Stylmeester vier sy 21 jaar
2010-04-24 14:04
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
As mode-ontwerper wou hy nog altyd vroue mooier maak en in skoenlappers verander. Vandaar die naam van sy nuwe reeks.
“Die skoenlapper is ’n universele simbool van verandering, opstanding, transformasie, viering, jong liefde en die siel van die mens. Ek het dit saam met die boskleure van ’n woud vir die reeks ingespan.”
Hy gaan wys die rokke – en dit slaan jou asem weg.
Op ’n esel langs die modeskeppings staan ’n skildery van ’n woud wat hy geskilder het – mosgroen met spatsels turkoois, bruin en blou.
Van die aandtabberds is hier en daar met ’n skoenlapper, kralewerk en fyn borduursels opgetower.
Só word die skoenlapper as?’t ware ook ’n simbool van sy mondigwording in die modebedryf.
En menige bruid, bekende persoonlikheid, matriekleerling of sosiale vlinder wat ’n Simon Rademan-uitrusting kon bekostig, sal jou vertel hoe hy ’n papie daadwerklik in ’n pragtige skoenlapper kan laat ontluik.
Wat is die grootste lesse wat hy in die modebedryf geleer het?
“Dat verandering die enigste konstante is?… En elke mens moet hanteer word met die respek wat hy verdien. Gee jou kliënte en die mense met wie jy saamwerk die beste, maar eerlikste raad wat jy kan – al is dit nie altyd wat hulle wil hoor nie.”
Simon word nie om dowe neute ’n styl-ghoeroe, etiket-meester, mode-kenner of mode-ontwerper par excellence genoem nie. Hy is een van die min plaaslike ontwerpers aan wie die Franse term haute couture toegedig kan word.
Maar wat beteken haute couture presies in leketerme?
“Letterlik vertaal, beteken dit ‘high sewing’.
“Uitrustings word net op bestelling gemaak vir bepaalde kliënte en word met die hand gemaak, met groot klem op detail en afwerking. Tydrowende tegnieke soos kralewerk of materiaal-vouwerk word daarvoor ingespan.
“In Frankryk word die term haute couture wetlik beskerm en ’n mens mag dit nie sommer ligtelik gebruik nie.”
Hoewel dit vandag relatief maklik is om in die modebedryf-mark in te kom is die groot toets om daar te kan bly. Dit, sê hy, “is nie vir snuiters en sissies nie. Jy moet voortdurend nuut dink, oorspronklik wees sonder om ooit gehalte prys te gee”.
Alles goed en wel, maar hoe kry hy dit reg om ’n vrou altyd op haar beste te laat lyk?
Wanneer sy die eerste keer by sy ateljee in Brooklyn, Pretoria, aankom, moet sy haar klere laat waai en in ’n groen lycra-pakkie inklim sodat haar mates haarfyn gemeet word.
“Sculpting of moulding is belangrik wanneer jy ’n rok ontwerp. Sommige vroue se borste is dalk te klein, hul heupe te groot of wat ook al – en ek help om dit deur optiese illusie en die perfekte passing te ‘skuif’ na die regte plek.”
Sy fassinasie met ontwerp en passing het begin toe hy as kind in die hospitaal beland het nadat hy sy been gebreek het. Hy het ’n gat in ’n sakdoek gesny en dit oor een van sy niggie se poppe getrek totdat die sakdoek gepas het.
“Ek het natuurlik die pop se arms afgebreek om die sakdoek beter te laat pas en my niggie was nie baie gelukkig daaroor nie!”
Simon het drie goue modereëls waarby hy nog altyd staan:
* Trek aan volgens jou ouderdom. As jy 60 is, kan jy nie soos ’n 16-jarige probeer lyk nie.
En die teendeel geld ook.
* Trek jou figuur aan. As jy ’n magie of lekker volronde heupe het, trek hulle aan! Dit help nie om te maak of hulle nie bestaan nie.
* Trek vir die geleentheid aan. En onthou, dit is altyd beter om te overdress as om te underdress. Jy kan nog altyd iets in jou uitrusting wegvat soos om die pels af te haal of om vinnig van die pêrels om jou nek ontslae te raak. Maar as jy te informeel aangetrek is, is dit moeilik om dit deftiger te laat lyk.
Vir die fotosessie het hy drie besonderse vroue gekry om van sy skeppings te dra – die jong aktrise Leandie du Randt, Liezel van der Westhuizen en Elma Postma.
“Ek hou daarvan om Liezel aan te trek, want sy laat my so vry voel om enigiets te doen. En Elma weet net hoe om ’n glimlag op my gesig te sit. Ons lag en terg en eksperimenteer en kort voor lank is daar ’n gedagte, ’n ontwerp en ’n werklikheid.”
Liezel, wat gereeld op die sosiale blaaie en by uithang-geleenthede in Simon se skeppings opgemerk word, sê Simon se uitrustings is “pure perfeksie”.
“Sy rokke is ontwerp om enige vrou manjifiek te laat lyk. Hy skep magic! Daarbenewens maak hy tyd om elke rok ’n persoonlike gevoel te gee. Jy of die rok is nie net ’n nommer nie.”
Elma meen Simon verstaan waarvan sy hou en watter soort rokke by haar lyf, styl, die geleentheid en haar persoonlikheid pas.
“As aktrise moet ek dikwels in ’n karakter se vel inkruip, maar wanneer ek een van Simon se rokke dra, weerspieël dit my eie karakter.”
Leandie was van die staanspoor in die wolke oor Simon se ontwerpe.
“Sy uitrustings is totaal uniek en ek hou daarvan dat hy so lekker met kleur speel. As ek een van sy rokke dra, voel ek soos ’n prinses in ’n sprokiesverhaal. Hy gaan beslis eendag my trourok maak!”
Om vroue in skoenlappers te verander bly voortdurend ’n uitdaging, maar wanneer daardie skoenlappers voor die spieël gaan staan in een van sy nuwe skeppings en vir hulself kyk, verskaf dit eindelose genot vir die stylmeester.
“Die houding wat ’n vrou het wanneer sy so voor die spieël staan en besef hoe goed sy lyk... sy draai haar kop so ’n bietjie skeef... glimlag... en haar oë blink. Dit maak alles vir my die moeite werd!”
Nuttige aantrekwenke
1. Eenvoud: ’n Modieuse item het verskeie fasette soos kleur, tekstuur, snit, passing, bykomstighede en volume. Net een of twee daarvan is nodig om iets modieus te maak. Alles in een slag in een enkele item word beskou as ’n modefoefie. Dit is van verbygaande aard, ’n mors van geld en ’n kortpad na verkeerd aantrek.
2. Spaar op jou man se klere – nie op jou eie nie.
3. Wanneer jy duur koop, koop klassiek.
4. Trek volgens jou ouderdom, jou eie figuur en die geleentheid aan.
5. Vertrou jou intuïsie wanneer jy wonder of iets werk of nie. Ek ken geen vrou wat nie daardie gut-gevoel het nie.
- Rapport