Skone Katryn

2012-10-10 12:52

Foto: Ulrich Knoblauch

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Op 17 is ’n Afrikaanse skoolmeisie een van Suid-Afrika se suksesvolste uitvoerprodukte in die modebedryf. Sy het al skouers geskuur met Anna Wintour van Vogue en met die beroemdste fotograwe in die bedryf saamgewerk. Ontmoet Katryn Kruger.

Katryn Kruger verskyn aan my soos iets wat van lig gemaak is. Haar gesig flikker-flikker eers so effe en kom dan in fokus op my rekenaarskerm. Dis soos ’n Skype-afspraak met ’n hemelliggaam: Sy straal ’n blink glimlag in my rigting – ’n lewende maan of ’n goedgesinde godin.

Ek dag eers ek is doofgeslaan deur haar skoonheid: Haar mooi mond beweeg, maar ek hoor nie ’n woord nie, net ’n elektroniese getjoei-tjoei wat niks met die visioen voor my te make het nie.

“Tjoei tjoei tjoei” maak die gebeitelde wangbene, die elegante nek waarom ’n wit serp ongeërg hang. “Tjoei-tjoei” hoor ek die neutbruin hare wat met ’n geoefende hand losserig agter haar kop vasgemaak is. Eers wanneer ’n fronsie soos ’n skaduwee oor haar voorkop val, kom ek tot my sinne. “Tjoei-tjoei?”

“Katryn,” tik ek in die boksie, “ek kan jou nie hoor nie. Kan ek jou bel?” Die maan slaan in ’n glimlag uit, (“Tjoei!”) haar oë verskuif na die sleutelbord en sy tik vir my haar nommer.

Op ’n gewone Sondag ná kerk in 2010 loop die familie Kruger in die Canal Walk-inkopiesentrum in Kaapstad rond. Pa Pieter, Ma Aletta en die kroos, Katryn en Albert, word voorgekeer deur die akteur-model Robert Bester, wat nie verby Katryn kon kyk nie. Robert se vrou, Patricia Stidworthy, is besturende direkteur van Y Models in Kaapstad en Robert kén talent as hy dit sien. Patricia maak ’n afspraak met Katryn en bied haar ’n kontrak aan. Binne weke word Katryn vir ’n casting gestuur by ’n talentsoeker van IMG New York wat op besoek is aan Kaapstad.

Die talentsoeker het gesoek en gevind: Katryn, toe 16, vlieg Parys toe en daarvandaan na Milaan, waar sy haar eerste fotosessie vir Prada doen…

Ja, geen sprake van ’n wit perd of ’n koets in dié sprokie nie. Die Prada-fotosessie het Katryn op ’n vuurpyl geplaas, reguit sterre toe.

By die Paryse modeweek was sy op die loopplank vir Givenchy en daarna is sy gevra om weer vir Prada te werk – dié keer ’n veldtog saam met die wêreld¬beroemde fotograaf Steven Meisel.

Vandag kan jy maar die blinkstes in die modebedryf opnoem, en Katryn het al vir hulle gewerk: Dior, Oscar de la Renta, Stella McCartney, Calvin Klein, Coach, Valentino, Donna Karan, Dolce & Gabbana. Die lys is ligjare lank en dis eintlik nog net die begin…

Verbeel jou dit: Midde-in die polsende chaos van New York tydens modeweek sit Katryn Kruger tydens seldsame af-tydjies en leer vir haar wiskunde-eksamen. Tot onlangs was hierdie toneel tipies van die byna surrealistiese deurmekaarvloei van die lewe van dié doodgewone skoolmeisie van Belville en ’n jet-setting internasionale model.

Oor die foon is Katryn se stem klokhelder – en bloedjonk. Ek vang haar aan die einde van sewe weke tuis – die langste wat sy nog by die huis was sedert sy haar skoolloopbaan einde verlede jaar op ys gesit het om heeltyds op modelwerk te fokus. ’n Eenvoudige keuse was dit bepaald nie: Katryn was ’n akademiese uitblinker by Hoërskool Tygerberg, waar sy verlede jaar graad tien voltooi het terwyl sy steeds die wêreld vol gereis het.

“Katryn was ’n model-leerder,” sê haar Afrikaans-onderwyseres, Johanna Carstens. (Ek wonder of haar woordspel opsetlik is.) “Sy was die afgelope jaar die wenner van die Junior Hertzogprys én die Poort-skryfkompetisie. Sy’s ’n slimkop met ’n A-gemiddeld en ’n goeie sin vir humor. Ons mis haar.”

Maar saam met vinnig-groot-naam-word kom vinnig grootword: Terwyl haar vriendinne hulle oor huiswerk en kêrels bekommer, moet Katryn uitwerk waar sy gaan bly en watter trein in die vreemde stad haar die vinnigste na haar volgende afspraak gaan neem.

“Mense dink dalk modelwerk is een groot partytjie, maar dis harde werk, soms tot 18 uur op ’n dag.” Gelukkig skrik Katryn nie vir werk nie. Vroeër vanjaar het sy tydens die Paryse modeweek aan byna vyftig modeparades deel¬geneem, ’n ongehoorde hoeveelheid vir ’n nuwe model.

Dis juis haar verstommende werketiek wat haar agent, Gavin Miller van Y Models in Kaapstad, as een van die grootste sleutels tot haar sukses sien.

“Modelwerk is ’n besigheid en Katryn het dit van die begin af so benader. Dis nogal baie om te vra van ’n tiener, maar daar word verwag dat selfs meisies van 14 soos volwassenes moet funksioneer in ’n komplekse bedryf.”

Aletta, Katryn se ma, was saam met haar dogter by die pasafgelope modeweek in New York, en vertel Katryn moet soms al sesuur soggens op stel wees en tot so laat as tienuur saans vir castings gaan.

“Daar kan enige iets van vyf tot 50 modelle by so ’n casting wees, almal gewapen met hulle portefeulje en ’n paar hoëhakskoene om hulle slag voor die ontwerper, stilis en casting director te wys,” vertel sy. “As ’n model gekies word vir ’n vertoning, moet sy gewoonlik later terugkeer na die modehuis om haar uitrusting aan te pas en dan word die hele vertoning met ’n reeks Polaroid-foto’s ge-storyboard vóór besluit word hoe elke model se hare en grimering moet lyk.

“Die ure voor ’n vertoning is ’n yslike gedoente. Terwyl ’n grimeerkunstenaar aan haar werk, kry sy ’n manikuur en pedikuur. Dan volg die hare. As die tyd min raak, is dit niks ongewoon om tot vier stiliste te sien wat gelyk aan ’n model se hare werk nie. Hierdie mense is baie professioneel en op die ou end speel elkeen van hulle ’n belangrike rol in die hele ‘produksie’. En met al daardie ure van beplanning en voorbereiding is die vertoning in so min as 10 minute verby!”

Maar dis tien vlietende minute waarin jy ’n blywende indruk moet maak. Katryn volg haar agent se raad: “Hou altyd jou kop, jou hakke en jou standaarde hoog.” Méér: Sy skiet behoorlik uit. Tydens die Paryse modeweek het die ontwerper Valentino haar gekies om sy vertoning te open én af te sluit.

Hieroor sê Katryn ewe beskeie: “Ek weet nie of ek sodanig baie bereik het nie, want ek is glad nie ’n mededingende mens nie. Modelwerk is lekker, maar dis nie my alles nie.”

Voor haar eerste modeweek in Parys het sy “absoluut niks” van die bedryf geweet nie, hou sy vol. Sy het die stiliste met ontwerpers verwar, het geen idee gehad wie die bekende modelle is aan wie sy voorgestel is nie en het heeltemal oorweldig gevoel. Maar pleks van voorgee het Katryn die bedryf gevat soos dit kom. En die bedryf, haar…

“Ek het by een passing na die ontwerper geloop, sy hand geskud en myself aan hom voorgestel. Almal rondom my se koppe het geskok omgevlieg en hulle oë het wyd gerek. Ek het nie besef mens loop nie sommer net en skud Ralph Lauren se hand nie. Maar hy was baie vriendelik! Na die tyd het iemand vir my gesê dis net Katryn wat so iets sal aanvang. Ek dink op ’n manier tel sulke goed in my guns.”

Wanneer sy vertel van haar ontmoeting met die internasionale supermodel Gisele Bündchen, wat haar voor haar eerste uittog op die loopplank gerusgestel het, is Katryn weer vir ’n oomblik pure grootoog skoolmeisie: “Sy was so nice!” Sy gesels volstoom verder oor haar tyd by die huis – kuiers met vriende, haar afspraak vir haar leerlinglisensie, die meisies wat so baie van haar jonger boetie hou. Ek kan hoor sy verlang.

Ek kyk na die foto’s wat Craig McDean van haar geneem het vir die Amerikaanse tydskrif Interview. Dis dubbelbeligte foto’s en ’n mens kan nie besluit of jy ’n meisie of ’n blom sien nie. Kop of blomknop?

Bo-arms of blare? Dís die toorkuns van Katryn Kruger, soms ’n verbasende sterk vrou, soms net plein-Katryn, die skoolmeisie wat haar maats en haar ouma se kos mis.
Op haar beste is sy altwee, ’n speelse Mona Lisa van die kamera en ’n waardige muse vir die kunstenaars van lig. 

Ons ander bekendes:

70’s



Nelle Dreyer (62) was 20 toe sy in 1970 met modelwerk begin het, en die eerste SA model wat in glanstydskrifte soos Vogue en Harpers Bazaar verskyn het.

“In daardie dae moes modelle alles self doen – grimering, hare, bykomstighede voorsien – ek het selfs later die beligting gestel en die stilering behartig,” skryf sy uit Parys, Frankryk, waar sy en haar man, die Amerikaanse grafiese ontwerper Bob Adamski, deesdae woon en ’n kommuni¬kasie- en ontwerp-onderneming bedryf.

Een van die groot hoogtepunte vir Nell was ’n voorblad wat sy vir Harpers Bazaar saam met die haute couture-ontwerper Valentino geskiet het. “Ons – Harpers Bazaar se fotospan en ek – moes drie dae wag totdat Valentino uiteindelik besluit om op te daag, en tóé met meer grimering op sy gesig as wat ek gehad het!”

Hoewel Nelle van die begin af besluit het sy sou op 30 ophou met modelwerk, was die werklikheid van ’n “gewone bestaan,” waar jy op ander maatstawwe as skoonheid geoordeel word, vir haar skrikwekkend ná tien jaar se mooi lyk. “Daarom wil ek graag vir die jong modelle van vandag sê: Moenie dink die glanslewe duur vir ewig nie. Skoonheid kwyn gaandeweg en al wat oorbly, is jy met jouself.

Maak dus seker die ’jy’ het ’n kop op haar skouers.”

* Nelle se outobiografie, Voorbladnooi, is verlede jaar deur Protea uitgegee.


80’s



Tanya Fourie het in die laat tagtigs as 13-jarige begin modelwerk doen, in die era van die supermodelle soos Claudia Schiffer, Cindy Crawford, Naomi Campbell, Linda Evangelista, Christy Turlington en Helena Christensen. Sy het Suid-Afrika op 16 verlaat en haarself in New York gevestig.

Ná 22 jaar in die bedryf het sy haar paspoort weggepak, maar kyk nie met verlange terug nie. “My ondervinding en reise het my in ’n nuwe beroepsrigting gelei,” sê sy.
Deesdae geniet Tanya (40) die weelde van tyd saam met haar gesin. Sy is enkelma vir haar seuns, Sean (20), Luca (12) en Daniel (3), in Durban¬ville, Kaapstad, en bedryf ’n verblyfonderneming, koffiewinkel en geskenkwinkel daar. Sy het ook ’n gastehuis in Kampsbaai.

Haar raad aan jong modelle: ”Die belangrikste is om passie te hê en nederig te bly.”

90’s



Joan Kruger was die redakteur van rooi rose toe Charlize Theron in 1991 op 16 die tydskrif se model van die jaar-kompetisie gewen het. Charlize se volwassenheid en selfvertroue bly haar vandag nog by.

Haar ma, Gerda, se vertroue in Charlize het Joan ook opgeval: “Die internasionale modewêreld is nie ’n eenvoudige plek nie, maar sy het van die begin af geglo haar kind sou die druk kon hanteer.”

Om só ’n jong meisie die wye wêreld in te stuur was nie ’n besluit wat Joan ligtelik geneem het nie.

“Ek was self destyds die ma van ’n tiener en dit het my ernstig laat nadink daaroor om sulke jong kinders oorsee te stuur. Maar as ek dit weer moet doen, sal ek dieselfde besluit neem: Ek haal my hoed af vir hoe Charlize (38) dit toe hanteer het, en vir die feit dat sy so ’n gegronde, voete-op-die-aarde mens gebly het.”

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-19°C Morning clouds. Mild. Pta: 5-22°C Sunny. Mild.
Jhb: 5-17°C Sunny. Mild. Bfn: -1-21°C Sunny. Mild.
Dbn: 10-23°C Partly cloudy. Mild. PE: 14-17°C More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe gobii-slimfone vanaf R999!

’n Kamera aan die voor- en agterkant, tweeledige SIM-verrigting en 200MB se GRATIS Cell C-data elke maand vir 12 maande, is maar net ’n paar van die eienskappe van dié slimfone. Kry joune nou! Koop hier.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!