Wingerd op Hemel-en-Aarde
2012-01-28 13:36
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Hemel-en-Aarde is ook nie meer wat dit was nie. Wyn-geografies, gesproke. Dit bly egter een van die mooiste valleie en sekerlik ook ’n wynstreek wat net die beste oplewer. Ons praat natuurlik van daardie nimlike kloof agter Hermanus se Walkerbaai waar daar tot sowat 40 jaar gelede net fynbos en uniek-inheemse heide en proteas in die veld was.
Dis juis vanweë die wingerde wat daar so gedy dat die streek ook nie meer doodeenvoudig Hemel-en-Aarde heet nie. Nee, sedert ’n jaar of drie gelede is die hemel en die aarde daar verder onderverdeel in wat in wyngeledere as “wyke” bekend staan.
Diegene wat ’n siniese trek het, glo dit het te doen met ’n soort parvenu-snobisme wat daar posgevat het. Maar waarskynlik is dit maar net eenvoudig omdat die ernstige wynmense wil sien of daar werklik in die lang vallei outentieke wyn-identiteit is wat uitstaan.
Daar is nou drie amptelike afbakenings van die wyndistrik Hemel-en-Aarde (voor 2004 was dit die Walkerbaai-wynwyk). Daar is die Hemel-en-Aarde-Vallei (eerste strook as jy van Onrus se kant op die R320 die pad aanpak), dan Boonste Hemel-en-Aarde-Vallei, en, sedert 2009, die verste wyk, nou as Hemel-en-Aarde-Rant geklassifiseer. (’n Mens sal nie die naamgewers om hul oorspronklikheid prys nie. Maar nou ja.)
Met die laaste optelslag was daar 14 wynprodusente. Die name wissel van tipies pretensieus (en onuitspreekbaar) tot die hartlike Spookfontein (al daar sedert 2000 en op pad na die enigste organiese produsent in die omgewing).
Maar moenie verbaas wees as daar nog kom nie. Die gebied kom met sy eie status van aansien, gelukkig darem ook met grond en ’n klimaat wat nommerpas is vir adellike druiwe vir fynproewer-wyne.
Dit was dus heel gepas en ondernemend van Anthony Hamilton Russell om so ’n paar weke gelede sy wyngenote byeen te roep en te wys wat hulle in wingerd en bottel het – sodat ons kon proe of daar terroir-eienskappe in die pinot noir-wyne uit hul kelders te identifiseer is.
Die naam Hamilton Russell is natuurlik die Hemel-en-Aarde se eie wynlegende. Toe Anthony se pa, Tim, hier die eerste wingerde in 1975 op die skuinste oorkant Mejuffrou Sylvia se plaasskooltjie, Braemar, geplant het, het almal gedink die kêrel is aweregs, stroomop.
Maar hy het geglo dat dié koel bergstreek so na aan die see ideaal was vir die klassieke wyndruiwe soos chardonnay en veral daardie korrelkop, Boergondië se pinot noir.
Wel, met die 30ste herdenking van die eerste uitreiking in 1981, was daar by ons proe-opwinding oor nuwelinge soos die Newton-Johnsons en Crystallum van Peter Allan Finlayson, maar die kwessie van terroir in die drie wynwyke is steeds ’n taak op hande.
Wat wel uitgestaan het, was die postuur van Hamilton Russell se eie rooie. Met so ’n bloedlyn en geskiedenis was dit seker nie onverwags nie. Maar Hamilton Russell Pinot Noir, sedert 2004 in die kelderhande van Hannes Storm, is ongetwyfeld een van die land se uitstaan-wyne. Elegant en heerlik, boeiend op die tong en in jou kop – pure individuele persoonlikheid. Hemel op aarde?
Wie/Waar:
www.hermanuswineroute.com
www.hamiltonrussellvineyards.com