Vlieger wens hy het geld gehad
2012-01-21 13:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Daar was rysmiere en die reuk van rooi grond ná die reën. Maar ná die tyd was hy nie seker nie. Want sy ma was ook daar. En dit was nie moontlik nie. Sy was veilig by die huis. Waar hy ook graag sou wou wees. Eerder as gewond op ’n draagbaar.
Gewond het amper soos die verkeerde woord geklink. Want dit het meer gevoel soos die kombinasie van ’n diep sny en ’n harde stamp. ’n Vleeswond, soos John Wayne sou sê.
Maar die bloed aan Costa en Jerry se uniforms en die uitdrukkings op hul gesigte het gekeer dat hy afkyk. En ’n medic het gekom en ’n bondel gaas op sy heup gesit en toe vir Jerry en Costa gevra om saam sy onderlyf op te lig terwyl hy ’n lang crepe-verband daarom draai. Toe het die medic ’n drup in Vlieger se arm gesteek.
Daar was rysmiere en die reuk van rooi grond ná die reën. Maar ná die tyd was hy nie seker nie. Want sy ma was ook daar. En dit was nie moontlik nie. Sy was veilig by die huis. Waar hy ook wou wees. Eerder as gewond op ’n draagbaar.
En dit het gevoel asof hy opstyg en sweef en hy het gedog hy het sy liggaam verlaat. Maar die pyn in sy onderlyf het saam met hom opgestyg en geklop soos ’n chopper en hy was saam met Ollie in die Radio Hoëveld-helikopter. In die verkeer was daar ’n Bedford met ’n rooi kruis op die dak en Vlieger het hard probeer om nie te huil nie. ’n Dokter het by hom gekniel en hom ingespuit, geglimlag en “morfien” gesê. En daar was ’n tentdak bo sy kop en ’n swart stewelspoor teen die plafon waar iemand getrap het voordat die tent opgeslaan is.
Daar was rysmiere en die reuk van rooi grond ná die reën. Maar ná die tyd was hy nie seker nie. Want sy ma was ook daar. En dit was nie moontlik nie. Sy was veilig by die huis. Waar hy ook graag wou wees. Eerder as gewond op ’n draagbaar.
Elke keer dat hy wakker geword het, was dit asof hy op ’n ander plek was. Een keer het hy homself verbeel hy ry op ’n trein saam met ander soldate met drups in hul arms. En die pyn was so reëlmatig soos die klik-klak van die ysterwiele op die spoor. ’n Ander keer was hy oortuig hy was in ’n vliegtuig saam met ’n verpleegster wat lyk soos Liz, sy matriekmeisie.
Maar hy kon nie seker wees nie, want die reuk van die reën en die rooi grond was weg en die vlerke van die rysmiere het nie meer in sy ore getril nie en sy ma was nie daar nie.
En nog later het hy gehoor hoe iemand uit ’n Herman Charles Bosman-storie voorlees: “The predikant and the Volksraad member made speeches about how proud Transvaal was of her great son. Then Manie replied. Instead of thanking his audience, however, he started abusing us left and right, calling us a mob of hooligans and soulless Philistines, and saying how much he despised us.”
Vlieger het gelag en die stem wat voorgelees het, het gesê: “A... Kaptein Caprivi is wakker.”
Vlieger het sy oë oopgemaak. Daar was vier beddens in die kamer. ’n Rooi borselkop wie se arms albei tot bo die elmboog verbind was, het met ’n boek op sy skoot na Vlieger sit en kyk. Op die bed agter die rooikop was iemand met ’n verband voor sy oë. Op die derde bed was ’n wit mummie met pype aan masjiene gekoppel. Die vierde bed was leeg.
“Ek is Rooies.” Die rooikop het sy boek laat sak.
“Ek’s Dawie,” het die mond onder die wit verbande gesê.
Vlieger wou ’n grap maak oor die Boksombende en sê sy naam is Trompie, maar hy was te moeg en te dors. Hy het sy oë toe gemaak. Rooies het verder gelees.
Dit was al skemer toe hy wakker word. ’n Luitenant met ’n stetoskoop was langs sy bed.
“Hoe voel jy?” het die luitenant gevra.
“Waar is ek?” wou Vlieger weet.
“1 Mil.”
“Pretoria?”
“Ja.”
Die dokter het by die kamer uitgegaan. Iewers in die hospitaal het ’n telefoon gelui. Dit het na ’n tiekieboks geklink. Dit het ophou lui sonder dat iemand optel. Vlieger het gewens hy het ’n 5c gehad om huis toe te bel.