Ons 'Kleenex'-girl

2012-10-02 12:56

Wikipedia reken sy word hoofsaaklik onthou vir The Gods must be Crazy en die Suid-Afrikaanse verhoog se eerste swart-wit-soen, met John Kani in Miss Julie. Binnekort sal iemand dit moet bywerk, want Sandra Prinsloo is besiger as ooit: Sy is aan die bewéég – oor kontinente heen bly gehore in trane en vervoering in haar voetspoor agter.

“Ek is konstant op die pad, soos Moeder Courage met haar wa. Dis deel van my werk, dit maak dit net dubbeld lekker om huis toe te kom na my honde. ’n Maklike lewe is dit nie; ek mis my Weskushuisie, maar ag – die vreugde van optree… ”
 
In Sandra se Victoriaanse huis in Kalkbaai kyk die sitkamer uit oor die see. Die teaterikoon sit in ’n regop stoel: Sy het die afgelope drie maande pynlike ischias (sciatica) gehad, maar die show moet voortgaan: “Ek het soos ’n kind van die pyn gehuil. Ek het gesê julle moet my maar net in rehab inboek as ek terugkom; ek was op Valium, want dis al spierverslapper wat gewerk het.”

Met haar ronde voorkop en oë soos getypoele lyk sy soos ’n waardige besoeker van ’n meer geëvolueerde planeet. Sy lyk ook stralend en gelukkig. Haar drie Labradors kom soek witvoetjie: “Ma se ou stinkies. Moenie aandag gee nie, dan hou hulle nooit op nie. As hier ander mense is, steur hulle hulle glad nie aan my nie.”

Ons praat oor The Sewing Machine, Rachelle Greef se Die Naaimasjien wat so besonder goed reis en nou weer op die Edinburgh-fees vól sale en swymelresensies uitgelok het.

“Ek kon dit nie glo nie. Hennie (van Greunen, regisseur en vertaler) het gesê ’n mens kan vir sewe of nege of twee of geen mense speel, want daar is meer as vierduisend shows op die fees; daar is soveel opwindende stukke vol seks en politiek, grondverskuiwende teater, en hier is ’n ou tannie¬tjie wat sit en nonsens praat met haar naaimasjien. By die openingsaand snik die mense en toe dink ek o, die Engelse het ook harte.”

Die produksie het in die eerste week twee vyfster-resensies gekry. ’n Joernalis van The Guardian het getwiet “rush out to buy tickets for the show”, en toe begin Skotland gons.

Het die Britte haar naam geken? “Glad nie. Dis nou die een land waar The Gods nooit vlam gevat het nie. Hulle het glad nie geweet wie ek is nie. Ek was bang die swaar Afrikaanse aksent sal dalk ’n probleem wees, en die ou dame se rassisme. Daar is baie daaroor geskryf nogal. Ek voel sy het ’n reis afgelê, maar dis moeiliker omdat die gehore daar dit nie soos ons binne ’n sekere konteks sien nie.”

Ná Aardklop kom hulle Kaap toe, Baxter toe, met The Sewing Machine en Pedro Kruger se stuk, Normality, afgewissel. “Ons deel die seisoen, hy speel vyf aande, dan ek vyf aande.” Daarna is hulle genooi vir ’n seisoen in Londen en toer aanstaande jaar deur Engeland. Hulle is selfs Nieu-Seeland toe genooi.

Op Aardklop is Sandra in twee produksies te sien. Van een uiterste na ’n ander speel sy in Oskar en die pienk tannie die rol van ’n tienjarige seun wat aan kanker ly. Sy is die enigste akteur en vertolk al die rolle. Dis ’n Franse stuk wat deur prof. Naòmi Morgan van die Universiteit van die Vrystaat vertaal is. Lara Bye is die regisseur. Die stuk het die Vryfees op loop gehad en twee bekronings losgeslaan.

Sandra se gesig word sag: “Dis magic, ek dink jy sal baie daarvan hou. Daar is die mooiste, mooiste goed daarin. Dis nogal fisiek, want ek moet heeltyd verander van die seuntjie Oskar na Ouma Rosa, na die outjie met die brandwonde, tot die groot vet outjie wat op die Cape Flats grootgeword het, tot Blou Bettie, die dogtertjie wat nie genoeg asem kan kry nie.”

Sy vertel die premis van die stuk is so mooi: “Die seuntjie vind uit hy het net twaalf dae om te leef, dan sê die ouma vir hom, ‘maar jy kan jou hele lewe in twaalf dae leef as jy sê elke dag van jou lewe is eintlik tien jaar’. Dan speel hy sy hele lewe uit, hy raak verlief, hy ‘trou’. How fantastic, to live every day. Dat die lewe nie gemeet word in tyd nie, maar in kwaliteit, al is dit net twaalf besonderse dae.”

As voorbereiding vir die stuk het sy die Rooikruis-kinderhospitaal besoek. “Dis ’n wonderlike ervaring. Die personeel daar is ongelooflik, die kinders is so dapper. Dis verskriklik om al hierdie marsmannetjies
te sien.” Sy sê hulle het teen die sentiment gespeel en dis plek-plek baie snaaks.

“Maar ons raak so gevang deur die stuk, deur die woorde, dan sit en tjank ons, ek en Lara en die verhoogbestuurder, dan sê ons ‘ag nee, wag, laat ons net hieroor kom’. Dit was soos met Die Naaimasjien en meer so, mense kom sê agterna: ‘Ek huil nooit in produksies nie, maar hier het ek my oë uitgehuil.’ Ek gaan nog bekend staan as die Kleenex-girl.”

Sy speel ook op Aardklop die kleurryke teaterpionier Anna Neethling-Pohl – wat haar mentor was – in Liefde, Anna.

“Liewe vader, ja. Sy was my prof op universiteit en ek het teenoor haar gespeel in Germanicus en Maria Stuart. Ek was Maria Stuart, Wilna Snyman speel koningin Elisabeth en Anna speel my bediende. Maar nou moet jy weet ek is nie lank uit universiteit nie en sy was my professor.

“Die eerste dag daar steek sy haar hand op en sê: ‘Mejuffrou Prinsloo, dit is vir my ’n groot eer om u bediende te speel,’ toe dink ek o, hemel, hier kom kak. En sy wás moeilik, maar dit was ongelooflik, sy het die eerste dag gekom en sy het AL haar woorde geken. Daar is Maria Stuart nou op pad skavot toe. Ek is op my knieë en ek bid, in die swart rok en kappie wat Maria Stuart gedra het. Ek bid en die trane loop oor my wange, dan moet ek opstaan en skavot toe stap waar hulle my nou met ’n byl gaan onthoof.

“En op die openingsaand, uit die bloute, dis glad nie in die teks nie, haal Anna ’n groot sakdoek iewers uit haar kostuum te voorskyn en sy dab my wange so en sy sê: ‘’n Koningin huil NIE.’ Sandra lag heerlik.

Liefde, Anna is deur Schalk Schoombie geskryf. Die res van die rolverdeling is Deon Lotz en Gustav Gerdener. “Hennie het vir my gesê ‘met daai twee kan jy oorlog toe gaan, Sandra.’”

Dit het nie altyd so goed gegaan met Sandra nie. “Daar was ’n tyd  toe dit baie stiller was, toe ek meestal regie gedoen het, maar uit die bloute, skielik hier in my sestigerjare, werk ek my vrek. Ek is MAL daaroor om te act.”

Ek wonder of sy al ooit die handdoek wou ingooi.

“Baie. ’n Mens gaan deur daardie stadiums, veral in jou dertigerjare, die kritici is unkind en jy voel niemand hou van jou werk nie, jy is nie goed genoeg nie… Maar nou is dit vir my weer wonderlik om te speel, dis vir my heerlik, ek geniet dit.” Sy reken daar het ’n verandering ingetree in die manier waarop sy haar werk benader: “As dit nie vir my lekker is nie, as dit nie vir my uitdagend is nie, wil ek dit nie doen nie. Die ongeluk is daar kom soveel goeie goed na my toe deesdae, dis vrek moeilik om nee te sê. Omdat ek ouer is, kry ek nou karakterrolle. Op die oomblik is ek nie lus vir regie nie; en het eenvoudig nie tyd nie. Ek stel op die oomblik net belang om te spéél.”

Word toneelspel makliker?

“Maklik is dit nooit nie. Dit word tog op ’n manier makliker omdat dit vir my so joyful is nou. Dis of daardie verskriklike angs weg is. Ek dink ek was in ’n stadium so onseker van myself, dat ek paniekbevange was dat ek nie goed genoeg was nie.

“Die snaakse ding is, toe ek in Bloem open, was ek glad nie bang voor die tyd nie, ek was opgewonde en vol adrenalien, maar nie bang nie. Voorheen was ek so bang dat ek naar was, my maag gewerk het. Ewe skielik het ek besef; maar dit gaan nie oor my nie. Dit gaan oor my werk en wat ek wil deel met die gehoor. Ek gee regtig my beste en as dit nie goed genoeg is nie, jammer; vir my gaan dit daaroor om alles te gee. Dit gaan nou net oor die vreugde om te deel met die gehoor.”

Sy vertel geen twee aande in die teater is dieselfde nie. “Die gehoor is soos ’n ander dier elke aand. Dis die wonderlike ding van teater, daai interaksie met die gehoor. ’n Mens moet soos water wees, vloei. En as ’n gehoor dalk nie soveel reageer nie, moet mens nie dink: ‘o hel, hulle haat my’ nie, jy moet net aanvaar dis anders.

“Dis eintlik ’n wonderlike reaksie as jou gehoor ná die tyd tjoepstil is.”

Ná Potch, vertel sy tevrede, gaan sy vodde wees. Maar rus gaan sy nie. Dan gaan Oskar na die Atterbury-teater in Pretoria en toer verder.

Wat wil sy nog doen?

“Daar is van die ou klassieke rolle waarvoor ek nou gereed is. Daar is uittreksels in hierdie stuk oor Anna Neethling-Pohl uit rolle wat sy gespeel het. Dis nogal ’n tendens deesdae om die klassieke stukke terug te bring. In Edinburgh was daar Macbeth en baie ander. Dis wonderlik inspirerend om internasionale teater te sien, die Russe, die Pole! Daar is tot vyftig akteurs op die verhoog, – o, die luukse – en jy weet hulle het ses maande gerepeteer daaraan. Dan dink jy dis nie reg nie, hoekom wil die regering nie vir ons geld gee vir teater nie, hoekom het ons net twee weke? Ons akteurs is net so goed soos hulle s’n.”

En die silwerdoek?

“Ek is lief vir film, ek is onlangs twee filmrolle aangebied. Een het mooi rolle vir my en Marius Weyers.”

Sandra moet nog gaan woorde leer vir môre se repetisie, al is dit haar verjaarsdag. Haar gesig is rosig in die lig van die son uit die weste. In haar sestigs is sy lieflik, met die jeugdigheid eie aan kreatiewe
entoesiaste.

“Ek is nou ’n weeskind en ek mis my ouers. Daar’s net niemand wat ’n mens so kan vertrou nie. My pa het nog Die Naaimasjien kom kyk, hy kon nie meer goed hoor nie en het net gesê: “Ai my kind, jy lyk nes jou ma.”

Sy lyk terselfdertyd verras en geamuseerd. En dankbaar. Sy lag: “’n Mens is regtig bloeming dankbaar!”  



Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-15°C Rain late. More clouds than sun. Cool. Pta: 3-21°C Sunny. Mild.
Jhb: 5-14°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 0-10°C Sunny. Cool.
Dbn: 13-19°C More sun than clouds. Cool. PE: 11-17°C Showery. More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!