Sy naam is Junaine
2012-10-21 14:52
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Eendag, vroeg-vroeg vanjaar, het hy met my gebeur. Junaine. Junaine Pietersen.
Ek, die vreemdeling in die poorte van Sint Liborius in Parkdene, George, weg-geduik in ’n agterste bank. Hy’t die hand gelig in ’n groet, sy lag ’n oop deur. Het ek my die gromgeluid verbeel wat my laat omkyk het?
Hy’t sy kop geknik. Ek moes geglimlag het. Hy’t tevrede gelyk toe hy sy tog na die altaar hervat; meester van ’n danspassie wat niemand hom kan nadoen nie: hoog die regterbeen, dan af grond toe, linkerbeen by, hoog die regterbeen… soos iemand met sy oog op ’n ster wat net hy kan sien.
Later merk ek hom op tussen sy vriende, hy die ene hande en oë soos hy saampraat; dan luisterend, sy gesig onvergeetlik stil.
Niemand se slagoffer nie, dié jonge man, het dit my getref. Al kon ek net hier en daar ’n woord van hom verstaan. Maar dan, my ore was vroeër ook bra strammerig toe hy gebid het.
Sy vriende, sy gemeenskap? Nee kyk, so seker soos ’n ma haar baba se taal aanvoel, so vertolk hulle hom, sy intonasie, hulle oë op sy mond. En hy hou hulle aandag soos net iemand kan wat volkome teenwoordig in sy eie lewe is.
Magic!
Of iets goddelikers, sê ’n vriendin toe ek haar van hom vertel. Dat hy 21 jaar oud is, verstandelik drie tot vyf jaar agter sy portuurgroep. Maar vra sy gemeenskap wie hy is, dan lyk sy CV só: altaardienaar, jeuggroeplid, lid van die plaaslike snoeker-klub, en vergeet nie sy sertifikaat vir lojaalste klubrugbyondersteuner nie.
Kurator van sy eie lewe. Die groot, groot lewe van iemand by wie ek vroeg-vroeg vanjaar geleer het die gees in ’n gebroke lyf kán vlieg.
Nou vra ek jou: tog wel iets goddelikers?
Junaine. Junaine Pietersen.
Anastasia de Vries is assistent- en boekeredakteur by Rapport.