'n Glaskas vol blomme
2012-02-04 14:43
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die pad in die pragtige Breedekloofvallei kronkel tussen ruie akkerbome deur, die berge is hoog om jou kop en ewe skielik stop jy voor ’n doodgewone plaashek. En wanneer die hek oopskuif en jy ’n kykie kry in die glaskweekhuis agter die hoofhuis, gaan ’n blomwêreld vir jou oop.
Dis die wêreld van Adriaan van Wyk van Prominent Tulips. Sy handdruk is ferm, sy glimlag breed en sy genot as jou oë oor die kleurryke tulpe gly, is sigbaar. Twee jaar gelede was Adriaan ’n duikbootvaarder. Hy het 15 jaar in die vloot gedien.
Vandag is sy lewe die duisende tulpbolle wat gereeld uit Nederland aankom, die plant daarvan en dan die beloning as die bosse gekleurde tulpe in die koelvoertuie weggery word. Die hele proses gebeur in ’n glaskweekhuis, wat tweedehands in Nederland aangekoop is en toe hier op die plaas buite Rawsonville staangemaak is.
“Glaskweekhuise is vir ons baie beter as plastiektonnels en lewer ook blomme van hoë gehalte. Hul uitwerking op die omgewing is kleiner omdat glashuise herwin kan word en oor die algemeen baie langer hou as plastiek,” vertel Adriaan.
Sy bolle kom van Nederland en word dan in koelkaste gelaat om te ontkiem voordat dit in rye in plastiekbakke in die kweekhuis uitgeplant word. Dit neem ’n paar weke tot die blom reg is om gepluk te word. Die plant blom net een keer en die gebruikte bolle word deur ’n plaaslike boer opgelaai en vir sy vee gevoer.
Dis ’n drastiese besluit om van duikbote na tulpe te gaan. “Ek het my tyd in die vloot baie geniet, veral die klompie jare wat ek op duikbote was. Maar toe die geleentheid kom om betrokke te raak by ons familieonderneming het ek dit aangegryp. Ons kweek ook witloof (sigorei).”
Adriaan se tulpe word met hidroponiese metodes gekweek. Die hoofvoordele is dat ’n mens baie minder water gebruik, heelwat minder kunsmis, en dat die kans vir siektes baie skraler is. Hy vertel trots dat hulle nog nie ’n druppel gif in hul kweekproses gebruik het vir pes- of plaagbeheer nie. Verder is dit baie skoner as om met grond te werk, en in hul spesifieke geval hoef ’n mens nie fisiek sterk te wees om die werk te doen nie. “Só kan ek heelparty vroue in diens neem – iets wat ’n groot pluspunt is.”
Hoewel daar ander kweekmetodes in Suid-Afrika gevolg word, staan Adriaan se blomme vir die duur van hul ontwikkeling in water. Is dit baie duurder as gewone landboumetodes? Dit is duur om die glashuis op te rig, maar ’n mens verhaal jou insetkoste taamlik vinnig, vertel hy. “Uiteindelik glo ek dis goedkoper, veral as jy in ag neem dat ’n mens minder natuurlike hulpbronne gebruik, jou opbrengste per vierkante meter hoër is en dat grond al hoe duurder word.”
In die klimaatbeheerde glaskweekhuis is die effek van die weerpatrone buite tot ’n minimum beperk, daarom is die blomme ewe mooi in die winter as in die somer.
“Die bolle word uit Nederland ingevoer omdat daar nie tans iemand is wat op ’n groot genoeg skaal bolle produseer nie, en die plaaslike variëteite is nie voldoende nie.
Ons bied verreweg die wydste keuse van variëteite, maar moet ongelukkig invoer. Ons stel egter baie belang daarin om ’n plaaslike kwekery in samewerking met ’n plaaslike boer te vestig.”
Adriaan vertel dat hulle tot dusver al meer as 60 verskillende variëteite gekweek het. Dit wissel deur die jaar, maar hulle probeer om altyd ’n wye kleurskema beskikbaar te hê sodat jou gunsteling- kleur dwarsdeur die jaar beskikbaar is. Hy vertel ook dat daar meer as 1 000 verskillende tulpsoorte is.
Sy gunsteling onder die pragkleure is moeilik om te kies. “Ek sou sê die rooi en pienk variëteite, want my vrou hou baie van hulle...” sê hy laggend.
Adriaan en sy span is die alleen-verskaffers aan Woolworths landwyd, sê hy, waarop hy byvoeg: “Ons is baie dankbaar vir die paadjie wat ons saam met hulle kan loop. Hulle is die enigste groot winkelgroep aan wie ons in hierdie stadium lewer.”
Hy gee graag vir sy eie vrou tulpe. “Ek skerts altyd met die manne wat by my kom tulpe koop dat ek nie verantwoordelik gehou kan word vir dit wat met hulle gaan gebeur wanneer hulle by die huis aankom met die blomme nie... Gelukkig kan ek uit persoonlike ervaring bieg dat dit nogal lekker is, en ek dink die manne stem saam, want hulle kom koop weer.”
Prominent Tulips buite Rawsonville is slegs oop vir besoekers as dit vooraf gereël word. Hulle kan ’n maksimum van tien mense op ’n slag vir ’n toer neem, en toere word weekdae tussen 14:00 en 15:00 gehou.