flieks: 'n Man van geheime
2012-01-28 13:36
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Almal is CSI-bedonnerd. Boewe wat in ’n japtrap vasgetrek word. ’n Enkele haar wat ’n onbetwisbare DNS-spoor laat. ’n Gedeeltelike vingerafdruk wat teen die spoed van witlig deur ’n databasis woer en voilà. Alles so maklik. Byna vanselfsprekend.
Die FBI (Federal Bureau of Investigation) is by wyse van vergelyking iets uit die oude doos. En ’n mens wonder wie sonder om te weifel in ’n vasvrakompetisie sal kan sê wie J. Edgar Hoover was.
In J. Edgar wend die draaiboekskrywer Dustin Lance Black (Milk) en die regisseur Clint Eastwood ’n dapper poging aan om aspekte van dié eerste direkteur van die FBI (en sy voorloper, die Bureau of Investigation) te onthul.
Beslis geen maklike taak nie as in ag geneem word dat sy loopbaan oor 48 jaar gestrek het en dat hy onder agt presidente gedien het. Voeg hierby dat die kyker in kort terugflitse ook ’n glimp van sy dae as kind en jong man kry, en jy verstaan hoekom die prent twee uur en 17 minute lank is. Seker te kort om ’n deurdringende portret te skep, maar ook te lank omdat dit heen en weer spring tussen verskillende tydvakke wat uiteindelik fokus inboet.
Hoover was aan die stuur in die dae van onder meer die rooi gevaar, van radikale bewegings, ’n era gekenmerk deur ’n skrikbewind van rampokkers en die opkoms van die swartbewussynsbeweging. En hy het alles in sy mag (wettig en onwettig) ingespan in die stryd teen misdaad (individueel en op nasionale vlak), soms volgens sy definisie daarvan.
Intussen word daar ook aandag gegee aan persoonlike elemente – sy noue verhouding met sy ma, Anne Marie Hoover (Judi Dench), by wie hy gebly het tot hy 40 jaar oud was. En dié met sy adjunk en vertroueling, Clyde Tolson (Armie Hammer), wat na bewering meer was as net dié van kollegas.
J. Edgar is ’n subjektiewe blik op ’n baie komplekse karakter.’n Man wat hom daarvoor beywer het om geheime bloot te lê – sowel van organisasies as individue (sy geheime lêers oor presidente het hy glo ingespan om sy posisie te beskerm). Sy persoonlike lewe was egter gehul in geheimhouding. In die geheel nou nie juis ’n man van wie die kyker sal hou nie. Net in tonele tussen Hoover en Tolson skemer daar ’n menslikheid deur, wil-wil dit empatie ontlok. Dit is hoofsaaklik danksy Hammer se sensitiewe spel.
Waarvoor ’n mens respek het, is dat hy die vader was van die sentralisering van ’n databasis van vingerafdrukke en die baanbrekerswerk wat hy gedoen het op die gebied van forensiese laboratoriums wat doeltreffende werktuie geword het in die modernisering van die insameling van bewyse.
Uiteindelik word J. Edgar gepootjie deur die fragmentariese aard daarvan in ’n poging om ’n wyer blik te bied. Omstrede of nie omstrede nie – Hoover het die weg gebaan om polisieondersoeke op tegnologiese vlak ’n onbetwiste hupstoot te gee. Fiktiewe karakters soos Horatio en Mac Taylor verstom kykers week ná week met hul ondersoekvaardighede. Maar moenie vergeet van J. Edgar Hoover nie – hy is die ware Jakob. (6/10) (13)
Ander rolprente wat uitgereik word: The Muppet Movie (A), Courageous (13 G), Seeking Justice (16 T/G) en Darkest Hour (ouderdomsperk onbekend).