Vinnige vetkoek
2012-09-26 13:17
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Deur Bernice van der Merwe
GENOEG VIR 4
BEREIDINGSTYD 15 minute
GAARMAAKTYD 15 minute
Varsgebakte vetkoek met heerlike kerriemaalvleis is sinoniem met kerkbasare, kermisse en feeste en is deesdae ’n tradisie wat ons met al ons landgenote deel! Die meeste bakkerye verkoop deeg waarmee jy brood, rolletjies en selfs vetkoeke kan bak. Bestel dit sommer vooraf.
* Uit Een-twee-drie op die tafel deur Bernice van der Merwe, (Human & Rousseau, R195)
Kerriemaalvleis-vetkoeke
Vulsel
30 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
1 knoffelhuisie, fyngekap
1 klein wortel, gerasper
5 ml matige kerriepoeier
3 ml borrie
’n knippie fyn komyn
300 g maalvleis
sout en varsgemaalde
swartpeper
5 ml worcestersous
60 ml beesvleis- of groente-aftreksel
15 ml fyn appelkoos-konfyt
’n hand vol koljander-blare, grofweg gekap
Vetkoeke
500 g gekoopte brooddeeg
kookolie vir diepbraai
1 Verhit die olyfolie in ’n kastrol en braai die ui, knoffel en wortel vir ’n minuut daarin.
2 Roer die kerriepoeier, borrie en komyn by. Braai vir nog ’n paar minute tot geurig.
3 Roer die maalvleis by en braai tot amper gaar.
4 Geur met die sout en peper en meng die worcestersous, aftreksel, konfyt en koljanderblare by. Laat prut vir ongeveer 10 minute.
5 Verhit intussen die kookolie vir diepbraai terwyl die kerriemaalvleis prut.
6 Knie die deeg liggies op ’n meelbestrooide werkoppervlak en vorm balle wat ’n bietjie groter as ’n gholfbal is daaruit. Druk dit effens plat met jou hand.
7 Sodra die olie warm genoeg is, druk elke deegbal weer met jou hande plat en laat sak dit versigtig in die warm olie. Braai tot goudbruin en gaar. Haal uit en dreineer op kombuispapier.
8 Sny die vetkoeke halfpad oop sodra dit taamlik afgekoel het.
9 Skep kerriemaalvleis daarin en sit voor.
WynWenk
Dié tradisionele gereg smeek vir ’n geurige, romerige wyn – veral om die kerrie te komplementeer. ’n Gehoute chardonnay sal goed werk, soos Jordan se Barrel Fermented Chardonnay.
– Elona Hesseling