VIDEO: Om Stander te word

2013-02-23 23:01

Waldemar Schultz en Abert Maritz. Foto: Jan Ras

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Waldemar Schultz laat binnekort die bankrower André Stander in Charles J. Fourie se drama by die US Woordfees herleef. Hy en Albert Maritz, die regisseur en self ’n vorige Stander, gesels oor adrenalien en hoe jy 27 karakters in een uur uitbeeld.

Die stroom Russies, blikkerig hard uit die selfoon se klein luidspreker, laat die besoekers aan die ander tafels onthuts omkyk. Maar dan keer elkeen terug na sy koerant of bord ontbyt – daar’s immers ’n “Lekka wors”-special.

Die akteur en regisseur Albert Maritz glip die foon in sy bo-sak terug en trek sy koffie nader.

“Ek speel ’n Rus in thomas@, die jeugreeks gegrond op die boeke deur Carina Diedericks-Hugo wat deur kykNET verfilm word. Om te kon Russies praat neem ek lesse by ’n vrou op Robertson – dis sy wat daar praat.” Nou is dit sommer sy selfoon se luitoon.

Hy skiet deesdae deurnag by Bloemhof, die meisieskool op Stellenbosch, en jy kan dit sien: gesig effens meer verkreukel, kringe onder die oë. “Nou die dag het ek sommer in my kar, voete by die venster uit, ’n nap gevat toe ek moes wag.” Dit is nou as hy nie in die regisseurstoel is vir drie Woordfees- en KKNK-produksies nie.

Dis juis een van dié produksies, die eenmanvertoning Stander, met Waldemar Schultz in die naamrol en Albert as regisseur, en albei die manne se onmoontlike skedules wat gemaak het dat ons op dié uur en plek ontmoet – douvoordag in die Wimpy in Bellville, net duskant die N1. Albert se grootwordwêreld. Die eetplek doen fluks sake, al is die parkeerterrein buite nog verlate. In die verte zoem die snelweg.

“Waldi is op pad, nou kan ek skinder,” sê Albert.

“Kyk, ek kén die play. Tussen 2002 en 2003 was ek meer as 80 keer op die verhoog as Stander, met die skrywer daarvan, Charles J. Fourie, as die regisseur. Maar al is Waldi in sy hart ’n seuntjie wat hom graag besig hou met sy rekenaar, fiets en videospeletjies, is hy ook ’n ewig soekende kunstenaar wat deur soveel vlakke werk om gestalte aan ’n karakter te gee. Dís hoekom ek hom gekies het. Want dis ’n moeilike drama – 27 rolle wat deur een mens gespeel word. Stander is op die verhoog. Hy vertel die storie van sy lewe, maar soos hy vertel, gee hy telkens die ‘stem’ oor aan iemand anders, met pruike, baarde, ’n baadjie hier, ’n romp daar.

“Dis ’n drama wat kommentaar lewer op ons samelewing – toe en nou, wat die gehoor gedaan laat.”

Net toe stap Waldi in. Sy kop is kaler as in sy dae as Jan-Hendrik Terreblanche in 7de Laan, waarmee hy in 2009 opgehou het voordat hy teruggetrek het Somerset-Wes toe – “huis” vir dié Milnerton-boytjie. Hy werk tans aan vyf produksies: drie vir die US Woordfees op Stellenbosch en twee vir Oudtshoorn se KKNK.

“Ons het al in Desember aan Stander se bewegings begin blok, maar... ” – ’n skalkse blik na Albert – “die woorde kom laaste.”

Albert: “Ek’s ou-skool: leer die teks ’n jaar voor die tyd – maar ’n jaar is dalk ’n oordrywing.”

Waldi (sug): “Wanneer kry teater ’n reuse-auto cue?”

Albert: “My pa het met sy bandmasjientjie onder sy kussing geslaap... ” (Albert se pa was die bekende akteur Dawie Maritz.)

Waldi: “Yvonne [van den Bergh, wat sy vrou, Petra, gespeel het in 7de Laan] het weer geglo as jy jou woorde sewe keer herhaal, sal jy dit nie vergeet nie.”

Albert: “En...?”

Waldi: “Naah. But it’s comforting to know you’re at least attempting... ”

Die Engels rol flink van sy tong en Albert sê later Waldemar beskou homself as Engels. Sy pa was Afrikaans, maar sy ma Joods en Engels. Sy ouers was ook akteurs en het mekaar nogal ontmoet op die stel van Uys Krige se Die goue kring.

Om in Stander se kop te klim het Waldi ure voor die rekenaar deurgebring. Die laaste woord oor sy beweegredes sal seker nooit gespreek word nie, glo hy.

Albert het verkies om boeke te lees – veral Norman Mailer se The Executioner’s Song, wat Charles hom destyds in die hand geprop het. Vir een van die opvoerings het hy Allan Heyl genooi – die enigste oorlewende van die sogenaamde Stander-bende. “Maar hy’t nie gekom nie... ”

Wie wel destyds die opvoering bygewoon het, was ’n oudforensiese kundige van die polisie, nou afgetree. “Die man, kort en bonkig met ’n growwe stem, het so-o-o gekyk na ons plakkaat, wat uit sekuriteitskamera- en identikitfoto’s van Stander bestaan het. Die laaste was die lyksfoto. ‘Lyk dit soos Stander?’ het hy gevra en met ’n vet voorvinger op die doods-foto gedruk. ‘Dáái man leef nog... ’ ”

Albert verkies deesdae om regie te doen – en net soos met sy spel, druk hy ook hierop ’n stempel van uitnemendheid af. Sy betrokkenheid by die studente-teatergroep The Mechanicals het verlede jaar gelei tot ’n Fleur du Cap-toekenning vir Die rebellie van Lafras Verwey.

Hy erken sy pa het ’n beduidende rol gespeel in die manier waarop hy teater benader. “Ek onthou toe ek op skool in ’n play was, en ons was so sleg, man. My pa’t kom kyk en niks gesê nie. Dit was nice. Soms dink ek ons is te slim oor ander se doen en late in dié bedryf...”

Ons praat oor die eise van toneelspel, die adrenalien wat inskop wanneer jy opstap en dis net jy daar op die verhoog, blootgestel.

“Hoekom praat mense oor adrenalien of dit ’n goeie ding is?” brom Waldi. Hy vertel hoe hy en sy vrou, Ira Blanckenberg – ook ’n aktrise – met 7de Laan hulle vaardighede geslyp het. “Sepies hou jou op jou tone.” Sy twee kinders, Kieran (13) en Dhania (10), is altwee gesoute klein akteurs en ook deel van ’n gereelde familie-toneelprojek.

“Dis die verskil tussen my en die jonger spelers – hulle wil net speel,” sê Albert. Sy eie seun, Viljé, is nou in Verraaiers, terwyl die jonger Martiens animasie gaan studeer.

’N PAAR dae ná die onderhoud kry ek ’n YouTube-videoskakel van Albert. ’n Jonger Albert is Stander. Sideburns en ’n 70’s Ford Cortina wat cruise deur ’n reënerige nag.

Die kamera zoem in op sy gesig: “Robert De Niro se Travis Bickle in Taxi Driver sê: ‘All the animals come out at night... I can’t sleep nights. I can’t sleep nights...’ En so begin my storie...”

Vir 'n voorsmakie:

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Lotto
Ksd: 17-23°C Sunny. Mild. Pta: 9-21°C Sunny. Mild.
Jhb: 8-16°C Morning clouds. Cool. Bfn: 7-20°C Morning clouds. Mild.
Dbn: 15-25°C Sunny. Mild. PE: 14-24°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Winchester Mansions

Spend 3 nights at Winchester Mansions from R3 330 per person sharing and pay for 2 nights. Includes accommodation, return flights, car rental and Local Travel Insurance.

Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Drama- & liefdes-DVD’s – 2 vir R99

Moenie ons spesiale aanbiedinge van liefdes- en drama-DVD’s, wat jou ure voor jou skerm vasgenael sal hou, misloop nie. Die aanbod is geldig vir solank daar voorraad is. Koop nou.

Eksklusiewe spesiale aanbod op Wii U

Spaar R999 op hierdie wonderlike aanbod: Wii U 8GB-konsole, basiese pakket, + ’n bykomende stel + Nintendo Land. Nou net R4399.95. Solank daar voorraad is. Koop nou!

Opruimingsuitverkoping! Spaar tot 60%

Besoek ons opruimingsuitverkopingwinkel vir asemrowende aanbiedinge en spaar tot 60%. Solank daar voorraad is. Koop nou!

Witwarm winskopie van die week! Bespaar R2000 op die Samsung Galaxy SIII

Kry die Samsung Galaxy SIII vir slegs R4999.95. Dit is ontwerp vir die mens, maar geïnspireer deur die natuur. Word binne 24 uur versend. Terwyl voorraad hou. Koop nou!

Dan Brown’s se jongste roman, Inferno

In Dan Brown se nuwe roman, Inferno, is die Harvard-simboolkenner Robert Langdon weer aan die stuur van sake. Dit speel af in die hartjie van Europa, waar Langdon ingetrek word in ’n raaisel rondom een van die geskiedenis se oudste en geheimsinnigste literêre meesterwerke. Die langverwagte roman word vandeesweek uitgereik. Plaas jou bestelling nou!

Witwarm Weber-aanbod!

57cm kompakte braaitoestel + GRATIS deksel + GRATIS visbraaier vir R1299.95. Solank voorraad beskikbaar is. Stel nou ondersoek in.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

There are new stories on the homepage. Click here to see them.