flieks: Elkeen op sy eie eiland
2012-02-04 14:43
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Aan die begin van The Descendants beskryf Matt King (George Clooney), die hoeveelste afstammeling van ’n Hawaiise familie, sy gesin as deel van ’n eilandgroep – elkeen ’n eiland op sy eie wat van mekaar af wegdryf.
Matt is die afwesige, hardwerkende pa en eggenoot. Matt se vrou, Elizabeth (Patricia Hastie), is afgesluit in haar eie wêreld ná ’n bootongeluk. ’n Koma wat later blyk onomkeerbaar is. Sy 17-jarige dogter, Alex (Shailene Woodley), is afgesonder in ’n rehabilitasiesentrum weens dwelmmisbruik. En die tienjarige Scottie (Amara Miller) is opstandig. As “back-up parent, the understudy” (soos Matt na homself verwys) het hy nie die vaagste benul hoe om die twee dogters te hanteer nie.
Inderwaarheid is Matt heeltemal verlore, dobberend op see. Hy klou verbete vas aan die hoop dat sy waaghalsvrou sal ontwaak, dat hulle die geleentheid sal kry om hul verbrokkelde verhouding te herstel.
Maar dan kry hy die nuus dat sy nie gaan herstel nie. En volgens haar lewende testament het sy gevra dat sy nie kunsmatig aan die lewe gehou moet word nie. Liggaamlik gesproke is sy as?’t ware reeds dood.
Boonop lig Alex hom in dat Elizabeth ’n verhouding gehad het. Vriende bevestig dat sy ’n egskeiding wou vra. Emosioneel was die verhouding dus ook dood. Skielik het Matt te kampe met ’n dubbele afsterwe. En hy wil tot elke prys weet wie die man is wat sy vrou gesteel het.
Tussenin moet Matt (die trustee) en neefs ’n belangrike besluit neem wat met geërfde grond in Kauai – ’n stukkie ongeskonde paradys – in ’n trust gedoen moet word. Matt glo die grond het onverdiend in hul skoot geval. Hulle is afstammelinge, maar is hulle boorlinge?
The Descendants is ontroerend en soms ook snaaks. Daar is ’n element van bevryding om jou sê te sê (en dit geld nie net Matt nie) vir ’n vrou wat nie kan terugpraat nie. En so absurd soos dit mag klink, kan dit selfs op ’n bisarre manier komies wees.
Die regisseur en mededraaiboekskrywer Alexander Payne (About Schmidt en Sideways) se prent is ’n verwerking van Kaui Hart Hemmings se roman. Hy is nie haastig om die storie te vertel nie en hy gebruik ’n vrye struktuur. Hoewel Matt en Alex die sentrale karakters is (met ’n besondere vertolking van Woodley) slaag Payne by uitstek daarin om randkarakters volledig lyf te gee. Hier moet Nick Krause se Sid en Judie Greer se Julie veral uitgesonder word.
Om afstammelinge te wees veronderstel nie ’n verbondenheid nie. Elkeen as individu moet steeds kies om nouer bande te smee. Om as gesin nader aan mekaar te beweeg en om op vaste grond te staan. Ondanks die mens se gebreke en gebrokenheid. (8/10) (13 T)
* Ander rolprente wat open: Jack & Jill (ouerbegeleiding), Man on the Ledge (ouderdomsperk onbekend) en One Life (ouerbegeleiding: G).