Vlieger hoor mense lag
2012-02-04 14:43
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die pyn was erger. Vlieger het sy oë oopgemaak. Hy het dadelik geweet waar hy was. Buite was die lug ’n vaalgrys vroegoggend-dowwigheid. Iemand se rubbersole het verby geskwiek. Vlieger het rondgekyk in die skemer kamer.
Die Mummie in die oorkantste hoek het gekreun. Dit was die eerste geluid wat Vlieger uit hom gehoor het. Hy het lank lê en kyk na die man wat van kop tot tone in verbande was, maar daar was nie weer ’n geluid nie. Vlieger was verlig. Hy het nie geweet wat hy sou sê as die Mummie wou weet wat gebeur het nie.
Niemand in die kamer het gepraat oor wat met hulle gebeur het nie. Nie eens Rooies wat nooit stilgebly het nie. Dawie met die verbande voor sy oë het nog minder as Vlieger gepraat. Maar nie Rooies se gebabbel of Dawie se stilte het Vlie-ger gepla nie. Hy het geraai dat hul koppe dalk net so vol soos syne was. Dat hulle ook agter hul eie gedagtes aangehardloop het soos ’n hond agter sy eie stert sonder om dit ooit te vang.
Vlieger het sy ma en pa en Drienie gemis. En vir Jerry en vir Costa en vir Bosveld en vir Liefie en vir Toskop en selfs vir Corporal Saunders. En hy het gewens dat hy saam met sy pelle was in die bos eerder as in die hospitaal. Hy was seker as die Here of die Luitenant met die stetoskoop hom nou ’n keuse gee of hy by die huis saam met sy ma, sy pa en Drienie kon wees of in die bos saam met sy peloton, hy sy peloton sou kies. En hy het besef dat dit ’n stupid keuse was en het gewonder wat verkeerd was met hom.
Vlieger het onthou waar die gedagtes vandaan gekom het. Die Luitenant met die stetoskoop het die vorige aand gesê sy ouers gaan daardie middag kom kuier. Vlieger was nie lus om sy ma en pa te sien nie, want hy was bang dat hy sou begin huil en dit wou hy nie voor Rooies, Dawie en die Mummie doen nie. En hy het besef sy blinde kamermaat het dieselfde naam as sy Oom Daaf wat in die Tweede Wêreldoorlog dood is. En hy het vir ’n oomblik gewonder of hy nie dalk dood is nie.
Maar Fanus Rautenbach het iewers oor ’n transistorradio begin praat en Vlieger was verlig, want hy was seker Fanus Rautenbach is nie dood nie.
Hy het geweet sy ouers en Drienie gaan ontsteld wees as hulle hom saam met ’n blinde, ’n verbrande en ’n mummie in die kamer sien en hy het weer gewens hy was gesond en terug in die bos.
Toe Vlieger wakker word, was Rooies besig om vir Dawie ’n artikel uit die Huisgenoot voor te lees oor die eerste minister B.J. Vorster se studentedae. Op die voorblad was daar ’n foto van Sophia Loren en ’n opskrif: “Op die grens: Dambouers vertel dramatiese verhale”. Vlieger het na Rooies se stem geluister. Die eerste minister was in Stellenbosch op universiteit. Vlieger het op sy sy gedraai. Sy onderlyf was styf, maar hy het minder pyn gehad.
“Klim in.”
Vlieger het sy oë oopgemaak. Rooies was voor sy bed met ’n rolstoel.
Buite in die hospitaal se tuin het Dawie op ’n rooi, geel en groen tuinbank onder ’n palmboom gesit. Vlieger het versigtig uit die rolstoel opgestaan en langs hom gaan sit.
Rooies het ’n sigaret met ’n skerp puntjie uit sy handdoekstof-japon gehaal en aangesteek. Hy het die brandende sigaret tussen Dawie se lippe gesit. Dawie het ’n diep trek gevat. Die soet wit rook het swaar in die lug gehang. Dawie het die sigaret uit gehou. Rooies het dit teruggevat.
“Is julle nie bang nie?” het Vlieger gevra.
“Wat gaan hulle maak?” Dawie het vredig geglimlag. “?n Verbrande, ’n blinde en ’n rolstoel DB toe stuur?”
Rooies het ’n paar diep trekke gevat en die sigaret na Vlieger uitgehou.
“Ek rook nie.”
“Dis nooit te laat om te begin nie,” het Rooies gegrinnik. “Dit sal jou lekker laat slaap en help om van die pyn te vergeet.”
“My pa-hulle kom vanmiddag ’n draai maak,” het Vlieger gesê.
“Dit sal daarvoor ook help,” het Dawie gesê en begin lag.
Rooies, wat besig was om in te trek, het gelag, in die rook verstik en begin hoes. Die hoesbui het oorgewaai. Rooies en Dawie het al hoe harder gelag.
Vlieger het geglimlag. Dit was lekker vir hom om weer mense te hoor lag.