RESEP: EIERVRUGROLLETJIES met halloumi
2013-02-02 23:25
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
GENOEG VIR 4
BEREIDINGSTYD 10 MINUTE
GAARMAAKTYD 55 MINUTE
WYNWENK
Die wynkenners van die wynplaas Jordan buite Stellenbosch sê hulle vrugtige Real McCoy 2011 Riesling (R78) is net reg by dié gereg.
BESTANDDELE
410 g-blik gekapte tamaties, enige geur
60 ml olyfolie
sout en peper
2 middelslag-eiervrugte
60 ml tahini*
1 groot of 2 middelslag rooi soetrissies, ontpit
200 g halloumi
50 g roketblare
60 ml basiliepesto
60 ml broodkrummels of gerasperde parmesaan, of albei
* Tahini is ’n sous gemaak van sesamsade en algemeen beskikbaar.
AANWYSINGS
1 Verhit die oond tot 200 °C en smeer ’n bakplaat liggies.
2 Gooi die blikkie tamaties en 45 ml olyfolie in ’n oondvaste bak en hou eenkant.
3 Sny die eiervrug in die lengte in lang, dun skywe.
4 Verf die eiervrugskywe liggies aan albei kante met die orige olyfolie. Pak op ’n bakplaat en rooster vir sowat 15 minute in die oond tot goudbruin.
5 Haal uit en laat afkoel, maar los die oond aan.
6 Verf een kant van elke sny eiervrug met tahini.
7 Sny die soetrissie en halloumi in dun repies. 8 Sit ’n paar repies soet¬rissie en halloumi en ’n paar roketblare dwars oor die smal punt van ’n skyf eiervrug en skep ’n bietjie pesto by. 9 Rol die eiervrugskywe met vulsel op en pak die rolletjies in die oondbak met die tamatie.
10 Strooi broodkrummels of parmesaan oor en bak vir 35 tot 40 minute tot goudbruin.