Peter & Nujak vat die spoor kuslangs

2012-11-11 23:03

Vir Peter Butler is daar min dinge so lekker as om met sy honde langs die see te stap. Maar deesdae word hy betaal om dit te doen as aanbieder  van die gewilde Shoreline op SABC3, wat nou ’n tweede reeks beleef.

Hy wag eers vir sy hond om klaar te snuif aan die lamppaal voordat die gryskopman flink oor die straat stap, sy hand gelig in ’n groet.

Peter Butler lyk soos net nog ’n anonieme Kapenaar wat ’n entjie op die Seepunt-promenade kom loop het. Maar as anker-aanbieder van Shoreline, die gewilde SABC3-reeks oor Suid-Afrika se kuslyn, is hy ’n bekende gesig.

Hý en sy medester, die wit-en-bruin Jack Russell-kruising, Nujak (uitgespreek “New Jack”)…

Buite loei die Suidoos geniepsig. Die plan was om Peter en Nujak teen vroegskemer op die strand af te neem, maar die fotograaf bel: Die wind is te erg, die foto’s sal moet wag.

Peter aanvaar dit met ’n skouerophaal. Hy is immers gewoond daaraan om die natuur in ag te neem met Shoreline, amper soos ’n onvoorspelbare, nukkerige kollega. “Ons moes in ’n stadium by Pringlebaai verfilm, en daar kom die reën in emmers neer,” vertel hy. “Ons het maar geskiet. Jy werk met wat jy het.”

Die eerste reeks is in 2009 uitgesaai en met twee Suid-Afrikaanse Film- en Televisie-toekennings bekroon. Etlike oorsese kanale het dit opgeraap, onder meer in Kanada, Korea, Engeland, Frankryk en Duitsland. Peter beskryf die reeks as “ons pragtige kuslyn in hoë definisie”.

Die inhoud is gesaghebbend. Die medeaanbieders is almal kundiges: Gavin Whitelaw spesialiseer in argeologie, Eleanor Hutchings is ’n marinebioloog en Nomalanga Mkhize ’n geskiedkundige. “In dié reeks kan ons ons geskiedenis, ons stories, ongesensor vertel. Destyds het die geskiedenisboeke in 1652 met Jan van Riebeeck begin, die swart helde en krygers is as die booswigte afgemaak en skaars genoem. Nou weet ons van beter: Afrika is waar die mens se lewe begin het.” 

Die reeks verenig mense, glo hy.

“Dis ’n manier om begrip tussen mense te bevorder. Kan jy aan ’n beter manier dink as deur middel van ons kusgebiede, ons gemeen-skaplike erfenis?”

Die groot beloning vir hom is juis die mense wat hy langs die pad ontmoet.

“Vat die Weskus. Daardie plek is die hoof-stad van gasvryheid.”

Van Britse kus tot SA kus


Shoreline is geskoei op die BBC-reeks Coast, oor die Britse kuslyn, hoor ek later by Jaco Loubser, die vervaardiger. Peter was hulle eerste keuse as anker-aanbieder, sê hy.

“Ons het iemand gesoek met ’n sterk, wel-luidende stem. En ons het geweet hy is absoluut professioneel.”

Peter, ’n Kapenaar wat in daardie stadium in Pretoria gewerk het, “het alles soos ’n warm patat gelos”.

“Ek is maar ’n Cape hothouse flower, ek droog so ’n bietjie uit in die Noorde,” sê hy.

Coast se aanbieder het altyd met sy sambreel rondgeloop, as ’n soort kenmerk van die program. Plaaslik is op ’n hond besluit. Toe bel Jaco Peter en vra: “Jy’t nie dalk ’n hond nie?”

En dis waar Nujak in die prentjie gekom het.

“Ek het hom so sewe jaar gelede gekry, toe ek my vorige hond moes laat uitsit omdat sy so oud was. Toe ek haar die dag invat, kom daar iemand aan met ’n boks vol siek hondjies. Ek het enetjie gevat, die basterbrakkie wat so ’n bietjie Jack Russell in hom het – vandaar sy naam. (Daar was toe nooit ’n “ou Jack” nie!)

“Ek was van plan om hom gesond te dokter en dan vir iemand te gee, maar toe die dag kom, kon ek nie afskeid neem nie.” Ook maar goed, want Nujak het een van die sterre van die reeks geword.

“Ek en Nujak – veral Nujak! – word orals herken. Hy is ’n absolute natural voor die kamera, so gehoorsaam.”

(Inderdaad. Vir die duur van ons onderhoud sit hy doodrustig op sy baas se skoot. Nou en dan rus hy sy koppie op die tafel om ’n uiltjie te knip – personderhoude kan vervelig wees… )

Dis duidelik dat die program dié twee soos ’n handskoen pas. Nujak is gelukkig, want hy is aan Peter se sy. En Peter is gelukkig, want die dokumentêre program is sy gunsteling-genre. As aanbieder kan hy sy eie kennis, ervaring, selfs sy emosies inbring. En daar is plek vir improvisasie, soos toe hulle aan die Weskus verfilm het, gehoor het van die kreefloop by Elandsbaai, en alles net so gelos en gejaag het om die gebeurtenis op kamera te gaan vasvang. 

Vroeër vanjaar het Peter sy vyftigste verjaardag in ’n vlermuisgrot in die De Hoop-natuurreservaat deurgebring – natuurlik vir Shoreline. Dis nie almal se idee van ’n partytjie nie, maar Peter was in sy element.

“Die grot is vol hoefyster-vlermuise – slim en oulik, met klein, skerp tandjies. Dit was  wonderlik.”

Veelsydig bedrywig


Peter se eerste ervaring van formele teater was op skool in Bridgetown, Athlone, toe hy ’n rol gekry het in Twelfth Night onder regie van Clive en Denise Newman. Dis by hulle Impact Theatre Group, asook ná skool by die destydse Ruimte-teater van Rob Amato in Kaapstad, waar sy opleiding begin het.

“Ek het nooit formele opleiding gehad nie – daardie ervaring was die beste leerskool waar-voor ek kon vra.”

Sedertdien – vir die afgelope 32 jaar – het hy homself bewys as sterk verhoogakteur. Hy is ook stemafrigter, doen radiowerk en is bekend vir sy TV-rolle, veral as Lionel in 7de Laan, “die gawe apteker” wat in 2002 Charmaine (Vinette Ebrahim) se hart gesteel het. Hy is ook gereeld op die stel van Amerikaanse rolprente wat plaaslik verfilm word.

Scorpion King, Dusk till Dawn 3, onlangs Mercenary for Justice – saam met daardie bekende aksieheld, wat is sy naam nou weer… ”

Van Damme, Stallone?

“Nee man, daardie dikkerige ou… Steven Seagal! Hulle gebruik net sy kop en skouers in die fliek. As sy lyf gewys word, is dit ’n body double, omdat hy so groot is. En as jy in ’n toneel saam met hom is, dan praat jy met die lug, of ’n instaan-akteur. Seagal was nie eintlik baie op stel nie… ”

In dié prente is Peter gereeld die baddie. Moeilik om te glo, want deur die jare het hy heelwat klassieke teaterrolle, veral Shakespeare-karakters, vertolk. Een van sy gunstelinge bly die onnutsige Puck in A Midsummer Night’s Dream by Maynardville in 1995.

Hy het ook ’n twee jaar lange internskap by die Globe-teater in Londen agter die blad. Dis waarskynlik waar sy Engels die afgeronde, “Shakespeareaanse” toon gekry het.

Maar dié stem verwar mense. Hulle weet nie hoe om hom te plaas nie: “Mense is behep daarmee dat jy moet klink soos jy lyk!”

Wanneer hy nie op stel of op reis is nie, woon hy in Eersterivier in die Kaap saam met ’n hele paar honde (Nujak het ’n maat en ’n paar nasate gekry) en sy drie kinders. Dis vir hom heerlik om sy dogter, Buddy-Bo (27), en seuns, Dane (24) en Judd (21), in die huis te hê.

“Dis die een ding wat ek vreeslik gemis het met my egskeiding so 18 jaar gelede van Mandy, hulle ma – dis vir my belangrik om tyd saam met my kinders deur te bring. Hulle is my ankers.” Hy het ook vanjaar oupa geword en spog, tipies, lekker met sy kleinseun, die “slim, lewendige en mooi” klein Riley Connor.

Die gesprek word onderbreek deur sy motor-alarm oorkant die straat. Die Suidooster maak moles. Peter spring op, met Nujak natuurlik op sy hakke. ’n Nuuskierige man wil weet: Wie’s dié man? En sê dan: “Shoreline?
My ouers is gaande daaroor!”

Terug by die tafel glimlag Peter ingenome.

“Dis ongelooflik hoe mense reageer. Hulle vra, al hierdie plekke wat jy besoek, wáár is dit? Dan sê ek, dis dáár, julle moet net gaan!”

Coast het agt seisoene beleef… Sien hy kans vir nog? “Daar is sprake van ’n derde reeks, ons sal sien,” sê hy. “Daar is óórgenoeg materiaal. Hoe meer jy uitvind, hoe minder weet jy. Hoe meer jy sien, hoe meer besef jy hoe baie daar is om nog ontdek te word.”  

PETER SE SPORE…


Dit verg baie werk om ’n wêreldklasprogram soos Shoreline te skep. Dis tyd (nege maande se filmwerk) en baie moeite (bykans 65 000 km op pad, dít vir ’n kuslyn van 2 800 km).

Vervaardiger Jaco Loubser sê dis nie danksy ’n reuse-begroting dat Shoreline so goed lyk nie. Hulle het eerder besluit om geld te belê in dinge wat die visuele aanbod sal versterk.

“Ons gebruik ’n beweegkamera (steadycam) wat saam met die aanbieders kan beweeg, en vir die lugskote ’n peperduur Cineflex-kamera. Dis baie skaars in Suid-Afrika en die beste keuse vir lugfotografie, maar jy moet dit saam met ’n helikopter en vlieënier huur… ”

Vir die tweede reeks het hulle op onderwater-tonele gefokus: om vreemde diertjies soos kreef-larwes en seekatjies “so groot soos vuurhoutjie-koppies” vas te vang. Alles deel van hulle missie om ’n “epiese ontdekkingsreis” te bied, om die kyker bekend te stel aan “ons ryk geskiedenis, ongelooflike landskappe en oorvloedige kuslewe”.



* Shoreline word Sondae om 18:00 op SABC3 uitgesaai.


Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 17-24°C Sunny. Mild. Pta: 11-26°C Sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 10-21°C Sunny. Mild. Bfn: 8-25°C Mostly sunny. Mild.
Dbn: 17-28°C More sun than clouds. Warm. PE: 15-22°C Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Gewilde nuwe flieks

Frozen, The Hobbit: The Desolation of Smaug, Thor: The Dark World, Leon Schuster: Schuks! Your Country Needs You en nog baie meer. Koop nou!

25% afslag op topverkoperboeke!

The Real Meal Revolution van Tim Noakes, Jeffrey Archer se Be Careful What You Wish For, Man’s Search for Meaning van Victor E. Frankl en nog baie meer titels. Koop nou!

Baie eiers in een mandjie!

Speletjie-pakkette: 2 Super Hits-speletjies vir R99, 3 Disney-speletjies vir R99 en nog meer + eksklusiewe pakkette vir toebehore – slegs beskikbaar op kalahari.com. Terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Tot 30% afslag op toestelle & huisware

Bespaar tot 30% op toestelle en huisware dié Paasfees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou.

Storieman Omnibus 6

Storieman 6 van Leon Rousseau. Beskikbaar 30 April. Plaas jou voorafbestelling nou!

gobii se 7” Kleur LCD e-leser nou R399

Kry kalahari.com se topverkoperproduk vir slegs R399 en kry gratis e-boekkoopbewyse ter waarde van R120. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!