kortpad: Kerskaartjies

2009-12-26 14:25

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Die Kerskaartjies het nou in ’n soort kompetisie ontaard. Dit kan Madrie Dinsdagoggend duidelik sien toe sy teetyd die pos uitdeel.

Mevrou Welman maak nie verniet so ’n bohaai oor die twee wit koeverte wat Madrie vir haar uitdeel nie.

“Dankie, Matrone,” sê sy toe sy die pos by Madrie vat, hard genoeg sodat almal kan hoor.

Met groot gebaar maak sy die twee koeverte ten aanskoue van die ander inwoners oop.

“Van my kleinkind in Gauteng,” verduidelik sy vir niemand in die besonder nie en hou die eerste kaartjie soos ’n trofee in die lug. “Hy’s mos ’n ingenieur. Help met die Gautrein en als.”

Die tweede, blyk dit, kom van haar suster in die Kaap.

Madrie onderdruk met moeite ’n sug. Dit gebeur gereeld dat ’n nuwe gier in die tehuis posvat en dan in ’n soort wedywering omsit. ’n Tyd gelede was dit radioversoeke. Elkeen wou opsluit meer en langer en mooier boodskappe as die ander uitgesaai kry. Die programaanbieder is later oorval deur soveel versoeke dat hy op die lug aangekondig het daar is tydelik ’n moratorium op versoeke van Huis Stillerus se inwoners. Laas jaar se wedywering oor haarkappers en haarstyle het eers end gekry toe einste mevrou Welman se hare so erg verongeluk is deur ’n jong haarkappertjie wat kamma by ’n modeskool in die Kaap gestudeer het dat dit poenskop afgesny moes word.

Kersfees kom nader en daar is elke dag ’n paar Kerskaartjies in die pos. Die ontvangers stal trots die bonte verskeidenheid op hul bedkassies uit: staltonele, die herders en wyse manne op die spoor van die Bethlehem-ster, laggende Kersvaders, prentjies van Kersbome, ’n bekende strokiesprentkat met ’n Kersvaderhoed op sy kop. Bewys van familielede wat ver is, maar steeds omgee; vriende wat nie heeltemal vergete is nie.

Mevrou Welman is duidelik die voorloper in die Kerskaartjie-wedloop. Daar kom koeverte met posstempels uit die Kaap, Polokwane, Pretoria, Rustenburg, Welkom, Beaufort-Wes, Hanover. Een middag maak sy haar hele spieëltafel leeg om plek te maak vir haar versameling kaartjies.

Elke teetyd as die pos uitgedeel word, is daar opwinding in die lug. Party gluur mevrou Welman vies aan as sy skaamteloos spog oor nog ’n kaartjie. Madrie voel veral jammer vir dié wat glad nie aan die wedywering deelneem nie, bloot omdat hulle nie kán nie. Hulle wat elke jaar op Kersdag die VLU se Kersete bywoon omdat hulle nie deur familie of vriende genooi is nie; wat vergeefs wag op ’n kaartjie of oproep, ’n besoek of uitnodiging.

Maar daar is darem ook ’n paar inwoners wat mevrou Welman opdraande gee. Oom Herman Meyer, een van die oudste inwoners, kry elke jaar ’n magdom kaartjies van sy vier broers, wat almal nog leef, sy talle kinders en kleinkinders wat oor die wêreld heen versprei is, en sy oudkollegas in die diplomatieke diens – in so ’n mate dat hy twee weke voor Kersfees ernstig kompetisie begin word vir mevrou Welman se versameling.

Meer as een keer hoor Madrie hoe van die inwoners in telefoongesprekke hul kinders uittrap omdat daar nog nie ’n Kerskaartjie in die pos gekom het nie.

Dis minder as twee weke voor Kersfees toe Madrie die oggend sien hoe mevrou Welman met Martha, een van die skoonmakers, praat. Sy sou dit nie regtig opgelet het as dit nie was vir die geldnoot wat vinnig van hande verwissel het nie.

Ná ete kry sy Martha voor stok. Die tehuis se werknemers is nie veronderstel om enige geld van die inwoners te aanvaar nie. Eers wil die vrou nie praat nie, maar dan swig sy.

“Jy sê vir niemand iets hieroor nie, Martha,” beveel Madrie streng toe sy klaar na die storie geluister het. “En hierdie ding hou dadelik op.”

Uiteindelik breek Kersdag aan. Dit is nooit vir Madrie ’n lekker dag nie, al is meeste van die inwoners by hul familie of vriende en al behartig die VLU die dag se reëlings.

Net so min as wat die skerp reuk van skoonmaakmiddels die reuk kan verbloem van hoesmedisyne en opgekookte kool wat in die gange draal; net so min as wat die paar blink Kersversierings die gedempte, stowwerige lig in die eetsaal kan opvrolik; net so min as wat die Kerskaartjies wat trots op bedkassies uitgestal word die verlange na kinders en kleinkinders en familie wat ver is, kan minder maak – net so min kan die dag se Kersvieringe die gevoel van moedeloosheid en ouderdom demp wat op hierdie dag selfs erger oor die plek hang.

“Geseënde Kersfees, Mevrou,” sê Madrie toe sy mevrou Welman vroegoggend in die gang raakloop.

“En vir jou, Matrone,” sê sy. “Die kinders kon dit ongelukkig nie hierdie jaar maak nie, maar ek sien uit na die Kersete.”

Madrie kyk die ou vrou agterna toe sy wegstap. Martha se woorde eggo in Madrie kop: “My broer is ’n driver by ’n koerier-company, Matrone. Hy ry die hele land vol. Ek gee hom die geld en op elke dorp pos hy vir mevrou Welman ’n Christmas card. Ek is jammer, Matrone – ek het nie gedink dis verkeerd nie.

“Ek meen, as mens vir jouself merry Christmas wil sê ...”

Madrie sug. Almal weet mevrou Welman eet elke jaar die Kersete by die ouetehuis.

deur Jaco Jacobs

D

Net so min kan die dag se Kersvieringe die gevoel van moedeloosheid en ouderdom demp wat op hierdie dag selfs erger oor die plek hang.

- Rapport

binne rapport

Weer
Ksd: 14-20°C Morning clouds. Mild. Pta: 6-22°C Sunny. Mild.
Jhb: 6-17°C Sunny. Mild. Bfn: 0-21°C Sunny. Mild.
Dbn: 10-24°C Partly cloudy. Mild. PE: 14-18°C More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe gobii-slimfone vanaf R999!

’n Kamera aan die voor- en agterkant, tweeledige SIM-verrigting en 200MB se GRATIS Cell C-data elke maand vir 12 maande, is maar net ’n paar van die eienskappe van dié slimfone. Kry joune nou! Koop hier.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!