Suid-Afrika het …fliek-talent!

2012-11-19 06:50

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Daar was ’n tyd toe ons goed verleë kon raak oor Afrikaanse flieks, wat dikwels rondgeval het tussen die kleinhuisie en die deur-trekker met niks tussen die ore nie –
net roomkoeke in die gesig.

Nie meer nie.

Verlede jaar het ’n Afrikaanse fliek vir die eerste keer in een van die top-kategorieë by die internasionale rolprentfees in Cannes gedraai: Vandaar het Oliver Hermanus se Skoonheid van krag tot krag gegaan. Roepman is aan Amerika verkoop en word op 28 November die eerste Afrikaanse fliek, met Engelse onderskrifte nogal, wat daar wys.

Hier het die gewilde Liefling, Semi-Soet, Die Wonderwerker en Wolwedans in die skemer die geldlaaie laat klingel.

En nou is ’n Afrikaanse rolprent in elke denkbare genre op pad. Eerskomende Vrydag word die feestyd ingelei met Linda Korsten se jolige musiekprent Pretville, ’n opskop- rock ’n roll-prent uit die 50’s, en in 2013 kan ons nog 15 nuwes verwag.

Dis meer as een per maand!

DIE OU HAND


Paul Eilers

Die akteur Paul Eilers is die regisseur van twee Afrikaanse flieks wat uitstaan: Roepman en die komende Verraaiers.

Van sy akteurs noem Paul die actor whisperer

Toneelspel bly maklik vir dié wat nie kan nie, en moeilik vir dié wat kan, meen die 67-jarige Paul met sy vier dekades in die akteursbedryf. Hy woon deesdae op Oudtshoorn.

“Ek verkies om saggies, met deernis en met humor met spelers te werk sodat hulle veilig en geborge voel om die karakter waarna ek soek, op te diep. Ek kon die akteurs in albei flieks vertrou, en ek dink hulle vir my.”

Hy hoop die opflikkering in die bedryf is nie tydelik nie. “Daar is so ’n enorme skatkis van verhale uit eie bodem.”

Hy skryf die gehalte van sy flieks toe aan die drif van die advokaat-vervaardiger Piet de Jager en sy seun Sallas, wat by albei projekte betrokke was.

“Sonder hulle insette sou ek nooit die geleenthede gehad het nie. Dan kry ’n mens ook ’n nuwe soort vryheid van die vervaardigers om te waag en daardie ekstra bietjie in te sit. En ons jong tegnici is so ongelooflik dat dit eintlik baie maklik is om iets moois te help skep.”

Paul wil graag stories vertel oor ménse: “Die kuns lê in eenvoud. Roepman en Verraaiers wentel al twee om die mens, sy keuses, gedrag en uiteindelik om wat hulle wen of verloor, hetsy in ’n spoorwegkamp of rondom die Anglo-Boereoorlog.”

DIE MAATSTAF

Elize Cawood




Van links: Elize Cawood, Marlee van der Merwe, Henk Pretorius en Danie Bester

“Geen akteur wil losgelaat word om net sy eie ding te doen nie,” sê die Johannesburgse veteraan-aktrise Elize Cawood, wat vereer is met die eerste Silwerskermfees-prys as beste aktrise vir haar vertolking in Katinka Heyns se Die Wonderwerker.

Sy is binnekort te sien as Roos, ’n vuisvoos boemelaar in Lien se lankstaanskoene.

Elize ag die Wonderwerker-driemanskap – Katinka, haar man, die draaiboekskrywer Chris Barnard, en die kinematograaf Koos Roets – se artistieke integriteit as onberispelik.

“Katinka is self ’n uiters begaafde aktrise. Sy daag jou uit om die entjie ekstra te loop, om nog ’n lagie by te voeg.”

’n Rol is nie net woorde leer nie. Elize lees eers die draaiboek herhaaldelik “totdat ek presies verstaan wat elke karakter se storie is en hoe hulle verhoudings inmekaar steek”. Dan konsentreer sy op haar eie karakter. “Ek probeer ’n emosionele kaart maak van hoe haar verhouding is met al die mense om haar.” Eers dán leer sy haar woorde.

Sy dink die opbloei in die Afrikaanse filmbedryf is fantasties. Tog neem dit net een aaklige prent om die publiek (en die beleggers) af te skrik: “Dit duur dan weer ’n ewigheid om vertroue op te bou. Ons het die stories en die talent om great movies te kan maak. Alles begin by ’n sterk draaiboek, en dit lyk of daar skielik goeie draaiboekskrywers oral uitdop.”

DIE OPKOMENDE STER

Marlee van der Merwe


Dié jong ster van die musiekrolprent Pretville skitter met daardie seldsame driekuns: Sy kan toneel speel, sing én dans. Op agt in Phalaborwa het sy begin dans en musieklesse neem. Op 31 weet dié blondekop vandag presies wat sy met haar lewe wil doen.

Eers het sy uitgeblink in verskeie groot musiekproduksies. Sy was die feeks, Melanie, in Liefling. Van Vrydag sal kykers haar leer ken as Serah, die hoofkarakter in Pretville. Dié onskuldige rol het haar onkant betrap.

“Ek is so gewoond daaraan om die flerrie, die ongenooide gas, die heks of die gifappeltjie te speel. Serah is die onskuld self.”

Die gewildheid van musiekprente soos Liefling en Jakhalsdans, reken sy, is omdat “ons Afrikaanse mense so ’n klomp intense en uiters emosionele mense is, maar terselfdertyd geleer is om daardie kant vir onsself te hou. Musiekflieks dien as ’n uitlaatklep.

“Ek dink ook flieks soos Pretville, wat op ’n klein dorpie afspeel met sy kenmerkende kleindorpse sondes en skinder, gee ons kans om vir onsself te lag.” 

DIE “YOUNG GUN”


Henk Pretorius

Met die uitreiking van Bakgat! het die jong Johannesburger Henk Pretorius (30) een van die pioniers in die nuwe tydvak van Afrikaanse flieks geword. Hy is die skrywer-regisseur van die eerste twee Bakgat!-flieks (in 2008 en 2010), spesifiek vir die Afrikaanse jeugmark. En dit het die teiken sekuur getref.

Hy het die teks van die eerste Bakgat! 19 keer oorgeskryf. Hy en Hanneke Schutte is die skrywers van die komende Bakgat! 3, wat dié geskiedkundige jeugtrilogie sal afsluit. “Dis die bakgatste fliek van die drie!” belowe hy.

Henk is ook die skrywer-regisseur van die romantiese komedie Fanie Fourie se lobola wat in Afrikaans en Zoeloe verfilm is en vroeg in 2013 uitgereik word. Dit gaan oor ’n Afrikaanse man wat verlief raak op ’n Zoeloe-meisie – nou moet hy lobola betaal, maar hy bly nog by sy ma en maak motors reg in die motorhuis…

“Die nuwe energie in die bedryf het ’n klomp ‘hartstogtelike, slim mense’ getrek, soos Paul Kruger (Liefling, Pretville) en die akteurspaar James en Anel Alexander (Semi-Soet),” sê Henk.

En die eise van die Afrikaanse mark is dieselfde as enige ander mark. “Die reël is dat ’n mens altyd jou gehoor moet respekteer, hulle regtig probeer verstaan en iets maak wat subtiel met hulle praat en hulle vermaak. Liefling en Semi-Soet het bewys dat die Afrikaanse mark van karakter-komedie hou, iets vroliks wat hulle vir ’n rukkie wegvoer na ’n fantasiewêreld.”

DIE MARIONETTEMEESTER

Danie Bester


As rolprentvervaardiger is Danie Bester van Johannesburg een van die stil kragte agter groot flieks soos Roepman, Wolwedans in die skemer en volgende jaar se Verraaiers.

Hy woeker om oorsese markte vir Afrikaanse prente te vind en sy maatskappy, The Film Factory, werk op die oomblik aan ses nuwe Afrikaanse rolprente, insluitende Bakgat! 3.

Danie (37) erken hy het “’n irrasionele, meesleurende liefde vir die medium”.

Die groei in die fliekbedryf skryf hy toe aan die subsidiëring van die Department van Handel en Nywerheid (die vervaardigers kry ’n derde van die begroting terug ná voltooiing van die prent), asook ’n “rolprentskool-generasie”.

“Dié generasie is deur ’n verskeidenheid instansies opgelei in spesifieke dissiplines van die rolprentbedryf. Instansies soos kykNET verleen ongelooflike ondersteuning aan Afrikaanse rolprentmakers. Digitale verfilming, na-produksie- en verspreidingstegnologie het ook die vervaardiging van rolprente vergemaklik.”

Gehalte en ’n oorspronklike storielyn is die groot kriteria wat verseker dat ’n Afrikaanse fliek ook buite Suid-Afrika gesien word, glo hy. Soos Elize voel hy ook dat een swak plaaslike prent afbreuk doen aan die bedryf.

“Dis ’n internasionale tendens dat rolprentgangers flieks in hulle moedertaal wil sien. Afrikaners geniet dit om rolprente te kyk wat eg is aan hulle eie kultuur en taal.”

Opkoms van die  musiekprent

Musiekflieks soos Liefling, Jakhalsdans en Platteland het oor die afgelope paar jaar Afrikaanse kykers laat toustaan by die loket.

Paul Kruger van Hartiwood Studios (ook bekend as “Hollywood aan die Hartebees-poort--dam) en uitvoerende vervaardiger van Liefling en Pretville, sê hy dink die oplewing in die Afrikaanse musiekbedryf het oorgespoel na die rolprentbedryf.

“Liefling het ’n standaard gestel waarna ons kan strewe.” Verfilming van As jy sing, die musiekfliek met Bobby en Karlien van Jaarsveld, begin in Januarie, en gaan waarskynlik ewe suksesvol wees.

Franja oor haar FILMDEBUUT


DIE OORLOGSAGE




Franja du Plessis, sanger Juanita du Plessis se dogter, gesels oor haar rol in As jy sing.

Jy maak volgende jaar jou debuut in André Odendaal se musiekprent As jy sing met “ou hande” soos Bobby en sus Karlien van Jaarsveld in die hoofrolle. Hoe het dit gekom dat jy as ’n matriekmeisie die rol losgeslaan het?


Johan Vorster (die medevervaardiger en verantwoordelik vir die musiek) het my pa gebel om te vra of ek sou belangstel. My pa en ma het die besluit aan my oorgelaat of ek kans sou sien daarvoor. Ek is toe na Johan sodat hy kon hoor of hy tevrede is met my sang. Hy was ook by ’n dramaklas wat ek by Hanna Grobler gehad het.

Met ’n ma in die kalklig, sou jy sê dis vir jou makliker om ’n volbloed-fliek aan te pak as, sê, een van jou skoolpêlle?

Al wat dit vir my dalk makliker sal maak, is dat ek van die mense saam met wie ek gaan werk al voorheen ontmoet en ’n bietjie leer ken het. Maar op die ou end is die druk tog op die persoon in die rol om dit na die beste van sy/haar vermoë te vertolk. Alle druk is dus op my, ongeag wie my ma is.

Ek het darem al aan eisteddfods deelgeneem toe ek nog klavierlesse geneem het. Ek het ook in ons skoolproduksie gespeel en op kollig-aande gesing en kitaar gespeel.

Jy is een van ’n tweeling. Hoe sou jy jouself beskryf?

Gedissiplineerd, skamerig (seker ietwat van ’n dromer). Mario, my boetie, droom oor die plaaslewe. Hy’s ’n regte boer!

En die rol wat jy moet speel?


Hieroor mag ek ongelukkig nog niks sê nie!

Al wat ek kan verklap, is dat die karakter nogal soos ek is…

Jy skryf nou matriek by Hoërskool Die Wilgers. Wat is jou planne vir volgende jaar?


Ek beplan om deeltyds in ’n musiekrigting te studeer. Die fliek gaan my wel die eerste paar maande van die jaar besig hou.

Dié prente kom  in 2013


• Klein Karoo is ’n romantiese komedie met Donnalee Roberts en Hykie Berg; Regardt van den Bergh regisseer.
• Regardt werk ook aan Verskietende ster, oor ’n tiener-klaviergenie en sy stryd om sy drome te volg.
Talent is geïnspireer deur Idols en het Frank Opperman in die hoofrol.
Jimmy in pienk handel oor ’n konserwatiewe mielieboer wie se ryk, gay oom hom help om sy plaas te red.
Mollie & Wors, ’n fliekweergawe van die TV-reeks deur Willie Esterhuizen, verfilm in Amsterdam en Long Beach, Kalifornië.
Windpomp. ’n Riller wat op ’n dorpie afspeel, met regie deur Etienne Louw.
Lien se lankstaanskoene van André Odendaal is gegrond op die bekroonde jeugroman van Derick van der Walt en handel oor ’n tienermeisie wat bedel om haarself en haar broer te onderhou. Met Carmen Pretorius.
• Die Anglo Boereoorlog-rolprent Verraaiers fokus op ’n offisier wat die slagveld verlaat om na sy gesin om te sien en later as ’n verraaier verhoor word.
Fanie Fourie se lobola het Eduan van Jaarsveld in die hoofrol en Chris Chameleon in ’n kamee.
Racheltjie de Beer. Brett Michael Innes regisseer dié dramatiese vertelling.
100 meter Leeuloop is ’n nuwe komedie met Robbie Wessels.
As jy sing, met Bobby en Karlien van Jaarsveld asook Bok van Blerk.
Bakgat! 3: Die laaste in die trilogie oor Wimpie en Karien.
Tweestryd. ’n Tieneravontuur oor ’n skoolseun (Timus Loots van Roepman) wat ook as ’n geheime agent werk.
Pad na jou hart. Romantiese komedie met Ivan Botha en Donnalee Roberts en Jaco Smit (Buurtwag van die Silwerskermfees) as die regisseur.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 14-24°C High level clouds. Mild. Pta: 12-27°C Sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 10-22°C Sunny. Mild. Bfn: 9-28°C Sunny. Pleasantly warm.
Dbn: 14-26°C More sun than clouds. Mild. PE: 12-23°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kamptoerusting!

Ons het al die kamptoerusting wat jy nodig het teen pryse wat jou kop sal wegblaas. Gaan loer nou daarna!

Wees voorbereid vir Nasionale Braaidag!

Dit is nooit te vroeg om te begin voorberei vir Braaidag nie. Tref voorbereidings met al ons ongelooflike braai-gereedskap. Koop nou!

Koop 3 boeke & betaal vir 2

Die goedkoopste van die 3 boeke sal gratis wees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Bepalings en voorwaardes geld. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!