Wees ge(soen) groet!
2012-10-10 12:52
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
My familie soengroet. Ek weer, is nie juis ’n soener en ’n drukker nie. By familiebyeenkomste het ek dus maar altyd die wang gedraai wanneer ek kon. Soms was ek egter nie vinnig genoeg nie en dan het die soen, karplaks, vol op my lippe geland. Dit was genadiglik iets wat ek op skool laas moes deurmaak – totdat ek my hierdie week in ’n familiesaamtrek laat inpraat het.
Elkeen het ’n unieke soen: tannie Anna groet met droë, stywe lippies; oom Piet s’n is slordig en sopnat; tannie Lida glo in die dubbelsoen – twee vinnig opeenvolgende kusse, gevolg deur ’n stywe druk; oom Stefaans mik gewoonlik mis en dan land die soen op jou neus of op jou oor. Só het elkeen hulle eie manier.
Ná die gegroetery kom die onafwendbare vraag: “En hoe gaan dit met die liefde?”
Dis vir hulle onverstaanbaar en onaanvaarbaar dat ek op 29-jarige ouderdom nog ongetroud is. Dié vraag word afgewissel met die jinne-maar-jy-het-grootgeword-frase. Lankal nie meer ’n kompliment op mý ouderdom nie.
Ek beland tussen ’n suster van ’n oom met wie ek ’n vae aangetroude konneksie het en ’n niggie wat ek nie herken nie. Hulle knibbel aan tuisgebakte melktertjies en roompoffertjies en ruil vrugtekoekresepte uit. Met die smaak van die soene nog so vars op my lippe, sien ek nie kans om iets te eet nie. Al wat my laat bly sit, is die gedagte aan die afskeidnemery wat voorlê.
Wanneer die tyd daarvoor aanbreek, stap almal saam motor toe. Die toepaslike groetwoorde word gesê en oom Stefaans se lippe is klaar getuit vir die eerste totsiens-soen.
“En hoe gaan dit deesdae met die liefde?” wil iemand weet.
Ek steek vinnig my hand uit en druk oom Stefaans s’n net effens stywer as wat nodig is…
Aniel Botha was ’n ballerina en is nou ’n skrywer en private onderwyser.