inspirasie: Om kinders te help
2010-07-17 15:56
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Waar Herman Wapenaar in sy sitkamer sit, is sy profiel afgeëts teen ’n plakkaat van ’n kind wat met bang oë opkyk.
Onder dié foto staan:
“If my face wasn’t swollen I could give you a smile
I could give you a hug but my arm is broken…”
Dié plakkaat is van Care4Kidz, ’n nie-winsgewende organisasie wat kinders help. Want Herman weet hoe dit voel as iemand vir wie jy lief is deur genadelose misdadigers seergemaak word. En as hy kán, sal hy sorg dat niemand anders deur daardie pyn gaan nie.
Herman is een van die mense wat geraak is deur wat hy noem die “Gert van Rooyen-saak”.
Dis ’n saak wat in die laat 1980’s die land aan die praat gehad het en tot vandag toe net nie wil weggaan nie.
’n Saak van ses meisies, almal van 11 tot 14 jaar oud, wat spoorloos verdwyn het. Hulle is vermoedelik ontvoer deur die pedofiel Gert van Rooyen.
(Herman se sussie, Anne-Mari, is op 22 September 1989 ontvoer.)
Van Rooyen het sy medepligtige, Joey Haarhof, geskiet en toe selfmoord gepleeg voordat die polisie hulle kon vastrek.
Wat daarop gevolg het, is 20 jaar se onbeantwoorde vrae, ondersoeke, valse leidrade en koerantberigte.
Dis 20 jaar waarin die families van dié meisies probeer verwerk wat gebeur het en probeer aanbeweeg met hul lewe. Maar dis ook ’n tyd wat hulle laat besluit het om weerlose kinders se saak op te neem.
Daarom Care4Kidz.
Herman vertel dié organisasie beywer hom daarvoor om jong slagoffers van seksmisdadigers en mishandeling by te staan.
Hulle probeer ook om kinders in te lig oor internet-veiligheid, oor hoe om sosiale webwerwe reg te gebruik en lig te loop vir pedofiele.
En dan is hul groot droom om ’n sentrum op te rig wat as ’n veilige hawe kan dien vir kinders wat mishandel of seksueel misbruik is.
Hoewel die ouers van die ses meisies almal lede is van Care4Kidz, verduidelik Herman dat nie almal aktief betrokke is nie.
“Jy moet verstaan waardeur die ouers gaan. Elke tweede jaar is daar weer artikels oor die saak of Carte Blanche doen ’n ondersoek, of iemand kry iets. En die mense daarbuite sien net die goed in die pers, hulle weet nie hoe verskriklik dit is om elke keer alles te herhaal nie. Die ouers is op ’n punt waar hulle dié hoofstuk wil afsluit; hulle wil nie die heeltyd praat oor wat gebeur het nie.”
Dis hierdie behoefte om iets positiefs te doen wat gemaak het dat Care4Kidz twee jaar gelede amptelik gestig is.
“Ons wil nie vasgevang bly in die negatiwiteit van wat gebeur het nie; dis beter om jou energie in iets positiefs te sit.
“Die gedagte is om vir mense te sê: ‘Dié goed gebeur, wees bewus daarvan’. Soms is dit vir my erg hoe apaties die publiek is, want almal dink dit kan nie met hul kind gebeur nie,” sê hy.
“Maar ’n mens lees weekliks van gevalle waar meisies ontvoer is deur iemand wat hulle op MXit ontmoet het, of met onwelvoeglike mense kontak maak op die internet. Ons jaag nie spoke op nie, ons sê net wees ingelig oor wat aangaan.”
Herman erken sy oë het eers oopgegaan in die jare ná sy sussie se verdwyning.
“Dit is intens om deur so iets te gaan. En in die afgelope 20 jaar dat ek probeer uitvind wat gebeur het en hoekom dit gebeur het, het ek veral agtergekom hoeveel siek mense daar is en hoe gereeld dié soort ding gebeur. Ek het ook besef hoe min maatreëls daar is om ons kinders te beskerm.”
Vir Herman gaan dit daaroor om met die regte inligting kinders te bereik, want met tegnologie is die speelveld vir seksmisdadigers soveel groter.
“Maar dis nie tegnologie se skuld nie, dis opvoeding se skuld. Ouers is geïntimideer deur die internet en MXit en raak nie betrokke by wat hul kinders daarop aanvang nie.
“Daarom probeer ons kinders inlig oor gevare sodat ons kan keer dat iets sleg gebeur én ons wil die boodskap hard en duidelike uitstuur: Los ons kinders uit.”
Om dié boodskap uit te dra het Care4Kidz ’n paar vrywilligers gekry om te help. Mense soos Liesel Krause-Wiid en Lindi van der Merwe, Mej. Tiener Afrika 2008, wat hul beskermvroue is.
“Liesel help met geldinsameling en Lindi het namens ons by skole gaan praat oor hoe om veilig te wees. Dan het die sangeres Bianca Pienaar laas jaar op haar eie onkoste laerskole in Pretoria besoek waar sy opgetree en kinders geleer het oor internetveiligheid.”
By al dié geleenthede deel Care4Kidz boekies uit om ouers en kinders te help.
Dan het hulle ook baie ander planne vir projekte. Hulle wil byvoorbeeld “hulpkissies” beskikbaar stel waarin
ouers al die inligting van hul kind kan hou – van vingerafdrukke tot ’n onlangse foto. Só kan ouers dadelik tot aksie oorgaan as hul kind dalk wegraak.
Hulle versprei ook DVD’s wat deur die Amerikaanse iKeepSafe-organisasie saamgestel is om ouers te wys hoe om hul kinders internet-bewustheid te leer.
Maar Herman en Care4Kidz se grootste droom is om ’n sentrum op te rig waarheen kinders kan gaan wat deur seksuele misdaad geraak is.
“Daar was weer onlangs ’n artikel in ’n koerant oor ’n meisie wat seksueel aangerand is, maar daar was niemand by die betrokke polisiekantoor wat bevoeg was om haar te help nie.
“Ons wil daardie rol vervul. En as dit in Pretoria suksesvol is, wil ons dit uitbrei na ander stede,” sê Herman.
Die plan was om die sentrum te bou op die erf waar Gert van Rooyen se huis gestaan het en waarheen die ontvoerde meisies vermoedelik geneem is. Dit sou simbolies daarvan wees om iets slegs in iets goeds te omskep.
Rompslomp deur die owerhede veroorsaak egter dat dié eiendom steeds in die hande van die staat is, hoewel die polisie dit reeds einde laas jaar vrygestel het.
“Ons is nou by die punt waar ons liewer ons eie eiendom wil kry en self ’n perseel opsit,” sê Herman.
“Die idee is om heeltydse beraders by die sentrum te hê. Dit moet dien as ’n plek waarheen ’n kind gestuur kan word vir berading en mediese sorg. Die polisie kan daarheen kom vir hul ondervraging en daar moet selfs oornaggeriewe wees waar die kind kan bly totdat die saak opgelos is.”
Hoewel Herman dit nie in soveel woorde sê nie, is dit duidelik dat geld die groot struikelblok is.
“Dit sal baie help as die gemeenskap, en veral die private sektor, meer betrokke raak by ons. Al kry ons twee mense wat help, word dit later vier en dié vier word agt. As ons genoeg raas, sal slapende honde dalk wakker word.”
Vra jy vir Herman wat gee hom moed om voort te gaan wanneer dit vir hom te veel raak, kom hy weer terug na sy doel om kinders te help.
“Dis nie iets wat ’n mens net kan los nie. Ons is as samelewing so besig om onsself te beskerm dat ons min tyd het vir ons medemens. Maar ’n mens moet betrokke raak; jy kan nie in isolasie leef nie.”
Wat | waar
* Vir meer inligting oor Care4Kidz besoek www.care4kidz.org.za
* As jy wil betrokke raak, bel Herman Wapenaar by 082 552 5525.