SO IS DIE LEWE: Maar hoekom…?
2012-08-01 13:15
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Wanneer ’n mens vier jaar oud is, verstaan jy nog dat die heelal en hemel wemel van raaisels.
“Hoekom kan ek nie my eie oë sien nie?” wil Aden weet. “En hoekom vat dit so lank om groot te word? Moet mens ’n partytjie hou as jy wil trou? Hoekom bid die honde nie vir hulle kos voor hulle eet nie? Hoekom maak rooibloedselle bloed rooi, maar witbloed maak bloed nie wit nie? Hoekom kry oumas kakaratte op hulle oë? Hoe kan God ons hoor as bid dan so sag is? Hoekom is die prawns by die restaurant so klein soos kril? Ek vra hoekomdat ek lus is, want dis vir my so lekker.”
Meestal probeer ek hom antwoord, maar soms lê die antwoord gewoon buite woorde. Soos onlangs, toe die polisie my op die duin van ons stil kusdorpie voorkeer:
’n Bejaarde vrou, ’n vakansieganger, het die oggend ’n brief vir haar man gelos en die see ingestap.
Die liggaam word nou uitgedra; hou die kinders hier weg, versoek hulle.
Toe ons aanstap, vra Aden: “Mamma, wat is selfmoord?”
“Partykeer, as iemand nie meer wil lewe nie, maak hulle hulleself dood.”
Hy, stomverbaas: “Maar hoekom…?”
“Ek weet nie. Ek het haar nie geken nie.”
Hy is na aan trane: “Hoe moet haar kleinkinders nou voel?! Dis ’n vlieslike (‘vreeslik’ en ‘vieslik’) ding wat sy gedoen het!”
“Haar mense is nou seker baie hartseer, ja.”
Ná ’n lang stilte: “Miskien het sy gedog dit sal beterder wees om dood te gaan hoekomdat iemand iets leliks vir haar gesê het wat haar hartseer maak. Of miskien het dit haar kwater en kwater gemaak. Of miskien,” sê hy, en sy hele gesiggie verhelder, “miskien het sy gedog daar’s ’n wentelbaan tussen die hemel en die aarde en sy kan sommerso terugstap-terugstap tot hier…
Carina Stander is ’n visuele kunstenaar, digter en skrywer