Plooysburg hou basaar
2010-08-28 15:12
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Winter is kuiertyd op ’n skaapplaas net duskant die Karoo. ’n Verposing van die Groot Gejaag om diep dinge by lamplig te bedink of in die donker vlakte die ligspel van sterre te bekyk; om bittere koue met ’n groot bottel sjerrie te besweer en warm water vir liggaam en gees te maak in ’n donkie van ouds. Dit is tot-jou-sinne-kom-tyd.
So denkend en drinkend leer ons dan ook vir Plooysburg ken. ’n Mens ry lank en stadig op ’n wit kalkpad na ’n plek regs van die N12 op pad Kaap toe. Dis min of meer ’n kolletjie op die landkaart van die Noord-Kaapse graslande tussen Kimberley en Douglas, Belmont en Schmidtsdrift vasgelê. Die woonstreek van pionier-veeboere sedert bykans twee eeue tevore.
Weinig mense weet van die plek met sy geroeste naambord, polisiestasie, klein winkeltjie, enkele huise en ’n begraafplaas so 70 laaste rusplekke sterk. Verkeerstekens wat jou waarsku om 60 km/h te ry en vir kinders te pasop. Dit is skaars groot genoeg om ’n dorp genoem te word en het sy bestaan aan die netjiese kerkie en saal te danke. Dit word baie stil en rustig in die vou van ’n Karoo-berg gekoester.
Maar kom Sondag, bewe Plooysburg van die sowat 100 NG lidmate uit die ontvolkte platteland wat kom laer trek. Die mense se lewe hier is vasgevang in die stene van hul kerk; dit is sy sement wat die gemeenskap aanmekaar bind. En een maal per jaar, nou al vir 90 jaar lank, raak stadsjapies van so ver as Kimberley, Bloemfontein en selfs Johannesburg saam met hulle gaande om hier kerkbasaar te kom hou. ’n Seisoenale winterfees wat die hartslag van die gemeente is.
Dit is ’n tipiese kerkbasaar met drie geslagte vroue wat saam pannekoek bak, koeke so mooi soos in enige tuisnywerheid, ’n tombolatafel, poeding met room en vla, pampoene van alle soorte en kleure, kerrie en rys, selfs afval. En vleispotte soos selfs Egipte waarskynlik nog nie gesien het nie…
Die boere, met harde hande en sonspoorlyne diep gegroef in hul gesigte, stook ure lank ’n massiewe vuur om die lekkerste, sappigste sosaties, wors en skaaptjoppies te braai in ’n knyprooster wat so swaar gelaai is dat dit gróót manne vat om hom om te draai.
Binne die saal is ’n slaghuis uit die hemel ingerig met enigiets tussen 5 500 en 6 000 kg vleis, eers te betree om 09:00 ná amptelike skriflesing en gebed en orde-reëlings. Daar is skaapvleis in enige formaat, wildsvleis wat jou nooi om biltonge te sny, nekke en tonge en afval, harslag en niertjies, stapels sosaties en ribbetjies, worse met tiemie en koljander gemaak – elk met sy plaashandelsmerk – beesboude wat soos wafferse akteurs op die verhoog hul buiging maak. Alles veilig en met inagneming van gesondsregulasies deur ’n slagplaas hanteer, hierdie liefdegawes van man en muis. ’n Mens kan jouself nie help om hier te koop asof dit vir die laaste Avondmaal is nie.
Die basaar-houery is vroeg reeds geëien as ’n belangrike manier waarop die moedige klein gemeenskap kan voortbeur om ondanks geldelike druk die welsyn van kerk en gemeente te verseker. En om die verantwoordelikhede van ’n munisipaliteit soos waterverskaffing, elektrisiteit, instandhouding van paaie en vullisverwydering te hanteer. En dan nog ’n predikant, koster en orreliste te betaal.
Daarom het boere planne gemaak om in 1956 – dieselfde dekade waartydens ’n KJV-tak hier gestig is en die kelkies naas die beker diens by nagmaal begin doen het – ’n fonds vir die bou van ’n saal te begin, aangevul deur onder meer die aanbied van vrolike konserte.
Totdat daar ’n hele kompleks gestaan het wat die basaar in sy volle glorie kon huisves.
Plooysburg was aanvanklik ’n gemeente binne die gemeente van Dutoitspan wat in die 1880’s nog onder ’n bokseil en op ’n misvloer goedgunstiglik op die plaas van ene Cornelius Wilhelmus du Plooy kerk gehou het.
Die plaas Du Plooysburg, wat uit twee dele bestaan het, is later deur Abraham Johannes Jacobus du Plooy gekoop, wat dit op sy beurt weer in 1905 aan Hendrik Francois Möller verkoop het.
In 1911, volgens ’n halfeeu-gedenkblad, het die weduwee Jacoba Johanna Sophia Möller “out of feelings of charity, love and goodwill” die twee stukke grond aan die kerkraad van die NG kerk Dutoitspan geskenk. Dit was egter met die voorwaarde dat die grond op die naam van die kerkraad van die wyk Plooysburg oorgedra moet word sodra dié wyk tot ’n selfstandige gemeente verklaar sou word.
Dié voorwaarde is nagekom en volgens die skenking mog die grond nie verpand of vervreem word nie en moes dit altyd behoue bly vir die gebruik van die lidmate van die NG kerk wat in die wyk Plooysburg sou woon.
Omdat so ’n serwituut betreklike geldelike las op die gemeente sou plaas, is daar spoedig met weduwee Möller onderhandel om die transportakte te verander sodat die plek uiteindelik dorpstatus kan verkry, maar in 1913 is op ’n kerkraadsvergadering gerapporteer dat: “De oude moeder ziet geen kans om servituut op transport af te nemen of te veranderen.”
Hoewel die serwituut later deur ’n Hooggeregshofsaak aangepas is, kon Plooysburg nooit volledig ’n dorp word nie en die instandhouding van Plooysburg het sedertdien op die kerkraad berus.
En dit doen dié op-en-wakker spannetjie met oorgawe.
Die terrein is in hierdie droë wêreld mooi beplant en die kerk is gerestoureer. Twee deftige grafte van voormalige dominees hou mekaar geselskap by die ingang, getrou aan Skepper en Saak tot die bitter einde toe.
’n Kort stappie daarvandaan staan die nuwe pastorie naas die ou pastorie en nog ’n entjie verder die klein begraafplaas in die skadus van die sipresse. Die ouer grafte getuig van dood en swaarkry in dié ongenaakbare wêreld: die Anglo-Boere-oorlog, die groot griep, die depressiejare. Een kindergraf is hier, in die wye en dorre vlakte ver van groot water, versier met vergane alikreukelskulpe, hul patrone afgeëts in die sement om koel seelug te gedenk.
En as ’n mens die kalkpad aanpak grootpad se kant toe, met ’n wavrag vol vleis in die kattebak en warm herinne-ringe aan gasvryheid en lekker gesels in die hart, bekruip ’n vreemde nostalgie jou so tussendeur die stofwolke en aandskemering.
Dit is my soort mense hierdie. Plekke soos hierdie is waar die meeste van ons se wortels vandaan kom. Iewers in hierdie wilde en wye wêreld lê van ons voorsate se beendere...