Soos visse in die water
2012-01-21 13:19
’n Mens hoor die twee vroue nog lank voor jy hulle sien en hul uitbundige gelag en geskerts is opvallend. Dis Gina Lourens (48) en Liz von Wechmar (43) se lewensblyheid en humor wat jou aandag so vasgryp dat jy amper vergeet dat albei van hulle kwaai gestrem is. Liz se bene is net onder haar knieë afgesit en sy moet ook sonder ’n regter hand en vier en ‘n half vingers aan haar linkerhand oor die weg kom.
Hulle deel meer as net ’n besonderse vriendskap. Hulle is albei baie goeie swemmers wat al ons land in die Paralimpiese Spele gaan verteenwoordig het en albei het gewys dat deursettingsvermoë en wilskrag deel van hul DNS is. Moed verloor en selfbejammering is eenvoudig nie deel van hul woordeskat nie.
Ons het dié twee Stellenbossers by die Dischem Sun City-oopwaterswem raak geloop en daar het hulle vertel watter voorreg dit steeds is om te kan leef, al kan hulle dit nie meer so normaal soos tevore doen nie.
Gina was 12 jaar oud toe sy die eerste keer Guillain-Barré-sindroom opgedoen het, ’n ernstige siekte wat ontstaan wanneer die liggaam se immuunstelsel verkeerdelik ’n deel van jou senuweestelsel aanval. Dit lei tot inflammasie in jou senuwees en veroorsaak dat jou spiere geweldig swak word. Toe Gina 21 jaar oud was, het sy weer die siekte gekry en ses maande lank was haar spiere so erg aangetas dat sy net haar oë kon beweeg. Die skade was so erg dat dit haar spiere permanent verswak het.
“As deel van my rehabilitasie het die dokters aanbeveel dat ek begin swem, juis omdat hidroterapie soveel sukses toon.
“Dit was ongelooflik hoe baie die water my gehelp het. Dit het nie net my spiere sterker gemaak nie, maar sommer my selfvertroue ook ’n hupstoot gegee,” onthou Gina.
Hoewel Gina nooit daarna volkome herstel het nie en erg mank en moeilik geloop het, is sy getroud en het selfs twee swangerskappe gehad. Haar twee kinders is al nege en elf jaar oud en sy is met die kunstenaar Greg Lourens getroud.
“Omdat al my spiere so swak is, was my swangerskappe hel. Maar as ek vandag so na my twee kinders kyk, sal ek weer daardeur gaan,” sê sy en glimlag.
Gina het intussen vir die WP se gestremde swemspan begin swem. Sy vertel dat sy elke dag haar seëninge tel.
“Dis so maklik om in sak en as te gaan sit en jouself te vertel hoe onregverdig die lewe jou behandel het. Maar ek het gekies om eerder te fokus op dit wat ek kan doen. En daar is nog so baie!” sê sy.
Liz was 27 jaar oud toe sy ernstig siek geword het van bakteriële breinvliesontsteking. As gevolg van die siekte het sy haar regterarm verloor en ook vier en ’n halwe vingers aan haar linkerhand.
“Ek was sterwend siek, maar al wat ek regdeur my siekte geweet het, was dat ek wou bly leef. Ek wou nie op 27 doodgaan nie, daar was nog net te veel wat ek uit die lewe wou haal. Selfs al was dit met ’n halwe lyf wat glad nie meer normaal kon werk nie,” onthou sy.
Dit het Liz nege maande gevat om ná die siekte te rehabiliteer en haar hele lewe het skielik handomkeer verander. Sy moes ’n aangepaste motor kry en het daarop aangedring om steeds alleen te woon. Maar dit was moeilik, want alles wat sy voorheen as vanselfsprekend aanvaar het, was skielik ’n inspanning.
“Dit het my op die kop drie jaar gevat om emosioneel te herstel. Ja, natuurlik was daar dae wat ek baie kwaad was omdat hierdie ding my getref het. Aan die einde van die drie jaar het ek begin swem en aanvanklik was my spiere so swak en ek so lig dat ek die hele tyd omgedop het,” onthou sy.
Sedertdien het Liz op die Paralimpiese Spele in Athene in twee kategorieë geswem en hoewel sy die oopwaterswem aanvanklik vreesaanjaend gevind het, het sy ook intussen dié vrees oorkom.
“Swem hou my sterk. Nie net fisiek nie, maar ook emosioneel. Dis al deur en deur bewys: Die oomblik as jy sukses bereik met doelwitte wat jy vir jouself gestel het, ontdek jy jou eie krag en deursettingsvermoë. En jy is altyd sterker as wat jy dink.
“Die eerste keer toe ek 5km ver geswem het, het ek besef ek kan bykans enigiets doen waarop ek my kop sit. Daardie gevoel is geweldig bemagtigend en ’n mens weet sommer jy is in staat om ander probleme ook te oorkom.”
Een keer ’n week ontmoet Gina en Liz mekaar vir pizza en rooiwyn iewers in Stellenbosch.
“Liz is my grootste inspirasie. As ek oor my eie mankolieke lyf moedeloos voel, kyk ek net na Liz wat soveel slegter daaraan toe is en hoe wonderlik sy dit hanteer. Boonop is daar niemand wat my so lekker kan laat lag soos sy nie,” sê Gina.
Op haar beurt vertel Liz dat sy soveel by haar vriendin Gina leer oor menslikheid.
“Gina is die persoon met die grootste hart. Sy het soveel liefde wat sy uitdeel.”
Saam is hierdie twee vroue die wonderlikste inspirasie. Want hulle laat nie een dag verbygaan sonder om iets te vind om oor te lag nie.