter,” sê Henri. Een orgaanskenker kan immers sewe lewens red, en ’n nierskenker kan, soos Henri se broer, ’n gesonde lewe lei met een nier.

“Jy verstaan wat mense sê as hulle praat van organe wat so skaars soos hoendertande is. Dis ’n understatement.”

Al waarop Henri hoop, is ’n nuwe nier om hom ’n kans te gee om uiteindelik goud te wen…  

*As jy met Henri in aanraking wil kom, e-pos elenavanaswe@gmail.com.

Word ’n orgaanskenker
Om ’n orgaanskenker te word is besonder maklik. Jy hoef bloot dié wens aan nabye familielede oor te dra. Dis egter praktieser om ook as ’n skenker te registreer by die Orgaanskenkerstigting (www.odf.org.za).

Die Spele
Gaan na www.transplantsports.org.za en www.wtg2013.com vir meer oor die Wêreld-oorplantingspele.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-19°C Sunny. Mild. Pta: 5-22°C Sunny. Mild.
Jhb: 5-17°C Sunny. Mild. Bfn: 0-21°C Sunny. Mild.
Dbn: 10-23°C More sun than clouds. Mild. PE: 14-17°C More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Sales Representative – JHBN

Johannesburg
DAV Professional Placement Group
R180 000 Per Year

Senior Institutional Account and Business Development Manager

Johannesburg
DAV Professional Placement Group
R700 000 - R780 000 Per Year

Compliance Specialist – JHBC

Johannesburg
DAV Professional Placement Group
R450 000 Per Year

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe gobii-slimfone vanaf R999!

’n Kamera aan die voor- en agterkant, tweeledige SIM-verrigting en 200MB se GRATIS Cell C-data elke maand vir 12 maande, is maar net ’n paar van die eienskappe van dié slimfone. Kry joune nou! Koop hier.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!