'n Boeddha uit Afrika
2010-08-28 15:12
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
“Hulle moes net nie ’n krúís daar opgesit het nie,” was die mening van iemand by Theo se Plek, waar ons vroeër in Clanwilliam oor Leipoldt se graf navraag gedoen het.
“Ek meen, die man was ná alles ’n Boeddhis.” Dié verwysing na Leipoldt se veronderstelde geloof was onoorwoë, so asof daar bloot ’n algemeen aanvaarde feit gestel word.
As daar egter wel in ’n stadium ’n kruis by dié graf in die Pakhuispas gestaan het, is dit intussen verwyder. ’n Klipstapel wat lyk asof daar voorheen iets op staangemaak was, is al wat tans suggereer dat dit dalk eens die basis kon wees vir ’n kruis.
Maar as kruisplantende weldoeners dan nou nie Leipoldt se wens kon respekteer om ná sy dood met niks meer nie as veldbossies gedek te word, probeer die lepelhoutbome ten minste hul bes. Dit neem ons ’n tydjie om die graf agter dié digte bome raak te sien.
’n Paar trappe lei op na ’n opening in ’n ringmuur onder ’n krans wat bak oor die graf staan. Op die ruwe klipgraf lê ’n paar bossies wilde fynbos, dor getuies van pelgrimstogte wat steeds hierheen onderneem word. Ek sit my eie hand vol blare uit die Hantam-wyk daarby neer, wetend dat Leipoldt – sou hy daarvan kon weet – dit so min sal waardeer as die klip en (al was dit tydelik) kruis wat sy graf gekry het.
Hoër op teen die graf, neffens die klipstapel wat as kopstuk dien, rus ’n verbleikte houtkissie met die stoflike oorskot van iemand – of iets – daarin. Met die tyd saam het die inhoud daarvan silwergrys op die klip rondom die kissie uitgesif. Op die kissie lê ’n plat klip waarop die woorde “Om mani padme um” aangebring is. Soos die man vroeër in Theo se Plek, het wie ook al sy of haar geliefde se as hier kom plaas het dus aanvaar dat Leipoldt ’n Boeddhis was.
“Maar was hy regtig?” wil Dirk weet toe ons omdraai om te loop.
Voordat ek kan antwoord, laat ’n beweging agter ons my terugkyk. ’n Klein spekvretertjie het onder die skemerige koelte van die krans ingevlieg en op die een flank van die ringmuur gaan sit.
“Ek twyfel of enigiemand regtig weet,’ begin ek terwyl ek die lens van die kamera op die geveerde besoekertjie rig. Van Wyk Louw het beslis gemeen Leipoldt was eerder moedswillig as ’n Boeddhis. Selfs Kannemeyer, hoewel meer genuanseerd, meen Leipoldt was onwaarskynlik ’n praktiserende Boeddhis. Maar dis eerder Leipoldt se eie aangrypende woorde in sy gedig “Mymering” wat my met oortuiging laat vervolg: “Al wat ék vir seker weet, is dat die gedagte aan reïnkarnasie hom met afgryse vervul het.”
Die spekvretertjie draai sy koppie skeef, al asof ook hý aandagtig luister. Dan vlieg hy op en gaan sit op die kopstuk van Leipoldt se graf, van waar hy ’n enkele en ietwat intense kraalogie op my rig. ’n Eienaardige sensasie oorweldig my eensklaps en ek laat die kamera sak…
Vra maar vir elkeen wat na Leipoldt navorsing doen. Jy raak obsessief oor die man. Jy glo dat jý, ondanks sy biograaf se waarskuwing, die een is wat bestem is om ágter daardie “veelvuldige maskers” in te kom; wat daardie wesenlike íéts gaan vind wat elke Leipoldt-soeker tot dusver bly ontwyk het. Jy soek in alles wat hý geskryf het en in alles wat óór hom geskryf is. En wanneer hierdie soeke, soos Kannemeyer gewaarsku het, nie afdoende is nie, begin jy soek tot by sy graf. Dit is ál verklaring wat ek het vir daardie momentele oortuiging dat ek pas ’n teken ontvang het van anderkant hierdie beroemde graf.
“Was nou net by graf. Leipoldt het my kom groet!” SMS ek my vriendin terwyl ons terugry Clanwilliam toe.
“Julle voor die tyd by Cederberg Kelders gekuier?” is die lakoniese reaksie en ek besluit wyslik om my eie waansin eerder vir iemand anders se sin te verruil.
“Wat beteken ‘Om mani padme um’?” wil ek weet by Johannes de Villiers, wat self al navorsing oor Leipoldt se Boeddhisme gedoen het.
“Die juweel is in die lotus,” antwoord hy onmiddellik. “Ek dink die lotus verwys enersyds na die werklikheid self en andersyds na verskeie aspekte van die siel se pad na Nirvana. Soos die lotus, kan ook die siel uitstyg bó die modder, die sigbare werklikheid, waaruit dit voortgebring is.”
Hmm. Ek is geneig om met Louw en Kannemeyer saam te stem. Niemand wat Leipoldt se digkuns ken, sal daaraan twyfel dat dit júís die “sigbare” werklikheid is wat hom as digter aangegryp het nie. Die buffel, eerder as die metafisika, het hom besiel.
In die mate dat die woord “Boeddha” beteken om ’n “verligte” mens te wees, was Leipoldt dalk eerder Boeddha as Boeddhis. ’n Boeddha uit Afrika. En miskien omdat die werklikheid van dié Afrika-Boeddha die rooi kranse van die Sederberge en die vaal vlaktes van die Karoo was, was die juweel wat in sý lotus was nie ’n werklikheid ánderkant die sigbare of ánderkant die dood nie.
Vir hom was die juweel in die werklikheid júís die sigbare: Daardie mag wat klokslag ná elke winter weer die “somer, son en saffier” bring. Die mag wat vir hom sterker was as die dood, was geen lewe ná die dood nie, maar die wete dat:
“(a)l is jy, Dood, ook met ons / ...vir my is elke kind se eerste lewenskreet / ’n Groter wonder as sy laaste snik.”
En soos die Boeddha het ook Leipoldt die menslike ego aangevat, al was dit waarskynlik onbewustelik. Maar anders as die historiese Boeddha het hy nie die individuele ego aangevat nie. Trouens, sy eie ego sou hom dikwels laat struikel het. Maar hy het daardie groter ego aangevat: die ego van die mensdom self; die oortuiging dat ons die kroon is van ’n skepping wat slegs om ons ontwil bestaan. In die woordkuns van Leipoldt is die mens beswaarlik ’n stuiwer meer werd as die mossie.
Op 15 April 2010, die dag waarop sy as in 1946 in die Pakhuispas begrawe is, keer ek terug na sy graf. Soos voorheen is daar iets byna ondraagliks aan die stilte. Ek trek my skoene uit en klouter teen die bakkrans op, ágter sy graf in, en laat my voete effens skuldig trapplek teen die kopstuk kry. Ek wil sien wat hierdie Boeddha gesien het, die vele kere wat hy hier kom skuilte soek het.
Agter my rug voel die klip koel en hard teen my vel. Voor my, anderkant die bak opening, is die lug ’n Leipoldtiaanse
saffierblou. En opeens gaan “God se venster” voor my oop. Die stilte om die graf vul met die wind wat deur die veld suis, ’n insek wat aan ’n tak knaag, ’n koggelmander wat deur die droë blare ritsel… die onmiskenbare klanke van lewe.
Opeens verstaan ek die boodskap van daardie spekvretertjie meer as twee maande gelede. Die smagting van my romantiese hart ten spyt, was dit nie Leipoldt wat uit ’n “onkenbare skaduland” na my toe gekom het nie. Dit was wel daardie enigste mag “trotser as die dood”; daardie mag wat van waansin weer kan sin maak. Die lewe self: Die één god wat Leipoldt sonder twyfel aanbid het.
’n Gekweel ruk my uit my selftevrede meditasie terug. ’n Klein Jan Frederik het onder die skemerkoel krans ingevlieg en op die een vleuel van die ringmuur kom sit, van waar hy my vir ’n oomblik intens betrag. Dan vlieg hy op en kom sit op die kopstuk van die graf, nie veel meer nie as vyf sentimeter weg van waar my voete oneerbiedig rus. Hy kyk my vol in die gesig, daardie kordate ogie effens geamuseerd, effens minagtend…