kassieklets: Laat die trane rol
2012-01-28 13:36
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Trane is nie almal se soort ding nie. Party van ons vermy hulle soos die pes. Ander hou van ’n storie wat jou laat huil en jy voel glo agterna sommer beter.
Dié week is vier gewilde reekse terug en in elkeen van hulle val daar ’n paar soutdruppels. CSI se seisoen twaalf begin met ’n deurmekaar skietery waarin twee mense doodgaan. Hulle het naasbestaandes, so daar is trane.
Veel ontstellender is die aanhef van CSI New York se seisoen agt. Dit speel af op die tiende herdenking van 9/11 en wys jou in terugflitse wat die span daardie dag beleef het. Dit sluit in die laaste keer dat Mac en sy vrou mekaar gesien het voordat sy in die Twin Towers dood is.
Genade. Jy dink jy gaan ’n vinnige moordraaiseltjie afstamp en loop jou in so ’n storie vas. Eens te erg, tensy jy die soort is wat “lekker” en “huil” in een sin gebruik.
Vir ligter, sentimentele biggelings is daar The Vampire Diaries. Heel aan die begin het ’n mens gewonder of dié reeks sou oorleef. Goeie storie en lekker spelers, maar TV het toe al gekrioel van bonatuurlike skepsels en intriges. Maar Elena is nog met ons en seisoen drie begin met haar 18de verjaardag.
Nie dat sy dit met oorgawe vier nie. Sy staan op ’n kol alleen en traantjies wegpink oor Stefan, die vampier van haar keuse, wat van die wa afgeval het en weer mense soos wynvate leegdrink.
Gelukkig het sy nog vir Damon, broer van die gevalle held en seker die koelste dooie mens op TV. Hy sorg gou vir een van sy klassieke Damoniese oomblikke. “It’s your party – you can cry if you want to,” sê hy vir Elena. Dis nie net wat nie, maar hoe hy dit sê.
Die bloedsuier Stefan is nie al jong TV-held wat skielik verander het nie. Gossip Girl is terug met ’n Chuck Bass wat besluit het hy is nou gereed vir enigiets, al is dit ook lewensgevaarlik. Dit kan op pret uitloop. En ook net betyds, want GG was besig om koers te verloor. As die hoofkarakter sê sy weet nie wat om verder met haar lewe te doen nie, is daar dalk ’n krisis in die draaiboekskrywers se kantoor.
Goeie nuus is dat Vanessa Abrams, amptelik die verveligste karakter (daar was peilings), vorentoe net gasverskynings gaan maak. Ook so Jenny Humphrey, gespeel deur die pasgebore rock-heldin Taylor Momsen, maar dit sal ’n paar Gotiese tienerwange natmaak. As jy skielik uit jou kind se kamer ’n meisie “you make me wanna die” hoor sing, moet jy weet dis Jenny/Taylor-smart.
Lagtrane vir iemand? Nate, gespeel deur die babagesig Chace Crawford, begin ’n ding met ’n geheimsinnige ouer vrou, gespeel deur Elizabeth Hurley. Dis dalk hoekom Liz se krieketliefde, Shane Warne, skielik so baie aandag aan velsorg gee...
* CSI, Woensdae om 21:30 op M-Net. CSI New York, Donderdae om 21:30 op M-Net. The Vampire Diaries, van Maandag om 20:30 op Vuzu. Gossip Girl, van Dinsdag om 19:30 op Vuzu.