So is die lewe: Bo-Kaapse troue
2012-08-29 10:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die weerman het alwetend verkondig dat dit nie voor Woensdag weer sal reën nie. Maar kyk nou – eers het net ’n digte mis vroegoggend van Robbeneiland se kant af ingestoot en die stadskom toegespoel in ’n melkerigheid, soos Jik-water. Maar nou begin my voete koud kry, en nie lank nie of ’n sagte motreën – net genoeg om ’n mens te dwing om die wasgoed teësinnig in te bring – sproei van die Spar se kant af.
Steeds, dis maar ’n halfhartige besigheid, g’n regte Kaapse reën nie. Op die hoek stotter die tuindiensmanne se grassnyer voort; die son kaats nog kordaat van Tafelbaai se water af terug en die naamlose gemmerkat bly sit, pootjies viets bymekaar, op die stoeptrappies – pof skaars sy wolle uit teen die nattigheid.
Die klossie kraaie op die oorkantste woonstelblok skuifel wel koddig-sywaarts nader aan mekaar toe ’n rukwind ewe skielik ’n leë lemoensapbottel klaterend straataf jaag. Hier’s dit nou...
Die nuuskierige ou vrou oorkant die straat por haar vuilwit hondjie aan om gouer klaar te piepie, hark dan die diertjie ongeduldig met een spekkige arm van die grasperkie af op en waggel moeisaam op geswelde voete by haar stoepdeur in – vies vir die ongure weer, vies omdat sy nou nie meer vir kwaadgeld buite kan rondhang en almal se besigheid uitkyk nie.
Die palmboom se kuiftakke kry lewe. Kragkabels wip senuweeagtig as ’n paar duiwe eensklaps afduik, dan in die melkerigheid wegswaai. Die grassnyer ruk dood. Alles kom tot rus.
Die reuk van klam grond en die bliksmaak van stomende teer klouter oor my balkonmuurtjie op. Die silhoeët van ’n vragskip skuif stom by die hawe in.
Maar bo Seinheuwel hang tog repies blou lug. En in die Bo-Kaap blink motorruite al rondom die Jameah Masjied in Chiappinistraat. Hoe kon ek vergeet: Dis mos vandag Jakkals se nikah met Wolf se vrou!
Sophia van Taak is artikelredakteur by Weg!