Vark-en-appelburgers
2012-10-11 10:10
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
GENOEG VIR 4
BEREIDINGSTYD 30 minute
GAARMAAKTYD 15 minute
’n Paar jaar gelede sou ek nog my neus optrek vir hierdie burger met die woorde dat ek nie vleis en vrugte saam eet nie. Maar ek het sedertdien ’n smaak daarvoor ontwikkel en het waardering vir die effek wat soet en sout smake op mekaar het. Vark en appels is ’n klassieke, heerlike kombinasie.”
– Uit Heerlik & maklik: hartskos (Penguin, R190, beskikbaar by goeie boekwinkels.)
Vark-en-appelburgers met CAMEMBERT
1 kg varkmaalvleis
2 appels, geskil en gerasper
1 rooi-ui, gerasper
½ koppie vars pietersielie, fyngekap
2 koppies vars broodkrummels
1 teelepel sout
1 koppie gerasperde pecorinokaas
4 groot broodrolletjies, oopgesny en gerooster
vars roket
gekaramelliseerde uie
100 g camembertkaas, gesny
1 Meng die maalvleis, appel, rooi-ui, pietersielie, brood-krummels, sout en pecorino in ’n groot mengbak.
2 Braai ’n teelepel vol van die mengsel in ’n pan om te proe en geur dan na smaak.
3 Vorm die mengsel in vier vleiskoekies en sit dit in die yskas vir 20 minute. (As jy dit met kleefplastiek toedraai, kan jy dit oornag in die yskas hou.)
4 Braai die vleiskoekies in ’n groot swaarboompan tot dit deurgaar en goudbruin aan albei kante is. Of jy kan die koekies vir 10-15 minute op ’n bakplaat bak.
5 Sit dit voor op die geroosterde rolletjies saam met vars roket, gekaramelliseerde uie en snytjies camembert.
Boekbonus Drie My Tyd-lesers kan elk ’n gratis eksemplaar wen. E-pos* die woord HEERLIK in die onderwerpsveld, jou naam, kontaknommer en posadres vóór 16 Oktober na mytyd@newmediapub.co.za. (*Net een inskrywing per persoon.)
Wenk
Oorweeg ’n goeie appelsider saam met dié gereg. James Mitchell se Gone Fishing Cider (R17) word volgens tradisionele metodes van Elgin-appels gemaak en sal die appelgeure in dié burger uitlig. Sit yskoud voor.