Ware storie: Ek het my werk verloor

2012-08-01 13:15

Dineke Volschenk | Foto: Debbie Yazbek

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Toe ek die koevert oopskeur en die opskrif sien, “Voorneme van aflegging”, ontplof ’n bom binne my. Ek word vuurwarm en begin sweet. Ek het dié gevoel vantevore ervaar. Twee jaar gelede het my menopouse begin met net sulke gloede. Toe het ek besluit ek gaan nie daarmee saamleef nie en vir ’n pil gevra. Maar vir vandag se gloede is daar geen medikasie nie.

Dis nie lekker om te sien wat die effek van so ’n aankondiging op ’n kantoor is nie. Daar is die middeljarige werkers in die pakkamer wat almal al baie jare hier werk en gesinne het. Een van hulle het sy broer se kinders ingeneem nadat sy broer en dié se vrou oorlede is. Wat gebeur met die kinders as dit hý is wat afgesny word?

Daar is die enkelma’s en -pa wat saam met my werk, die vrou met kanker, die een wat oor ’n paar jaar aftree, maar nodig het om nog te werk vir ’n leefbare pensioen.

Ons werkplek het eenklaps ’n dal van doodskaduwee geword. En die enigste mens wat weet wie diegene is wat die volgende dag die finale kennisgewing gaan ontvang, het reeds lughawe toe vertrek vir ’n kort vakansie in Frankryk.

Maar dit is toe nie een van my kollegas nie, maar ék wat my werk verloor, vind ek die volgende oggend uit toe ek na die raadsaal ontbied word. Ek sien hoe ’n paar mense in die gang grootoog na my kyk toe ek verby hulle kantore stap.

Die dubbeldeure van die raadsaal word plegtig agter my toegemaak. Voor my is ’n konsultant wie se taak dit is om my daarvan in te lig. Sy ken my nie. Sy het geen emosionele belegging in my as ’n mens nie; dit maak dus nie ’n blou duit aan haar saak nie. Sy is die hedendaagse weergawe van ’n huurmoordenaar. Ek wonder vaagweg hoeveel word sy betaal.

Dis asof sy ’n inkopielys aflees: Die maatskappy gaan herstruktureer bla-bla-bla, my afdeling moet verklein en daarom is ek nou oorbodig. Vir haar is dit ’n formaliteit, vir my heel moontlik die einde van my loopbaan. Die werkswêreld is allergies vir ouer mense. Binne my kop suis die stilte. Oorbodig. Nie meer nodig nie. In die pad. Ongeldig. Sommer net so. Byna ’n dekade van veeleisende werk om ’n maatskappy geheel en al nuut te help posisioneer, nagte van kommer, naweke en aande van werk, dis alles nou “oorbodig”.

Toe die doodsengel haar handsak opneem en die gebou verlaat, verbeel ek my ek hoor my kollegas kollektief sug van verligting.

Daardie aand skakel ek die verwarmer af, ek sal dit nie meer kan bekostig hierdie winter nie. Ek sit onder ’n duvet en dink, tob, bekommer. Slaap min. Vergeet om te eet. 

Ek moet tot die einde van die maand werk, en soggens sleep ek myself kantoor toe.

Ek het skielik melaats geword. Almal is jammer vir my en verleë daaroor, maar dis makliker om my te vermy. Ek vermoed hulle ly aan oorlewingskuldgevoelens.

Ek word skielik geïsoleer op ’n plek waar ek tevore tuis was. Ek voel asof ek iets verkeerd gedoen het. Daar word óór my gepraat, nie meer mét my nie.

My belewenis van die werklikheid word skisofrenies: ’n rasionele ervaring wat presies verstaan wat gebeur en waarom, en ’n emosionele ervaring wat dit moeilik maak om die mense se reaksie te hanteer. Ek sou seker maar dieselfde gedoen het as hulle, maar dit maak seer.

Vir die volgende paar dae sit ek tjoepstil in my kantoor en stuur e-posse na almal wat ek ken: Hier is my CV, ek soek werk. Ek skryf op Facebook dat ek afgelê word, ontvang talle boodskappe van simpatie en bemoediging.

Saans is ek depressief, slaap sleg, sweet in die nag en kry angsaanvalle wat in my drome begin van hoe ek met my motor oor afgronde ry, of verdrink in vuil poele water. Ek skrik telkens vervaard wakker. 

Ek stel uit om my familie te vertel – my ouers, my susters en swaer, want ek weet hoe hulle hulle gaan bekommer. Uiteindelik kan ek dit nie meer langer wegsteek nie. Ek bel en gaan kuier en vertel hulle daarvan. Hulle is stoïsyns, maar ek weet van beter en voel skuldig dat ek dit aan hulle doen.

In die dae wat volg, maak ek somme. Ek is vreesbevange ek gaan teen die spoed van lig verarm. Wat nou van my aftreebeplanning? Waar gaan ek as middeljarige wit vrou weer werk kry? Wat as ek hondekos gaan moet begin eet? In die winkel bekyk ek die blikkies hondekos. Daar is gelukkig baie voedingstowwe in, sien ek, maar die goed is so duur, ek weet nie of ek dít eens sal kan bekostig nie!

My finansiële adviseur kom sien my op kantoor en ons maak verstellings aan my portefeulje waar moontlik, verklein my maandelikse polisbetalings, beplan hoe en waar kan ek sny en verander. Hy is ’n rots. Ek voel ’n klein bietjie meer gerus.

Enkele dae ná D-dag maak die konsultant weer ’n afspraak om my skeidingspakket te kom bespreek. Besef ek watter “wonderlike geleenthede” wag vir my daarbuite?  “Hoekom het jy nie laaaankal gegaan nie?” babbel sy.

Ek vererg my bloedig. “Omdat ek my hele loopbaan lank daaraan werk om een van die beste uitgewers in die land te wees. Omdat my werk vir my belangrik is. Dís hoekom,” blaf ek.

“Hahaha,” lag sy, “Is jy nou by die de-moer-in-fase?” Met genade druk ek nie my vuis in haar mond nie.

Die klassieke fases van leed is inderdaad ook op my van toepassing: ontkenning, woede, onderhandeling, depressie en hopelik, ter wille van my geestesgesondheid, aanvaarding.

Ek was só seker dit sou gek wees om my te laat gaan, ek voeg dan soveel waarde by? My wraakfantasieë het my skaam gemaak. Toe het ek gaan pleit vir kontrakwerk. My baas was ontwykend, ek daarenteen het dit oorweeg om op my knieë te gaan.

Nou ervaar ek oorweldigende gevoelens van verlies. My oë is dik gehuil. My eetlus is weg. Uiteindelik ’n dieet wat werk: die word-vir-die-wolwe-gegooi-dieet.

Een van die grootste teleurstellings vir my is die feit dat ek vir ’n taal- en kultuurorganisasie werk. ’n Paar dae nadat ek die nuus gehoor het, woon ek ’n glansryke funksie van my maatskappy by. Dit vind plaas by een van die grêndste hotelle in Kaapstad. Afrikaners is mos plesierig. Maar as jy lojaliteit wil hê, kry vir jou ’n hond, sê die spreekwoord, nie waar nie?

Maar daar is ook vreugdes in die proses. Een van my skrywers laat lewer vir my ’n blommerangskikking af so groot soos die Eiffeltoring en boonop op kantoor. Vir dae ruik die hele gang na blomme.

My skoolvriendin neem my uit vir ’n uitspattige ete en ons drink vreeslik baie wyn, gooi allerhande idees rond, maak absurde grappe en lag soos laerskoolseuns daarvoor.

’n Swart kollega wat nie eens Afrikaans is nie, span saam met haar man (wat ek nie eens ontmoet het nie) om die wêreld vol te bel op soek na werk vir my. Dit ontroer my.

My skoonheidsterapeut, the Magnificent Ms Naidoo, bring vir my ’n CD met meditasie-dreunsange om te help om my kalm te hou. ’n Ander vriendin maak vir my afsprake met ’n regsadviseur. Die e-posse, teksboodskappe, oproepe van advies, bemoediging en ondersteuning laat my nederig.

Ek en my vakbond-verteenwoordiger het vergaderings met die maatskappy en kom uiteindelik ooreen oor my pakket. Ek kan maar dieselfde dag huis toe gaan, sê hulle, al is dit nog nie die einde van die maand nie.

Ek pak my persoonlike besittings en loop. Niemand staan tou om my te kom groet of help dra nie. Ek sal e-posse stuur, besluit ek.

Die volgende oggend slaap ek tot agtuur. Ek maak die gordyne oop en kyk na die winterlandskap, huil my kussing nat. Ek besluit om te probeer om vir minstens ’n maand lank sabbatsvakansie te hou, rustig te word en oor my toekoms te dink.

Ek sal in die toue vir werkloosheidsversekering gaan staan, ek betaal al dekades lank daaraan. Ek sal my sente omdraai.

Daardie middag hoor ek oor die nuus ’n sinkgat het op die N14 ingeval en die toue verkeer staan smiddae vir ure lank bankvas.

Dit was my roete huis toe. Ek dank die Here vir klein genades.  


AFGELÊ? HIER’S RAAD

Pieter Joubert, ’n finansiële adviseur wat self op 51-jarige ouderdom afgelê is, sê een van die belangrikste aspekte ná aflegging is om te besef dat jy jou finansiële leefstyl drasties moet aanpas. Hier’s sy raad.

Die samestelling van jou skeidingspakket speel ’n baie belangrike rol in die oorleeffase tot jy ’n nuwe werk kry. In die algemeen moet jy die volgende opsies oorweeg vir finansiële oorlewing:

1  Maak ’n lys van jou bates, laste en maandelikse uitgawes. Ontleed elke item en kyk waarsonder jy kan klaarkom. Die meeste mense het ’n huisverband, persoonlike lenings, oortrokke fasiliteite en kredietkaartskuld. Die maandelikse terugbetaalpaaiemente op dié skuld beloop in die algemeen meer as 60% van mense se maandelikse uitgawes, so gee so gou as moontlik aandag hieraan.

2  Ondersoek jou skeidingspakket. Dit bestaan gewoonlik uit die afleggingspakket wat in ’n enkelbedrag uitbetaal word, asook jou pensioenfonds wat gewoonlik oorbetaal moet word na ’n beskermingsfonds of ’n ander erkende pensioenfonds of uittree-annuïteit. Jy moet besluit wat jy met jou pensioenfonds gaan maak.

3  Probeer om skuld wat jy wil afbetaal met ’n deel van jou kontantpakket te doen en nie te raak aan jou pensioengeld nie – onthou, jou aftrede lê nog voor. As jou skuld en maandelikse uitgawes jou inkomste oortref, word jy gedwing om af te skaal. Verkoop byvoorbeeld jou eiendom en koop iets kleiners. Jy kan met die winste uit jou bestaande eiendom die nuwe een kontant koop en só jou maandelikse uitgawes drasties verminder.

4  Jy gaan dalk geforseer word om jou mediese fonds af te skaal, maar neem liewer ’n goedkoper plan uit as om sonder ’n mediese fonds te wees.

5  As jou maandelikse uitgawes steeds te hoog is, moet jy jou posisie met jou skuldeisers bespreek. Onderhandel vir uitstel of verlaagde terugbetaalpaaiemente. In sommige gevalle kan nuwe ooreenkomste beding word. Soms bied die finansieringsmaatskappy versekering aan vir aflegging. Die voordeel hiervan is dat die maandelikse paaiemente vir ’n periode van sê ses maande namens jou betaal word. Vind uit by jou skuldeiser of daar sulke voordele in jou ooreenkoms bestaan en stel dit in werking. Minstens kan dit jou maandelikse druk verlig totdat jy weer begin werk.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
46 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 9-14°C Numerous showers. Afternoon clouds. Cool. Pta: 6-23°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 3-19°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 7-20°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 17-29°C Sunny. Pleasantly warm. PE: 16-22°C Mostly sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!