Op misdaad se spoor

2012-10-17 13:43

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Vir ’n dag en twee nagte het misdaadskrywer Karin Brynard haar koeëlvaste onderbaadjie vasgegord en is sy saam met die manne van Tracker Soweto en Johannesburg in om die ánder kant van misdaad te ervaar. Sy het meer gekry as waarop sy gereken het…

"Die bliksems skiet op my! Hei!! Julle moet kom help... ”

Die selfoon kras en skuur, asof dit op die grond val.

“Piet!” gil ek. “Piet, hoor jy ons?” Maar die lyn is dood.

“Bel hom terug,” roep Stan vir my en trap die petrolpedaal plat.

Ek sit gevries. Voel soos Rooikappie in die storie van die Drie Varkies. Niemand het iets gesê van ’n skietery nie?

Ek doen net navorsing, verdomp. Vir my nuwe misdaadboek. Ek ry maar net vir ’n dag saam met die ouens van ’n opsporingsmaatskappy in Johannesburg en Soweto. Kyk hoe hulle kardiewe vang, gesteelde karre terugkry. Ek het gedag ek gaan hoogstens sien hoe lyk een van die berugte chopshops waar die sindikate hulle buit uitmekaarhaal of oorverf of wat ook al. Maar ’n skíétery...?

“Bel!” roep Stan my terug uit my skrik. “Ons moet weet waar hy is!” Die motorenjin brul soos hy sukkel om spoed te kry in die besige verkeer van Troyeville, ’n voorstad van Johannesburg wat deesdae kleurryk krioel van smouse en mense uit vreemde Afrika-lande. 

Stan lê op sy toeter en skiet om karre en busse verby, reg in die pad van aankomende verkeer in. By tye moet hy skerp briek om ’n botsing te voorkom. My hande bewe so, ek kry nie die selfoon gewerk nie.

“Gee hier,” roep Stan, druk knoppe terwyl hy soos ’n besetene om en verby voetgangers en smousstalletjies vleg.

Soms klim ons oor ’n sypaadjie, mense wat in alle rigtings spat.

“Kry vir my Pieter Kruger se koördinate,” roep hy in die foon in sodra iemand antwoord. “Hy’s onder vuur! Stuur hulp! Hy’s iewers in Soweto, oostekant. Ons is nog te ver – Troyeville. Ek herhaal: Piet Kruger is onder vuur!” Hy druk die lyn dood en bel dadelik weer.

“Piet! Is jy OK? Wát?! Piet, kalm my ou. Ek verstaan niks wat jy sê… Piet!” Hy swets en gooi die foon vir my. “Bel jy!”

Een van die monitors op die kar se paneelbord raak aan’t raas. ’n Vrouestem begin kodes afratel. Ek sit steeds soos roadkill net voor die trefslag.?Die foon lui in my hand. Piet, sien ek en kry my wind terug.

“Jou koördinate, Piet. Ek en Stan is op pad na jou toe!”Hy lees vir my syfers en nommers, ek herhaal hardop en Stan tik dit in op die GPS.

Die groen-oog Tracker-monitor op die paneelbord begin dadelik piep en ’n radio langsaan raak raserig aan’t kodes uitspu. Lexus LX 570, silver. Alfa, Bravo Pappa five seven eight zero

Maar niks van hierdie senuterging bring vir Stan Davis van stryk nie. Hy het sy voet in die hoek van die klein swart Gholf GTI waarin ons ry, ’n verbete uitdrukking op sy gesig.

Twee weke gelede het ek hierdie toneel sit en bedink in die veiligheid van my studeerkamer op Stellenbosch. Maar die skrywery wou nie vlot nie. Ek sou moes gaan uitvind daar waar dit gebeur: Johannesburg, of beter nog, Soweto.

Is jy mal, was my man se reaksie. En my diepbejaarde ma het gewaarsku ek kom nog in my eie doodskis terug huis toe.

Ek het begin rondbel, die Gautengse polisie genader. Maar dié was besig met herorganiseer en die aanstel van ’n nuwe provinsiale kommissaris. Ek is van bakboord na stuurboord rondgestuur.

Toe bel ek private veiligheidsfirmas, waarvan net een die moeite gedoen het om met my te praat: Tracker. Want die skakelbeampte, Gareth Crocker, is self ’n skrywer. Sy boek, Finding Jack, is ’n blitsverkoper in Amerika.

Gareth reël dat ek die baas van Tracker se taktiese eenheid ontmoet, Leon Bothma. Ons praat lank, ek vra na goed soos chopshops en motorkapingskartelle en sindikate en hoe firmas soos Tracker nou eintlik werk.
Uiteindelik sê Leon: “Jy sal dalk maar self moet kom kyk.”

So beland ek met my kamera, ’n bandmasjien en notaboek in Johannesburg vir ’n dag en twee nagte se “verkenning” saam met die manne van Tracker. Ek moet deurgaans ’n koeëlvaste baadjie dra, hoor ek, en ’n vrywaringsvorm teken. Min het ek geweet waarvoor ek in is…

Toe Stan weer skree ek moet bel, soek ek die nommer vir Stroppie Grobbelaar, oud-polisieman met twintig jaar se ondervinding onder die belt en jongste lid van Tracker se uitgebreide span wat gesteelde voertuie terugvind in Gauteng. Stroppie antwoord dadelik, luister na my paniek. “Ek’s in Orlando-Oos,” roep hy, “nader as julle. Sê vir Stan hy moet sy gat roer!”

Die lyn gaan dood en ek gryp na vashouplek, want ons is los uit die ergste verkeer en Stan kies rasend koers highway toe, waar ek sien die spoedmeter neig verby 160. Ek knyp my oë toe, klou vir ’n vale hel en hoop ek sien my ma weer. Aspirant-skrywer tragies dood tydens navorsing, dink ek al aan die koerantopskrifte.

Dan is ons skielik van die highway af en weer tussen taxi’s, lorries en donkiewaens in. Stan ry nou hoofsaaklik in die baan vir aankomende verkeer, laasgenoemde wat skerp uitswaai vir ons. As ons ’n groot Putcobus verbyjaag, trek daar skielik ’n reuse- geel Catterpillar-stootskraper oor die pad. Stan gaan staan met albei voete op die remme. Alles wat op die agtersitplek gelê het, vlieg vorentoe: leë Coke-bottels, Wimpy-kardoese, pakkies batterye en ekstra kassette vir my bandmasjien.

Die drywer in die Catterpillar se oë is wit van rondgeit, sien ek, maar daar’s nie tyd nie. Stan ry sommer oor ’n stuk rowwe veld om óm die ou grote te kom. Weerskante van ons begin ek die matchbox-huisies van Soweto in ’n waas van spoed gewaar. Dan is ons weer in oop veld –  ’n nuwe woonbuurt wat uitgelê word teenaan ’n ou mynhoop.

Stan briek, kom met skreeuende bande op die vars teer tot stilstand en val uit die kar uit. “Jy bly nét hier!” beveel hy, sy pistool klaar uit en oorgehaal. Maar hy hoef nie te smeek nie. Ek sit hoeka al in ’n bondel getrek in die passasiersvoetholte.

’n Skoot gaan af. Maar dis ver. Ek hoor dit byna nie bo die geraas van die polisieradio en die monitors op die paneelbord nie. Nog ’n skoot.

Iewers hoor ek kinders gil. Ek loer bo die paneelbord uit, sien ’n groepie jong seuntjies wat skree en in ’n rigting wys. Ek kyk, sien ’n figuur wat teen die spierwit mynhoop uithardloop. Dis ver, maar dis beslis nie Piet nie.

Dis iemand met ’n pistool in die hand, jonk – ’n tiener. En hy hol dat hy kraak, handeviervoet by tye.

Naby ons staan Piet se kar, die deur oop. Maar daar’s geen teken van Piet nie.

Stan het intussen ’n lang geweer uit die kattebak gehaal. ’n R5, vermoed ek. Hy begin koes-koes deur lang grasse draf in die rigting van ’n hoë muur, waaragter die mynhoop sit.?Dit raak doodstil. Selfs die opgewonde kinders is stil.

Dan verskyn iemand op die muur. Piet, sien ek verlig. Stan is nou by hom en wip ook op die byna twee meter hoë muur – wat die mynhoop van die nuwe buurt skei. Hulle gaan sit saam, steek sigarette op. Kyk hoe die son rooi begin aand aanmaak in die wit mynhoopsand.

Stroppie sluit hom by ons aan. En dan is daar twee speurders van Orlando-Oos se polisiekantoor. Ook Leon daag op.

Piet se hande bewe van die adrenalien. Die jagbaadjie wat hy dra, spog met twee koeëlgate – waar een van die vlugtendes se koeëls rakelings langs sy ribbes verby is.

Hy vertel hoe hy ’n luukse SUV met ’n jong snuiter agter die wiel in Dobsonville opgemerk het. Die voertuig was splinternuut en die bestuurder het skaars 14 jaar oud gelyk. By hom in die kar was nog twee seuns. Piet het hulle doodluiters begin agtervolg en hulle registrasienommer ingebel – wat toe blyk dié van ’n pasgeroofde kar te wees.

Dit het ’n jaagtog afgegee, van oos na wes deur Soweto se noordelike gebiede: deur Meadowlands tot in Orlando-Oos en anderkant uit. Waar hy die kêrels vir ’n kort rukkie verloor het. Toe hy hulle weer gewaar, het hulle hier gestaan, druk besig om die Tracker-sein-apparaat onder die kar se paneelbord te probeer uitgrawe. Twee van die jong manne het buite die kar gestaan. En toe hulle Piet sien, het hulle laat spaander en die een agter die stuur het weggejaag.

“Maar jy kan maar neerskryf,” sê Leon vir my, “kry, gaan ons daardie kar kry. En ook nie wanneer nie. Nog voor hierdie dag uit is!”

Intussen het ’n nuwe call-out gekom: ’n Gesteelde wit Toyota, beter bekend as ’n Kentucky Rounder. Oor hy so volop is (maak hom bykans onsigbaar) en so blitsig ge-chop kan word. Hierdie keer trap
ons die diewe vas. Die polisie is dadelik daar en die manne word in hegtenis geneem.

Laatnag stop ons by ’n petrolstasie op die rand van Meadowlands-Wes. ’n Fyn vrou in polisiedrag trek my aandag: kaptein Patrys Rautenbach van die Wesrandse Polisie, stel sy haarself voor. Sy’t twee gevangenes agter in die polisiebakkie, wat sy by ’n sjebeen gaan arresteer het. Sy vertel my haar liessenings is al twee keer afgeskop tydens moeilike arrestasies. Maar ook dat sy al te veel kollegas begrawe het wat deur “skuim van die aarde” doodgemaak is…

’n Paar dae later sien ek weer vir Patrys. Dié slag is sy in civvies en sy gaan wys my haar wêreld – die sjebeens aan die Wesrand, die kêrels wat haar informante is. Sy word uitgeroep na ’n toneel waar ’n koperdraad-dief blykbaar deur mynsekuriteit doodgeskiet is, ’n week gelede al.

Waar ons tussen die droë bossies op die damwal staan en afkyk, kan ons die lyk net-net sien in die giftige geel mynwater, gesig na onder, drywend. Die lyk moes eers onder die water in verdwyn het, verduidelik sy, “en nou ge‘pop’ het” – oftewel geswel en besig om te ontbind.

Ek voel naar. Die omgewing is troosteloos. Maar Patrys en haar kollegas is die ene saaklikheid – vir haar en die duisende ander soos sy in die Polisie en ander wetstoepassingorganisasies is dit net nog ’n werkdag.

Die vliegtuig terug Kaap toe maak ’n draai oor die groot westelike dele van Johannesburg en Soweto. Ek sien die talle mynhope uit die lug, dink aan my ervarings tussen daardie einste mynhope van die afgelope dae. Aan mense soos Patrys Rautenbach. En Stan Davis en Stroppie Grobbelaar en Piet Kruger. Hulle wat die buffer moet maak tussen ons gewone siele en ’n oormag misdaad in hierdie land.

Misdaad waaroor mense soos ék weer stories versin – veilig terug in die kokon van my knus kantoor. Van waar ek begin skryf aan my tweede roman* – ’n verhaal oor gewelddadigheid teenoor twee Suid-Afrikaanse vroue, die een ryk en van die Eikestad; die ander ’n Johannesburger wat in Soweto die slagoffer van ’n kaping word. En die lewe van die wetstoepassers wat die misdadigers moet aankeer.

Ek behou kontak met hulle, bel kort-kort om feite te tjek. Onlangs kry ek ’n SMS-foto. Dis Piet, sy neus bebloed en windskeef. ’n Verdagte karrower het hom in die gesig “gepot” met ’n baksteen. Maar hy oorleef, spot hy.

Vir nou.

* Onse Vaders (Tafelberg, R225) is van 20 Oktober af op die rak.


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-19°C Sunny. Mild. Pta: 5-22°C Sunny. Mild.
Jhb: 5-17°C Sunny. Mild. Bfn: 0-21°C Sunny. Mild.
Dbn: 10-23°C More sun than clouds. Mild. PE: 14-17°C More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe gobii-slimfone vanaf R999!

’n Kamera aan die voor- en agterkant, tweeledige SIM-verrigting en 200MB se GRATIS Cell C-data elke maand vir 12 maande, is maar net ’n paar van die eienskappe van dié slimfone. Kry joune nou! Koop hier.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!