kultuur: Om die dooies te laat praat
2010-11-20 11:45
Tussen die lappie grafte by Waterval-Onder in Mpumalanga is ’n graf van ’n Kakie wat op Nuwejaarsdag 1901 in die Elandsrivier verdrink het. Sy ouers het dalk tyding gekry dat hy dapper in ’n veldslag omgekom het, maar die oorsaak van sy verdrinking kon net sowel verveling saam met ’n Nuwejaarsviering en gevolglike sawwe-lyf-swem in die rivier in die amperse doodsnikke van die Boereoorlog gewees het.
Net so is daar in Barberton se geskiedkundige kerkhof ’n man wat deur ’n leeu opgeëet is, en in Philippolis in die Vrystaat rye grafte van diegene wat weens die Groot Griep in 1918 daar omgekom het.
’n Mens kan byna sê ’n begraafplaas is ’n lewende museum. Terwyl sommige mense die dorpies van dooies tussen die langboompies tot die dood toe te vermy, is dit egter vir ’n ál groter wordende groep mense ’n manier om te spoorsny na die verlore takke in hul stamboom.
Die inligting vervat op grafstene is een van dié hulpmiddels wanneer ’n mens jou in die genealogie begewe. Twee plaaslike rolspelers in die genealogiese navorsing, die Genealogiese Vereniging van Suid-Afrika (GVSA) en Ancestry24, stel hulle dit nou ten doel om begraafplase landwyd op te teken, grafsteen vir grafsteen, van behoorlike onderskrifte te voorsien, en dit via die internet beskikbaar te stel.
En met ’n kliek van die muis kan jy dalk die ryk tannie van wie jy toe nooit geërf het nie, se graf op Koekenaap opspoor.
Heather MacAlister van Ancestry24 verduidelik grafstene bevat baie keer inligting wat nie in, onder meer, doodskennisgewings genoem word nie.
“Buiten die geboorte- en sterftedatums, word daar ook soms genoem of die persoon ’n grootouer was, of hy broers of susters gehad het, soms word selfs die eggenoot se naam genoem. Dié gegewens is van onskatbare waarde wanneer jy besig is om ’n stamboom saam te stel,” sê sy.
Dit is voorts waardevol in gevalle waar iemand sonder ’n nalatenskap gesterf het en daar dus nie omvattende rekords van sy bestaan by formele instansies te vinde sal wees nie. Heather wys ook daarop dit was eers so laat as 1895 dat geboorteregistrasies verpligtend geraak het in die Kaapprovinsie.
“Dit wys net hoe belangrik ’n paar sinne op ’n grafsteen kan wees.”
Grafstene, veral in die verlede soos die een van die Kakie-soldaat, verklap ook baie keer die oorsaak van dood. Dit skinder selfs oor die nering en status van die afgestorwene, want oom Piet Boemelaar, wat die familierykdom verkwis het, se grafsteen sal kwalik ’n ornate gedoente wees.
Alta Griffiths van GVSA sê omdat veral Afrikaners tradisioneel was in hul naamgewing, kan daar in een familie talle, argumentsonthalwe, Jacob Jacobus’se wees.
“In sulke gevalle kan ’n mens onderskei tussen die spulletjie wanneer die geboorte- en sterfdatums bekend is.”
Volgens Heather lewer die optekening van grafstene ’n bykomende voordeel omdat dit munisipale begraafplase se registers op datum bring, kerkhowe (begraafplase merendeels op kerkterreine) en vergete begraafplase – veral dié op plase en in voormalige swart gebiede – as’t ware ontsluit.
Tans is Ancestry24 besig om die Maitland-begraafplaas in Kaapstad te dokumenteer, een van die grootste projekte wat tot dusver aangepak is.
Sowat 200 000 mense is hier begrawe, en van die interessante grafstene waarop reeds afgekom is, is dié van Denise Darvall, skenker van die hart wat dr. Chris Barnard in die eerste hartoorplantingsoperasie gebruik het; en van mnr. Moni van Fatti’s & Moni’s-faam.
Alta sê aangesien soveel mense deesdae verkies om veras te word, sy selfs by die kruise langs die pad, gewoonlik waar iemand in ’n motorongeluk dood is, stop om dit te dokumenteer. “Omdat dié kruise so gou verweer of verwyder word, moet ’n mens maar gou spring.”
Al die werk word deur vrywilligers gedoen. Alta verduidelik in GVSA se geval is die meeste foto’s “gunste” wat aangestuur word. “Ons het nie ’n formele projek nie, maar skimpe werk meestal,” lag sy.
Sekere vrywilligers stel in ’n spesifieke tema van genealogie belang, byvoorbeeld die 1820 Settelaars aan die Oos-Kaap, en dan takel hulle by uitstek begraafplase waar daardie families en hul nasate begrawe is.
Die groot leemte aan inligting oor begraafplase blyk in die noordelike provinsies te wees, veral in Limpopo.
Heather sê dis ’n allegaartjie van mense wat Ancestry24 met die grafsteenprojek help.
“Eienaardig genoeg is daar toenemend jonger mense. En vir baie is dit ’n manier om iets terug te gee aan hul onmiddellike gemeenskap, en terselfdertyd meer van ’n dorp se geskiedenis te wete te kom. Ek vind dit ’n ideale soort projek vir skoolgroepe, maar tot dusver was die belangstelling uit daardie oord teleurstellend skraal.”
Die groot behoefte vir sowel die GVSA as Ancestry24 is aan vrywilligers wat die derduisende beskikbare foto’s se inligting kan transkribeer. Enigeen met toegang tot ’n rekenaar en internet en ’n hand vol ure per week kan dit doen.
So, as jy volgende keer iemand in ’n begraafplaas sien rondsluip, moet hom nie summier afmaak as een met ’n onverklaarbaar makabare belangstelling nie. Ag dit as ’n sensus van voorsate.