Resep: Appelkoek met karamelsous
2012-12-03 05:34
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Deur Barbara Joubert, Kosredakteur van Sarie Kos.
Appelkoek met karamelsous
GENOEG VIR 6 - 8
BAKTYD SO 1 UUR
BEREIDINGSTYD 75 MINUTE
Dié heerlike klam koek met karamelsous en baba-toffieappeltjies is ideaal vir die feestyd. Dit lyk moeiliker as wat dit is – probeer dit gerus!
Bestanddele
Koek
240 g (430 ml) bruismeel
’n knippie sout
120 g (130 ml) botter,
in blokkies gesny
120 g (150 ml) suiker
2 appels, geskil en in klein
blokkies gesny
180 g melksjokolade, in klein
blokkies gesny
1 eier
2,5 ml vanieljegeursel
90 ml melk
Karamelsous
1 blik (397 g) kondensmelk
30 ml gouestroop
60 g (65 ml) botter
toffieappeltjies
1 blik (425 g) baba-appeltjies,
gedreineer
400 g (500 ml) suiker
30 ml water
Aanwysings
1 Koek Maak seker die oondrak is in die middel van die oond en verhit die oond tot 180?°C.
2 Sif die meel en sout saam, vryf die botter by die meel in tot dit soos broodkrummels lyk en voeg dan die suiker, appels en sjokolade by. Meng goed deur.
3 Klits die eier, vanieljegeursel en melk saam, voeg by die droë bestanddele en meng goed.
4 Skep die beslag in ’n gesmeerde en gevoerde broodpan van so 18 x 8 cm en bak sowat een uur.
5 Toets met ’n dun pennetjie of die koek gaar is. Haal uit en laat so 10 minute afkoel voor jy dit uitkeer. Laat heeltemal afkoel.
6 Karamelsous Gooi al die be-standdele in ’n kastrol. Sit op lae hitte op die stoof en meng goed. Verhit tot kookpunt terwyl jy roer. Kook so twee tot drie minute tot dit ’n karamelkleur kry. Haal van plaat af en laat effens afkoel voor jy dit oor die koek gooi.
7 Toffieappeltjies Sit die appeltjies op kombuispapier sodat dit kurkdroog kan word. Gooi die suiker en water in ’n kastrol. Sit op ’n lae hitte op die stoof. Sit die deksel op en laat die suiker smelt. Wanneer gesmelt, haal die deksel af en laat prut oor ’n lae hitte. Moet glad nie roer nie – dit kan versuiker. Skud net die kastrol nou en dan goed. As die suiker gekaramelliseer het, haal van die plaat af en doop die appels vinnig in die karamel voor dit hard word. Sit op bakpapier om hard te word. Versier die koek daarmee.
WYNWENK
Fred Viljoen, wynmaker op Viljoensdrift by Robertson, sê hulle vlagskip MCC Villion (R75) sal die ryk romerigheid van dié nagereg goed komplementeer. Dié vonkelwyn het vanjaar goud by die Veritas-toekennings behaal.