Resep: Gabi & Celynn se pestobroodjie
2012-08-01 13:15
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Gabi Steenkamp en Celynn Erasmus, samestellers van Kos in ’n kits vir volgehoue energie, wys hoe jy in ’n japtrap ’n geurige en baie gesonde ligte middagete kan maak.
Hierdie Italiaanse styl pesto-broodjie met slaai is geïnspireer deur ’n baie ongesonder gereg wat in restaurante bedien word. Ons het die bestanddele verander om die vet minder te maak, maar al die geure behou.
– Uit Kos in ’n kits vir volgehoue energie (Tafelberg, R200)
PESTOBROODJIE MET SLAAI
1 sny rogbrood
2 t pesto
1 tamatie, in dun skyfies gesny
65 g kalkoen- of hoenderskaafsels
1 vuurhoutjiedosie-grootte porsie
mozarellakaas, gerasper
sout en peper na smaak
1 Rooster die brood en smeer die pesto oor.
2 Pak die tamatieskyfies op die brood.
3 Sit die kalkoen- of hoenderskaafsels bo-op.
4 Strooi die mozzarellakaas oor. Geur na smaak en sit onder die warm oondrooster tot die kaas net smelt.
5 Sit voor saam met ’n groot mengelslaai waar-oor jy balsamiese asyn gedrup het.
Laevet-pesto
Pols 2 koppies geskeurde vars basilie, 3 fyn-gekapte knoffelhuisies, 15 ml sesam-sade, 15 ml denne-pitte, 5 ml gerasperde parmesaan, 2,5 ml suiker, 1,25 ml sout, ’n knypie swart-peper, 20 ml olyfolie en 45 ml kookwater in ’n voedselverwerker tot glad.
Foto uit Kos in ’n kits vir volgehoue energie
Wyn-idee
Hermanuspietersfontein se wynmaker, Bartho Eksteen, sê hulle No. 7 Sauvignon Blanc (R95) se kruie- en vrugtegeure is nommerpas hierby.