'n Huis vol lig vir Nic
2012-02-11 12:41
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Nic de Jager, een van die veterane van die groter Suid-Afrikaanse drama-familie, se huis is vol lig danksy groot vensters en oopvoudeure wat uit die leefvertrekke na ’n groot kuierstoep oopmaak.
Dis ook ’n huis vol kunswerke. En ’n huis vol rekenaars en klank- en videotoerusting. Want dis hier waar hy dikwels allerlei insetsels vir televisie vervaardig – van kinder- tot dokumentêre programme. Teen die wit mure hang helderkleurige kunswerke deur kunstenaars soos Judith Mason, Alice Golden, Wim Blom en Jan Wolmarans.
Met ons besoek werk hy saam met personeellede van die Paul Roos-gimnasium aan die skool se jaarblad. As oudleerling is hy steeds betrokke as fotograaf en een van die skrywers vir die jaarblad. Sy pa was ’n rektor van die skool en De Jager het ook hier skoolgegaan – hy voel dus steeds ’n nou verbintenis met die skool.
Hy het ’n jaar of drie gelede in die huis in ’n ommuurde kompleks in Somerset-Wes ingetrek nadat hy ’n tyd lank in Stellenbosch gewoon het.
“Ek het die eerste twee jaar van my lewe in Somerset-Wes gewoon,” vertel De Jager. Hy het ook lank in Johannesburg in die destydse rykmansbuurt Quellerina gewoon.
Destyds was Nic se naam in elke Afrikaanse huishouding bekend. Nie net as stemkunstenaar wat in radioverhale soos Dans van die flamink gespeel het nie, maar ook as rolprentster in rolprente soos Die geheim van Nantes en Snip en Rissiepit. En toe TV Suid-Afrika tref, was Nic s’n ook een van die bekender gesigte. Soms was hy die aantreklike held. Ander kere was hy die onweerstaanbare boosdoener.
Sy huis met die vyf slaapkamers en verskeie leefvertrekke hier in Somerset-Wes is ’n treffende woonplek. Maar dit is ook Nic se werkplek – twee van die slaapkamers is in kantore omskep en in ’n derde slaapkamer is ’n klawerbord waarop musiek vir TV-insetsels geskep word.
Hoewel die huis met sy oop vertrekke modern is, is daar ook ’n paar erfstukke. Soos die harmonium wat hy van ’n ouma gekry het. Dit staan onder die foto waarop sy oupagrootjie A.D.W. Wolmarans (’n senator in die Paul Kruger-regering) saam met genl. Piet Cronjé, Piet Joubert en F.W. Reitz is. Daar is stokou foto’s in ovaalvormige houtrame van sy ouma en oupa De Jager.
Delf ’n mens ’n bietjie dieper in De Jager se familiegeskiedenis, besef jy hy stam van Boere-adel af. Sy oupa A.P.J. van der Walt se plaas was op die plek waar die stad Pretoria later verrys het en sy oupa-grootjie A.D.W. Wolmarans is dieselfde man na wie Wolmaransstad en Wolmaransstraat in Johannesburg genoem is.
“Ek het al dikwels afstand gedoen van goed wanneer ek getrek het, maar voordat jy jou oë uitvee, is jy weer omring deur aardse besittings. Ek wil egter nie meer versamel nie. Hoe meer goed ’n mens het, hoe moeiliker is die lewe.”
Nic se stem is strelend – elke woord goed gemoduleerd. Die klem val op die regte plekke. Hy het immers as radioman in die bedryf grootgeword in ’n tyd toe die radiobase groot klem geplaas het op die regte uitspraak. Jy verstaan waarom hy steeds dikwels as stemkunstenaar genader word. En ná baie dekades in die bedryf is hy ook steeds aantreklik. Dis ook heel verstaanbaar dat daar steeds vir hom TV-rolle aangebied word.
Hy is egter nie lief vir verhoogwerk nie.
“Ek is nie ’n teaterspeler nie. Ek het dit al probeer, maar voel uit my diepte uit. Oor die radio is jy nie verbind aan ’n vertolking van iemand anders nie en jy kan put uit die verskeidenheid beelde in jou eie gemoed.”
Die gesprek draai by die gebrek aan substansie by talle jonger mense wat kitssterre word wanneer hulle op TV verskyn. “TV is ’n ander perd. As jy ’n hondekuttel ’n strikkie ombind en dit genoeg wys op TV, word dit ’n ster. Kyk na die breinlose wesens soos die Kardashians, Paris Hilton en soortgelyke eendagsvlieë.
“TV is ongelukkig die grootste vernietiger van inisiatief en aanstigter van totale middelmatigheid. Ek praat nie van uitstekende produksies soos Law and Order (verslaaf daaraan) en ander slim produksies nie, maar werklikheidstelevisie... Die hemele help ons.”