Ysskaatse en sweeftoertjies
2012-01-21 13:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
“My arme ma! Sy moes my elke oggend na die ysskaatsklasse toe vat – al die pad van Kenilworth tot in Goodwood. En dan skool toe. Smiddae was daar wéér klasse, elke dag van die week.”
Nou, meer as drie dekades later, kan Fiona Kirk werklik breed glimlag. Al die jare se swoeg en sweet het in glinster en glans verander. En hierdie naweek sal haar ouers kan sien hoe sy grasieus oor die ys skaats in die Imperial Ice Stars se wêreldpremière van The Nutcracker on Ice.
Marge (79) en Ray (78) sal deel wees van die heel eerste Wes-Kaapse gehore wat dié ysskaats-vertoning in die Kunstekaapteaterkompleks in Kaapstad gaan meemaak.
Nie net sal dit die eerste keer wees dat Fiona (42) in haar geboortestad kom optree nie, maar ook die heel eerste keer dat pa Ray sy dogter in ’n volwaardige vertoning sal sien.
Fiona het die stad in 1995 verlaat en haar heeltyds by die wêreldbekende Holiday on Ice-skaatsgeselskap aangesluit en het sedertdien letterlik die aarde van hoek tot kant met haar stel lemme deurkruis.
Die ysgogga het haar egter lank, lank gelede al gebyt. Sy was skaars sewe jaar oud en ’n vriendin het haar verjaardagpartytjie by die Goodwood-ysskaatsbaan gehou.
“Die plek was ’n absolute dump,” lag die borrelende rooikop. “Dit het aan ’n boer behoort wat al sy varsprodukte daar aangehou het. Hy wou ’n bietjie ekstra geld maak en het ’n paar ysskaatse gekoop...”
Dit is egter in Goodwood dat Fiona ysvertonings uit die buiteland gesien en op sewe jaar heeltyds begin skaats het.
“Ek het ook ballet en moderne dans gedoen, maar ballet was te beperkend vir my. Ek was nooit baie gedissiplineerd nie. Ek was die een wat altyd in die balletklas op my kop gestaan het. Daarom het ek die vryheid van ysskaats meer geniet.”
Dié vryheid het sy tot die uiterste gevoer. Dermate dat sy in The Nutcracker on Ice die ysbaan verlaat en deur die lug sweef!
Fiona en haar verloofde, Vova (Volodymyr) Khodakivskyy, het hulself intussen as sweefkunstenaars opgelei en tol en tuimel deur die lug bokant die verhoog en die ysoppervlak.
Fiona het Vova by Holiday on Ice ontmoet en saam het hulle besluit om in die Europa-park, ’n temapark in Duitsland, te gaan optree.
“Ons wou net in die somer in hul klein ysvertoning wees, maar ons het aangebly. Dit was lekker om op een plek te bly, maar skielik was dit agt jaar later.
“Tydens een van die aandvertonings rondom Kersfees was daar twee jong ouens uit Kiëf (in die Oekraïne) wat as akrobate opgetree het.
“Ons het hulle dadelik gevra of ’n mens dit op die ys kon doen. Hulle het net vir ons gelag. Maar ná ’n lang proses van oortuiging het hulle ’n stel (waarmee ’n mens ’n soort sweefvertoning kan doen) aan ons verkoop.”
Fiona en Vova is nie as akrobate of gimnaste opgelei nie, maar wou nietemin ’n kans waag en self probeer sweef.
“Ná twee maande was ons reg om tou op te gooi. Vova se tweelingsuster was ons operateur. Ons het vir haar gesê dit is absoluut onmoontlik en ons is nie gebou om dit te doen nie.
“En toe kliek iets net ewe skielik. Ons het iets gedoen en dit het net gewerk. Ons het nou wel nie die krag wat akrobate het nie, maar het ons eie stelsel ontwikkel. En ons gebruik ons vaardigheid as skaatsers en die spoed wat ons op die ys kan kry om te doen wat hulle gedoen het.”
Die eindproduk is een van die mees asemrowende tonele in The Nutcracker on Ice.
Dat sy kan bereik wat op die oog af onmoontlik lyk, is iets wat al vroeg in Fiona se lewe sigbaar was.
Sy het as sierskaatser aan verskeie wêreldkampioenskappe deelgeneem, maar nooit gedink dat sy in vertonings sou optree nie.
By Holiday on Ice se besoek aan Kaapstad jare gelede het sy en ’n groep skaatsers besluit om vir ’n oudisie te gaan.
“Ons was glad nie ernstig daaroor nie. Ek was toe al 25 jaar oud en dit sou te laat vir my wees om ’n show girl te word. Ons wou tog sien of ons goed genoeg is volgens die Holiday on Ice se internasionale standaarde.”
Tot hul groot verbasing is die meeste van hulle deur Holiday on Ice aanvaar. In daardie stadium het Fiona as ’n mediese tegnoloog in die Conradie-hospitaal in Kaapstad gewerk en sy het nie die kontrak aanvaar nie.
By Holiday on Ice se tweede besoek ’n tyd later, is sy weer na ’n oudisie toe.
“Hulle het dadelik gesê: ‘Ons het jou al voorheen gesien en ons wil jou hê.’”
Sy het ’n eenrigting-vliegkaartjie gekoop en haar in Barcelona by die Holiday on Ice-geselskap aangesluit.
Fiona was deel van Holiday on Ice se halfeeu-feesvieringe – die produksie Jubilee – asook latere vertonings soos Evolution, Extravaganza en In Concert.
Agter al die blink kostuums, grasieuse bewegings en indrukwekkende toertjies is daar talle gevare én risiko’s. Met die sweeftoertjie maak Fiona en Vova seker dat hulle ure lank geoefen het. “Ons doen net dinge waarvan ons seker is. Ons wil nie val nie, veral nie voor die gehoor nie. So ons maak seker dat alles heeltemal veilig, maklik en gemaklik is.”
Hulle voer dit sonder ’n veiligheidsnet uit, en daar is altyd ’n risiko. “Jy kan oormoeg wees of ’n gebrek aan konsentrasie kan veroorsaak dat jy val.”
Die ys bied sy eie uitdagings. “Watter skaatser het nie al gate in sy of haar bene gehad van daardie lemme nie? Of wie is nie al geskop nie?”
Dan is daar ook die “gesplete ken” as jy vooroor op die ys val. Gelukkig is daar ’n heeltydse mediese dokter wat saam met hulle toer. “Hy is nogal besig,” glimlag Fiona.
Fiona en Vova het ’n woonstel in Duitsland, maar dié beskou hulle slegs as ’n stoorkamer vir hul klere en ’n paar meubelstukke. Sy toer bykans 12 maande van die jaar saam met die Imperial Ice Stars. In Mei tree hulle in die Royal Albert Hall in Londen op en reis daarna na Australië en Nieu-Seeland.
Tans is hulle tevrede met die wêreldreise. Al wat haar pla, is die bagasie-kwessie. “Hoeveel pare skoene kan jy in 20?kg inpas?”
wat | waar
* The Nutcracker on Ice is tot Sondag 12 Februarie in die Kunstekaap se Operahuis in Kaapstad te sien. Kaartjies kan deur Computicket bespreek word.
Met eisj, ja!
* The Nutcracker on Ice word op ’n ysbaan uitgevoer wat bo-op die teaterverhoog gebou word. Daarvoor is sowat 14?ton ys nodig – gelykstaande aan die gewig van bykans drie olifante!
* Die ys word tot -15°Celsius – drie keer kouer as ’n huishoudelike vrieskas.
* Sowat 2 500 liter anti-vriesmiddel word ingespan, genoeg om sowat 100 motors se verkoelingstelsels te vul.
* Dit duur sowat 140 uur om die ysbaan te bou, maar darem net 30?uur om alles weer ná die speelvak op te pak.
* Van die toertjies en skaatsbewegings wat die Imperial Ice Stars uitvoer, is nog nie voorheen aangepak nie – nie eens tydens die Olimpiese Winterspele in 2010 in Vancouver nie. En omdat dit so ingewikkeld is, is daar nog nie eens name daarvoor uitgedink nie.