flieks: Nuwe terrein vir Almodóvar
2012-01-21 13:19
Die grootste orgaan in die menslike liggaam is die vel. Die vel hou dit wat binne is bymekaar en dien ook as beskerming teen elemente van buite – dis nou fisiologies gesproke.
Maar die vel word ook vereenselwig met identiteit – hoe mense hulself sien. Vandaar die uitdrukking wat deesdae nogal gereeld gehoor word: Jy moet tuis voel in jou eie vel.
In The Skin I Live In word albei hierdie aspekte verken – sowel die fisiologiese as die sielkundige.
Die werk van die plastiese chirurg en navorser dr. Robert Ledgard (Antonio Banderas) fokus op dié orgaan. In ’n lesing getuig hy sy bevredigendste werk is om ’n brandslagoffer sy/haar gesig terug te gee – die vermoë om gesigsuitdrukking te herwin.
Later, wanneer die verhaal van sy vrou, wat byna doodgebrand het, ontvou, verstaan jy sy obsessie om nuwe vel te kweek. En hy doen dit sonder om hom te steur aan die reëls van mediese etiek. Manipulasie geskied op soveel vlakke – hoekom nie ook op ’n transgenetiese vlak (tussen mens en dier) nie?
Weens ’n sameloop van omstandighede (wat ek ter wille van die storielyn nie hier sal uitstippel nie), bekom Robert ’n menslike proefkonyn. Só begin sy eksperiment – nie net ten opsigte van veloorplantings nie, maar ook as skepper van ’n nuwe identiteit. Enersyds tree hy op as die toediener van straf en andersyds probeer hy terugwen wat hy verloor het. Dit is seker onvermydelik dat hy verlief raak op sy skepping, maar as skepsel is Vera (Elana Anaya) nie tuis in haar nuwe vel nie. Dus verwag ’n mens dat skepsel in opstand sal kom teen skepper.
The Skin I Live In is ’n verhaal van manipuleerders (monsters?) en maaksels (ook weens die karakters se eie toedoen). Op ’n manier dra elkeen sy vel met ’n mindere of meerdere mate van ongemak. En almal dra maskers.
Die skoonheid van die vel word uitgelig: skilderye van sensuele vroue, Robert wat as voyeur sy handewerk bewonder. Mense word, asof met klei, gemodelleer – soos ’n bonsai wat na wil gevorm word.
Winkelpoppe word geklee, beelde word geskep met klei en toegedraai met stukkies lap. En ’n geblomde rok is uiteindelik die bewysstuk van ’n mens wat eens was.
Al is dit nie Almodóvar se beste prent nie, is sy prente steeds beter as dié van die gemiddelde rolprentmaker. The Skin I Live In gee ’n mens soms hoendervel, en dit gaan nie net in jou klere gaan sit nie. (7/10) (18 D/N/S/G)
* Ander rolprente wat uitgereik word: Underworld Awakening (ouderdomsperk onbekend), We Bought a Zoo (10) en Machine Gun Preacher (16 T/G/D).