Tannie Sannah
2012-10-05 11:07
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Twee jaar lank was ’n fyn Xhosa-vroutjie my huishulp. Tannie Sannah Bosch. As ek reg onthou, op Maandae en Donderdae. Elke Desember het sy haar bonus gebruik om haar familie in die Oos-Kaap te besoek.
Toe ek haar op ’n dag inlig oor my plan om Oudtshoorn te verlaat het sy gesê dis reg so, sy het hoeka nie meer lus om te werk nie. Sy was 84.
As ek sê die tante het vir my gewerk, bedoel ek sy het – haar ouderdom in ag geneem – heelwat verrig, soos uitvee en klere was en stryk en so, maar haar grootste bydrae tot die huishouding was om oor haar werkgewer baas te speel.
Sy sou Maandagoggende die huis binnekom en terstond op die oorvol laatnagse asbakkie langs my rekenaar beslag lê en dié al morrende en verwytende gaan leegmaak, om daarna doelbewus te wag tot ek opstaan voor sy bottelinspeksie doen. In watter vertrek ek ook al instap, het sy my ingewag en iedere leë bier- of brandewynbottel – slagoffers van my naweekdors – vermanend aan my uitgewys.
Enkele kere het ek ophou rook, en dan was sy opreg verheug. Maar as ek kort daarna in die ou gewoonte terugval, sou sy haar kop moederlik skud.
Van die vuurwater gespeen en met my rooklus oplaas geblus, het ek besluit om te trek. Tannie Sannah se toestemming had ’n voorwaarde: Ek moes haar steeds elke jaar ’n bonus betaal!
84? Goed so, het ek gesê, min wetende hoe oud sy sou word.
Op 5 September vanjaar het sy haar 105de lewensjaar ingegaan. Sy was bly om my te sien. Tannie Sannah bring haar dae in gesprek met die Here deur, sê sy.
Ek dink ek moet haar vra om nou en dan my naam te noem.
Jan van Tonder is die skrywer van Roepman.