So is die lewe: Kaal in die koue
2012-08-08 15:29
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
“Ons gaan die koue naloop,” sê my vriendin.
Ek vra nie waar nie, want ek weet.
“Gaan sê hallo by Kambrokind,” sê ek. “Ry Salpeterkop toe en as julle deur Verlatekloof ry, groet die garingbome vir my.”
By die hotel op Sutherland word hulle langs ’n two bar-verwarmertjie sitgemaak vir koffie. Maar Rooikat se kroeg met die vuur roep. Laataand ’n knertsie whiskey en ’n pimpeltjie port.
Dit word nag. Dis vyf grade buite en die ysbere sluip deur die strate. Vriendin oorweeg om soos die Chinese kindertjies te maak. Naai die openinge van jou pajamas nouer en trek dagklere bo-oor sodat môre se pyn heelwat ligter op die lyf sal wees.
En toe kies Geliefde om dese nag te slaaploop. Op Sutherland van alle plekke.
Hy wandel glo deur die gang. Versigtig die trappe af. Gooi ’n es deur die eetkamer en gaan groet die koue asse in Rooikat se kaggelkroeg.
Vriendin wag hom in aan die bopunt van die trap. Sy’t ook al geleer ’n mens maak nie ’n slaaploper skrik nie.
Nie ’n veteraan-somnambulis wat ná jare besluit het om op Sutherland sy loop te kom loop nie.
By ontbyt vertel hy. Hy was glo so ses jaar oud op hulle plaas op Stonehouse, Maclear. Ma en Pa ken hulle dwalende nagkind.
Hy staan op, klim uit sy pajamas en loop kaalgat uit na sy oppassers in die huisie op die rand van die erf. Dan weer al die pad terug tot in sy kamer. Sê mooi aan sy ouers dat hy moes gaan seker maak Lena is oukei. Klim in sy hopie pajamas op die vloer en gaan voort met die slaap.
Ek wonder nou nog oor die pajamas. Naak in ’n Sutherlandse winternag? My vriendin seg niks, maar ek ys om te dink…
Nanette van Rooyen is ’n skrywer. Haar nuwe jeugboek, Ek was hier, is nou op die rak.