Oor die bytjies en… worsies
2012-12-16 00:04
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Praatjies oor die bytjies en blommetjies was tot onlangs net ’n vae toekomsgedagte. Dít het baie vinnig verander toe ons ná ’n naweek weg die twee woelige worshonde op die stoep gewaar dat hulle vassit. Ja, vassit. Van jy-weet-wat.
Met oë wit van verontwaardiging maal hulle krom voorpote op die stoep se non-slip teëls om verlos te word van die agterlywe se skande.
“Mááá, kom kyk hier!” skreeu Mieke voor ek die stoepgordyne paniekerig toepluk teen dié grafiese toneel. Te laat. Klaar gesien.
“Sy pienk… ” begin Mieke voor ek haar doodpraat: “Mieke, gaan pak jou kamer reg en tap sommer vir julle badwater in.”
“Maar Pappa, wat gaan aan met die honde? Is hulle oukei? Ek wil net seker maak. Wat is fout met hulle? Hulle kry seer, Pappa.”
“Maak oop die gordyne,” sê Lana.
Ek dog ek sterf tien dode en skud my kop woordeloos totdat ek voel hoe klap my ken teen my sleutelbene, net soos daardie hondjie in die agterruit van Koos Das se Pulsar.
“Dit is sommer nou die regte tyd om met hulle te praat.”
“Hulle is te jonk,” protesteer ek floutjies en blosend toe die gordyne weer oopgaan.
“Wat gaan aan met sy piepie?” vra Lila. “Hoe het dit gebeur?” wil Mieke weet. “Ek gaan brood koop,” roep ek oor my skouer.
Ná byna ’n uur sluip ek terug.
“Hoe’t dit gegaan?” vra ek benoud.
“Hulle het vinnig belangstelling verloor, maar darem die algemene strekking verstaan.” Lana is gelate en ek verslae.
“Ek het mooi verduidelik dat dié goed privaat is en dat ’n mens nie daaroor praat nie,” paai Lana my.
Die Maandag toe Lila by haar juffrou kom, kondig sy uitasem aan: “Ons gaan baba-hondjies hê, want ons worshonde het vasgesit!”
Jacques Theunissen is ’n leser, oud-joernalis en sakeman.