Ware storie: Om Jaco te mis

2012-09-05 12:53

Helene en Jaco

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Dit haal nie die koerant nie.

Die media is nie onsimpatiek nie, dis net dat daar werklik nie ruimte is vir alledaagshede nie. Om te verongeluk is alledaags…

Ons oudste seun van 33, Jaco, staan een oggend niks-vermoedend op, ry werk toe en by ’n T-aansluiting ry iemand hom dood.

Was ons kwaad? Nee. Verbysterd? Hartseer? Onuitspreeklik. Vernietigend hartseer.

Ons was by ’n kongres in Durban en dit het in Pretoria gebeur. Dis ons tweede seun, Herman, se lot om die nuus oor te dra. Hy is ’n bankier en gelegitimeerde predikant. Hy preek en doen sterwensbegeleiding. Hy bel my man, Jos, midde-in lesings, en deel die nuus mee. Reguit en eerlik. Hy weet sy pa sal dit so verkies.

Pa, ek het slegte nuus, Pa. Jaco was in ’n motorongeluk… Hy is dood. Ek vlieg nou na julle toe, Pa.

Nee… Bly waar jy is, my kind. Ons vlieg huis toe. En Herman… sal jy hom gaan uitken?

Ek en my man is woordeloos van smart. In ’n stadium wens ek die vliegtuig wil die ewigheid in vlieg. Maar so eenvoudig is dit nie. Die dood verg ’n praktiese benadering en goeie organisasie. Eerstens het Herman sy broer by ’n klein polisiekantoor gaan uitken. Dis nie soos in die flieks nie, sê hy bleek. Jaco het op sy sy agter glas gelê.

Maar hy kon sien dis hy.

Die liggaam moet eers by die polisie gekry word voordat die begrafnisondernemers daarmee werk.

Ek besluit om die mens te bel wat vir die versorging van my kind se liggaam verantwoordelik is. Ek sê hy moet asseblief mooi met my kind werk.

En ek vra stotterend: Meneer… sê my… lyk hy… erg?

Nee, mevrou, dit lyk nie asof hy in ’n motorongeluk was nie. Sy nek voel net slap.

Aan tafel sak my kop tot langs my bord. Hoe kan hy dan dood wees? roep ek uit.

Reëlings moet getref word. Herman gaan sy boet se troosdiens lei. Ek vra ’n vrou by die kerk om ’n lang wit kruis van Sint Josef-lelies te maak om langs die kansel te staan. Sy sê sy het nog nooit so iets gedoen nie. Doen dit nou, smeek ek. En sit wit kerse tussen die blomme.

Daar lê ’n onnoembare ding voor: Die besoek aan die ondernemers om – eufemisties gestel – die liggaam te gaan besigtig. Mense beveel dit aan. Dis vir afsluiting. Sodat jy nie meer kan wonder of dit inderdaad so is nie.

Eers moet besluit word wat vir Jaco aangetrek word. Hy kan tog nie so sonder klere in die kis lê nie. Want ons vind tot ons ontsteltenis uit dat liggame sonder klere in die kis gesit word as die familie nie daarop aandring dat hulle aangetrek word nie.

Ons en sy mooi, stil vrou kies ’n donkergrys broek, hemp en das wat Jaco lief was om te dra. Ons besluit dit alleen is nie deftig genoeg vir ’n begrafnis nie. Jaco was lief vir stylvolle klere. Ek haal wyle oupa Herman van Schalkwyk se kanselbaadjie van swart linne uit. Dis reg vir die okkasie, besluit almal.

IN die skemer vertrek met sy borrelende fonteintjie staan ’n kis. Die klap van die boonste helfte is oopgeslaan. Ek sidder toe ek na my kind se gesig kyk. Die stil gelaat lyk met die gebruik van kunsmatige kleursel amper normaal. Té normaal vir die absurde tog heilige situasie.

Kan dit waar wees? Is hy régtig dood?

Ek raak aan hom.

Sy bruin kuif, netjies teruggekam, is stokstyf soos doodgerypte gras. Ek vat aan sy gevriesde voorkop en sy vierkantige ken met die effense duikie in. Ek kyk hoe mooi my kind is. (Was.) En ek kry hom opnuut lief met ’n vreemde, pynlike liefde wat ekself nie begryp nie. Want hierdie is die oomblik wat ’n ouer die meeste vrees…

Ek kyk na my man toe hy nader buk om te sien of dit regtig is, of dit dan nou só is. Daar is vrae in sy moeggehuilde oë, ’n onuitspreeklike verslaendheid rem aan sy mondhoeke.

Dood… Wát presies is dit? ’n Raaiselagtige, onvermydelike fenomeen? Geen filosofie of ideologie kan dit versuiker nie. Dis giftig, kil, vreesaanjaend. Wát is dit eintlik, Here, wát… ? Waarom lyk ons kind nou só… so geheel en al teenwoordig, en tog so absoluut afwesig?

Die vrae tuimel aanhoudend deur my kop. Ek sien op Jos se gesig ook die verskrikking van die wete dat sy kind waaragtig dóód is. Ek sien by hom dieselfde woedende begeerte wat ek self so akuut ervaar: Om die kind aan die skouers te vat – en wákker te maak.

Almal staar na die mens wat hulle liefhet. Sylvia se oë bly stilswyend op haar broer se gesig terwyl sy sy vrou se hand vasklem. Later loop hulle twee uit. Herman doen ’n gebed. Net God alleen onthou die woorde daarvan.

Baie mense daag op vir die troosdiens. Die wit kruis langs die kansel, met die wasagtige wit lelies en angeliere en flikkerende kerse, is asem-rowend.

Herman kies ’n onmoontlike teksvers: “Moenie dat dit jou ontstel nie. Vertrou My net.” Markus 5:36.

Ek luister en hou my man se hand vas. Ons kyk na die kis toe dit weggery word.

Ná twee weke is dit ons kind se beurt by die krematorium. Niemand mag die verassing bywoon nie. Ons huil die gewraakte uur om. En ja, ons pleit dat die ontsteltenis weggeneem moet word. Want ons kan nie ons lewe lank so bloedig verpletter voel nie. Wat sal van ons word? Wat sal van die mense om ons word as ons in hierdie swart put moet bly water trap?

Ons begin in dagdigte kompartemente lewe. Minuut ná minuut. Uur ná uur. Ons leer opnuut om te glo en te vertrou – want sonder geloof sien ons vir hierdie smart nie kans nie.

Ons hou huisvergaderings. Jaco mag ’n figuur in ons huis bly, want hy is steeds een van ons. Maar rou smart mag nooit ’n figuur word nie. Anders sal ons ondergaan. Ons vra om van binne af heelgemaak te word. Wat presies die woorde impliseer, weet ons nie. Ons vra maar net.

Ek besluit om ’n boek te skryf oor ons ervaring met die dood. Dis ontsaglik pynlik, maar terapeuties.

Dis agt jaar sedert Jaco weg is. En tog, ons is waarlik heel.

Ons mis Jaco, maar ons treur nie meer nie. Ons is heel mense. In George Eliot se woorde: Ons worstel nie meer met ons smart nie. Dit het bloot ’n metgesel geword.  

* Helene se boek, As dood lewe word, wat twee jaar ná Jaco se dood verskyn het, is onlangs vertaal en verwerk. When Death Becomes Life is nou as e-boek by amazon.com beskikbaar.


"My drie," soos Helene de Kock dié ou skoolfoto beskryf. Van links is Jaco, Herman en Sylvia.

Wat ons geleer het

• Die dood werk met elkeen anders. Ons glo in God, en as jy hulp vra, kry jy dit.
• Mense met ander sieninge kan die dood van ’n geliefde anders ervaar. Respekteer dit.
• Onthou jy het ander geliefdes ook. Hulle kry net so swaar. Moenie jou hele vrag rou emosies aanhoudend op hulle laai nie. Veral die ander sibbe kan dit dalk nie verwerk nie. Verseker jou ander kinders dat jy hulle onvoorwaardelik liefhet. Dat jy na hulle broer/suster verlang, maar dat jy innig dankbaar is dat jy hulle nog het.
• Moenie vasval langs die graf of die nis in die gedenkmuur nie. Jy sal jouself en álmal rondom jou in ellende dompel – ’n bitter soort bestaan wat niemand regtig wil hê nie. Die lewe gaan inderdaad voort.
• Ondanks alles bly die lewe soet.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
5 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-18°C Sunny. Mild. Pta: 2-19°C Sunny. Mild.
Jhb: 3-15°C Sunny. Cool. Bfn: 0-19°C Sunny. Mild.
Dbn: 9-23°C Sunny. Mild. PE: 8-24°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Good Morning, Mr Mandela van Zelda la Grange

Good Morning, Mr Mandela vertel die uitsonderlike verhaal van hoe ’n jong vrou se lewe, oortuiginge, vooroordele en alles waarin sy eens geglo het verander is deur die grootste man van haar tyd. Nou R221. Plaas jou voorafbestelling nou!

Bespaar 25% op die gewildste 25 boeke!

Kry 25% afslag op die topverkoperboeke, wat insluit Low-Carb Living for Families, The Book Thief, How to Train Your Dragon en nog baie meer. Koop nou!

Tot 60% afslag met die opruimingsverkoping!

Bespaar tot 60% op toestelle, boeke, elektroniese ware, speelgoed, flieks en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe Afrikaanse uitreikings

Sien jy uit na die nuutse Afikaanse titels? ’n Vuurwarm verskeidenheid boeke is beskikbaar by kalahari.com. Bestel nou!

Good Morning, Mr Mandela van Zelda la Grange

Good Morning, Mr Mandela vertel die uitsonderlike verhaal van hoe ’n jong vrou se lewe, oortuiginge, vooroordele en alles waarin sy eens geglo het verander is deur die grootste man van haar tyd. Nou R221. Plaas jou voorafbestelling nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!