Van plakkate na skilderye
2010-09-04 13:17
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
As kind het ek plakkate (eintlik meestal die uithaal-middeldubbelblad met die vriendelike vergunning van Huisgenoot) teen my muur gehad. Vandag pryk daar oorspronklike skilderye teen die mure (nie soveel as wat ek graag sou wou hê nie en ongelukkig val party kunstenaars nie binne my begroting nie).
Die oorskakel van plakkate na skilderye is vir my tekenend van die ontwikkeling van smaak, van ’n wyer blootstelling wat iets definieer van wie en wat jy is.
As laerskoolkind het Bruce Lee ’n ereplek beklee. Ek onthou dit soos gister: Die tipiese houding van ’n man wat reg is vir die aanval (daai dae het ons dit karate genoem), bolyf kaal en blink van die sweet. Enter the Dragon. Dit was loshande my gunstelingprent van Bruce Lee. Dalk omdat dit die naam van die prent is wat eerste in my kop opkom.
Ek moet tot my skaamte erken dat daar in my tienerjare ’n wasige beeld van ’n vrou, duif in die hand, bo my kop gehang het. Ewe dramaties het daar gestaan: “If you love something, set it free; if it comes back, it’s yours, if it doesn’t, it never was.” Genugtig, Helen Steiner Rice, jy kan jou ou skoene agterna gooi. Ek was nie ’n groentjie-duiweboer nie. In retrospek het ek my bedenkinge oor dié liefdesfilosofie. Maar dit is ’n gans ander storie.
Uit my kleuterdae staan Bambi vir my uit – daai bokkie-oë het my snot en trane laat huil. Maar die karakter wat my hart gesteel het, is Baloo the Bear in The Jungle Book. Selfs vandag nog kan ek The Bare Necessities dwarsdeur sing.
Ek was ’n singende kind – kunswedstryde en al daai. Seker dié dat ek so danig was oor musiekprente: Mary Poppins, Oliver!, The Sound of Music, My Fair Lady, Fiddler on the Roof. Laat my los op Noot vir noot en ek sal liedjies hieruit sing dat dit klap. Maar deesdae is die lewe nie vir my so liedjierig nie. Musiekprente kom vir my effe geforseerd voor. En dit is nie sommer dat ek met ’n wip in my stap uit die teater stap nie.
Afrikaanse en Suid-Afrikaanse prente het ook ’n indruk gemaak. Dirkie met kind en hond wat alleen die woestyn moet trotseer, het my kinderhart geroer. Jamie Uys se diereprent Funny People het my laat skater. Ek wonder of die dronk olifante ’n saadjie geplant het vir die maroela-likeur wat later op drankwinkels se rakke verskyn het. My broer se bril met Cobus Rossouw het my koue rillings gegee. Vandag skrik ek nie meer so maklik nie.
Ek het al voorheen gepraat oor die talle kere dat ek Gone with the Wind gesien het, maar een ervaring staan vir my uit. Omdat die prent bykans vier uur lank is, het dit ’n pouse gehad. ’n Verslete en uitgeteerde Scarlett staan met haar hand omhoog en sê: “As God is my witness, I’ll never be hungry again!” Tyd vir springmielies en koeldrank. Die ironie het my nie ontgaan nie.
Heelwat van my fliekervarings kan ek koppel aan inryteaters. Die hobbels waar jy die kar reg staan moet maak om die reuse-skerm die beste te sien. Hoe ’n mens van een staanplek na ’n volgende ry op soek na klank wat nie te krakerig is nie.
Die piekniekmandjies. Of as jy die ouers kon oortuig, die toegewing om by die kiosk doer agter te gaan gemorskos koop.
Dit was by ’n inryteater waar ek die rolprent gesien het wat my anders na rolprente laat kyk het, wat my die eerste keer werklik laat besef het dat daar ’n onderskeid is tussen goeie en swak rolprente. Dit was in my Delmas-dae. Sover ek kan onthou, was die inryteater iewers in Springs se omgewing. Maar die prent sal ek nooit vergeet nie: One Flew over the
Cuckoo’s Nest.
Ek was in st. 6. Volgens die ouderdomsperk was ek streng gesproke net-net nie oud genoeg om die prent te sien nie. Dít opsigselwers het my laat voel ek is besig om ’n grootmenswêreld te betree. Ek is versigtig om na ervaringe te verwys wat ’n mens se lewe verander, maar ek kan onteenseglik sê One Flew over the Cuckoo’s Nest het my oë oopgemaak.
Ek onthou veral twee karakters: die een gespeel deur Jack Nicholson; en “Chief”, ’n reus van ’n man en oënskynlik stom. Volgens die internet vertolk deur Will Sampson. Die einste internet sê hy het ook in Orca gespeel. Dit kan ek nie onthou nie. Daar is tonele wat in my kop ingeprent is, wat ek vandag nog helder kan oproep.
’n Paar jaar later het ek op Ken Kesey se boek afgekom en dit gekoop, maar tot vandag toe het ek nooit weer die prent gesien nie.
’n Prent wat vyf Oscars gewen het, wat geregisseer is deur Milos Forman. ’n Naam wat destyds vir my niks beteken het nie, maar waarvan ek deeglik kennis geneem het met Amadeus.
Jackie Chan is g’n Bruce Lee nie, maar dit beteken nie ek sal wil plek maak vir Lee teen my muur nie. Maar ek sal wat gee vir ’n plakkaat van One Flew over the Cuckoo’s Nest. Dít is ’n ervaring wat van my minder kind gemaak het.
Kortliks
Salt
Geregisseer deur Phillip Noyce met onder andere Angelina Jolie, Liev Schreiber, Chiwetel Ejiofor en Daniel Olbrychski. Nie geskik vir kykers onder 16 nie. ’n Lawwe 6
Salt (Jolie) is ’n besonder vreemde naam vir ’n karakter. En uit die staanspoor moet ek sê Jolie is haar sout werd. Toegegee, die karakter se voornaam is ’n baie bedeesde Evelyn, maar daar is niks Evelyn-rig aan Jolie se vertolking nie.
In haar rol as Lara Croft het Jolie nog nie heeltemal haar aksievoete gevind nie, maar in Mr. & Mrs. Smith het sy dubbel en dwars bewys dat sy nie met haar laat mors nie.
’n Stukkie interessante trivia oor Salt is dat die rol oorspronklik vir ’n man geskryf is, genaamd Edwin Salt. Geoormerk vir Tom Cruise. Ek het geen twyfel dat Cruise die rolprentmakers ’n guns gedoen het deur te onttrek nie. Cruise het al hoe meer ieffie-rig geword.
En om Jolie teenoor Schreiber (in die rol van Ted Winter) te plaas, was ook ’n geïnspireerde besluit. Sout en peper, kan ’n mens maar sê.
Salt is pure aksie, adrenalien-gedrewe en in dié opsig stel dit nie teleur nie. Dit is wanneer dit by die draaiboek kom dat dit ietwat laf begin word.
Salt, ’n CIA-agent, word deur ’n oorloper onthul as ’n Russiese spioen. Ook nie sommer só ’n spioen nie: een wat as kind reeds opgelei is vir haar groot taak. En haar groot dag lê om die draai – by die begrafnis van die Amerikaanse vise-president gaan sy die Russiese president vermoor.
Net daar en dan maak Salt haar uit die voete en met haar jare se opleiding is dit natuurlik nie so maklik om haar vas te trek nie. Volgens die plakkaat se trefreël is dit waar die raaisel lê: Wie is Salt?
Die prent gooi draaie en swaaie en wanneer die raaisel uiteindelik opgelos word, kan jy dit nie help nie: ’n mens sluk nie sommer dié storie nie. Maar as jy bereid is om die storie met ’n knippie sout te neem, kan jy jou wel verlustig in die kombinasie van Jolie en Schreiber.
Vampires Suck
Geregisseer deur Jason Friedberg en Aaron Seltzer met o.a. Jenn Proske, Matt Latner en Christopher Riggi. Nie geskik vir kykers onder 13 nie. T/G
Vampires Suck steek die draak met verskeie tienerprente wat onlangs die lig gesien het. En soos die titel aandui, is die Twilight-reeks een van dié wat deeglik deurloop. Hier en daar is gewilde sangsensasies ook in die visier.
- Rapport