Welcome to my office
2012-11-11 23:03
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Daar is ’n geluid wat vir my mooier is as enigiets wat ek ken. Dis mooier as die klank van die duiwe wat koer buite my vensterbank. Dis mooier as Bob Dylan se nuwe album. Dis selfs mooier as die gesis wanneer die hout begin warm word en vlamvat as ons braai.
Dis die stem van die man wat vir my sê: “Welcome to my office”, elke keer as ek van ’n vliegtuig afklim iewers in Suid-Afrika.
Kyk, ek hou mos niks van vlieg nie. Dis vir my ’n marteling om op te styg. Dis ’n marteling om die vliegtuigkos te probeer eet. Dis ’n marteling om te land. Ek haat vlieg. Ek ly aan hoogtevrees. Die kleinste bietjie gewikkel maak my bang.
En elke keer, net nadat ek afgeklim het, my vrees afgeskud het, en eindelik tussen die malende massas deur my weg gebaan het tot by die naaste urinaal, word ek gegroet deur ’n vriendelike man met ’n glimlag soos wit porselein wat by die deur van die manstoilet staan, met ’n mop in die hand en ’n emmer, en hy sê: “Welcome to my office.”
Hulle sê dit vir almal. Hulle staan altyd by die toilette net langs die vervoerband waar ’n mens jou bagasie kry. Ek weet nie of dit amptelike lugdiensbeleid is of nie.
Dis ’n lafenis om hierdie woorde te hoor. Dis wonderlik om te besef dat Suid-Afrikaners nog, ten spyte van al die probleme wat ons in die gesig staar, ’n sin vir humor het.
Elke keer wanneer iemand vir my daar-die woorde sê – “Welcome to my office” – onthou ek dat ek ’n mens is, dat ek hier hoort, en dat ek op geen ander plek ter wêreld so tuis sal kan wees nie.
Koos Kombuis is ’n sanger, skrywer en digter.