So is die lewe: O, die sonde!
2012-08-22 13:57
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
“Tannie, kyk my nuwe skoene,” sê die seuntjie met die loopneus. Dis die derde keer dat hy my storie onderbreek. Ek hét al na sy skoene gekyk. Twee keer.
“Hulle’s baie mooi,” sê ek, “maar ons is nou eers besig om oor sonde-dinge te praat.”
Hoe het dit nou weer gebeur dat ek my in die voorskoolse Sondagskoolklas bevind? Omring deur rokklouers, grensers en neusgrouers? Laas het ek nog genoeg kinders van my eie gehad.
Te min vrye tyd. Te veel werk.
“Watter lelike sonde-goed kan ’n mens alles met jou... mmm... laat ek sien... met jou HANDE doen?” probeer ek almal terugkry by die les.
Die rooikoppie se hand is dadelik op. “Skiet met ’n geweer! Slat! Sny met ’n mes!” My stomheid moes hom laat twyfel het oor sy antwoord. “Tot die derms uithang...?”
dwing hy my na sy punt.
“Reg, reg, maar daar is ander goed ook,” stamel ek floutjies. “Wat van steel? Of knyp? Iemand ’n stamp gee?”
Ek sien hoe sy ogies vernou. Dan skiet die hand weer op. Eers kyk ek anderpad. Vra ’n paar meer bedeesde kinders en hoor van ewe bedeesde hande-sondes.
Rooikoppie klap-klap nou ongeduldig met sy vingers. Hy het hom! Hy kan aan nóg hand-sondes dink.
Toe daar niemand meer oor is om te vra nie, sug ek saggies in sy rigting: Sê maar.
“Om só te maak, Tannie. Die ene konsentrasie, terwyl hy met die een hand die twee kantste vingers probeer platbuig en die middelste een probeer regop bring. Ek sien wat gaan kom en verander blitsig die sondes.
“Wat van mond-sondes?” roep ek uit, asof dit die beste ding sedert springmielies is.
“Goed soos skinder? Of jok? Of terugpraat? Of nog erger – vloek!”
Dramaties hang daar ’n stilte oor die klas. Dit het hulle beslis aan die dink.
Woeps. Op is sy handjie. Wat. Nou. Weer?
“Ja-aa,” beaam hy grootoog terwyl hy op en af knik, “woorde soos moer!”
Keina Swart is redakteur van Die Pos op Bela-Bela en bekroonde kinderboekskrywer.