Warm panzanella-slaai
2012-10-02 13:26
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
GENOEG VIR 4
BEREIDINGSTYD 10 minute
GAARMAAKTYD 15 minute
Evan Faull, medestigter van die gewilde Knead-bakkerye en skepper van die kookboek Café Food at Home, glo in maklike, geurige kos.
Dié panzanella-slaai met pruimtamaties en geroosterde artisjokharte is perfek vir die lente.
Die basis van ’n panzanella-slaai is brood.
Vir dié slaai gebruik jy sommer oorskietkos – vars groente, gister se brood en wat ook al in seisoen is – vir ’n koningsmaal. Geniet
– Uit Café Food at Home (Quivertree, R220)
Evan se warm slaai
½ middelslag-komkommer
4 ryp pruimtamaties
1 rooi-ui, in fyn repe gesny
1 stingel seldery, in fyn repe gesny
45 ml rooiwynasyn
100 ml olyfolie
4 dik snye dag-oue ciabattabrood,
in happie-grootte blokkies geskeur
60 g parmesaankaas, gerasper
240 g geroosterde artisjokharte (resep hieronder)
1 bossie vars basiliekruid
1 Verhit die oond se roosterelement.
2 Spoel die komkommer af en sny dit met ’n groenteskiller in repies. Moenie die middelste saadagtige deel gebruik nie.
3 Sny die tamaties middeldeur en druk die pitte en sap liggies in ’n bak uit. Skeur die tamaties in happiegrootte stukke en sit eenkant.
4 Maak ’n slaaisous deur die tamatiesap en -pitte te meng met die ui, seldery, asyn en olyfolie.
5 Pak die ciabattablokkies op ’n bakplaat en sprinkel ’n bietjie olyfolie en die parmesaankaas oor. Rooster tot die brood goudbruin en die kaas bros is.
6 Sit al die bestanddele op ’n opskepbord. Gooi die slaai-sous oor, garneer met basilieblare en sit dadelik voor.
Geroosterde artisjokharte
Dreineer ’n 410 g-blikkie artisjokharte, sny hulle middeldeur, meng met olyfolie en ’n skeut suurlemoensap, en braai in ’n warm pan tot bruin. Meng met ’n handjie vol gekapte vars pietersielie.
Wynwenk
Van Zyl du Toit, wynmaker by Allée Bleue op Franschhoek, sê die vars karakter en kruiegeure van hulle Sauvignon Blanc 2012 (R53) sal perfek by dié slaai pas.