'n Lewe met kanker

2013-02-02 23:25

Skrywer Reinet Nagtegaal het besluit om terug te baklei toe sy gediagnoseer is met terminale lewerkanker. | Foto: Jan Ras

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

In Maart verlede jaar word ek ná ’n kolonreduksie verwys vir ’n sonar van my lewer. Die radioloog is ’n vrou en mooi. Ek lê en kyk na die fyn weefwerk van die vlegseltjies in haar hare. Sy konsentreer op die skerm en wys met haar pen na die buitelyne van my lewer. Sy omsirkel die duidelike donker kolle, grotes soos gholfballe, kleintjies soos albasters.

Daar is ’n ondraaglikheid in die donker kamer.

“Those are the cancer lesions,” sê sy.

“Hoe lank?” vra ek.

“Oh, sweetheart,” sê sy, “there are so many factors. It is so difficult… ”

“Hoe lank?” eis ek

“Three months, give and take. Six… ” sê sy sag en vryf my been.

WANNEER DOOD ’n realiteit word, verloor dit abstraksie. Dit word ’n afgrond waaroor jy gaan tuimel, ’n oorverdowende waterval, en die drang na oorlewing word ’n byna onstuitbare krag wat jou met vrees bestuur.

Vrees vir pyn, vrees vir swaarkry, vrees vir eindes, alles deel van ’n allesoorheersende begeerte na méér lewe. Die vrees is so oorheersend dat jy dit met iets moet temper om te keer dat jou hart gaan staan!

En dis hoe gelatenheid so maklik jou diep rivier word. Daardie sagte, gevaarlike kussing waarop jy gaan sit. Gelatenheid. Dit domp vrees en sit jou in ’n lewende beswyming.

Jy dryf net voort op ’n stroom en hoef geen energie te gebruik om jouself in enige rigting te stuur nie.

Tot verbystering van my gesin en almal om my het ek besluit om te dryf. Ses verskillende dokters kan geen genesing voorsien nie. Chemo kan my maande bygee, kan dalk die letsels laat krimp om dit verder met mikrogolwe te bestraal, maar ook dít koop net ’n paar jaar. Dan is gelate doodgaan makliker.

Maar ek leer gou dat gelatenheid ’n vrugbare teelaarde vir depressie is en ek verpes depressie. Ek skryf Lord Tennyson teen my muur: I must lose myself in action lest I wither in despair.

So, om die vaal hond wat so om my hakskene snuffel eenkant toe te du begin ek op praktiese dinge konsentreer om myself emosioneel te buffer. Testament, boedelbelasting, lewende bemakings en die skryf van briewe neem weke in beslag en laat my voel asof ek minstens nog beheer oor die praktiese sy van my lewe het.

“Jy moet sin maak hieruit,” sê my broer.

“Jy moet oor afstand na jouself kan kyk. Jy moet ’n waarnemer sonder ’n standpunt word,” por my seun my aan. En ek probeer kyk. Ek word tegelyk waarnemer en deelnemer. Aan die een kant beleef ek hierdie vreesaanjaende siekte op ’n baie persoonlike, subjektiewe vlak asof dit mý kanker is en aan die ander kant sien ek hoedat die kankerselle in my lyf ’n impak op die werklikheid van almal om my het.

Ons is psigo-fisieke wesens. Ons kan nie die komponente een van die ander skei nie. Kanker tref nie net jou organe nie, dit laat groei ook gedisoriënteerde selle in jou bewussyn, in jou belewenis van alles om jou. Dis ’n kwantum¬belewenis. Asof selle met mekaar kommunikeer en die stand van jou gedagtes na mekaar toe SMS.

Wanneer jy ’n hulpelose toeskouer van jou eie lewe word, kan jy letterlik die energie uit jou ledemate voel onttrek. Kanker teer op wanhoop. Nou kom die stadium waaruit jy nie sonder ’n ondersteuningsnetwerk kan kom nie. Waar jou drif verlore gaan, het jy die voortstuwende energie van buite nodig om jou op te lig.

Ek het dit persoonlik in aksie gesien. Hoedat SMS’e, besoeke, gebede en goeie wense my pyn letterlik laat bedaar. Asof die mense van buite wat so weier om te los op ’n metafisiese manier hoop binne jou selle kweek.

“Dis ’n donker siekte, maar jy is mos ’n brave girl,” sê my ma. “’n Brave girl behoort heel eerste haar oog na die son toe te draai,” sê my broer. “Jy móét jouself bemagtig,” smeek my geliefde. “Jy moet astraal sweef,” sê my seun. My dogter dra dik pakke internetverwysings aan. Ons gaan sien dokter nr. 7.

Hierdie dokter sê: “Ek kan jou nie gesond maak nie, maar ek kan gehalte aan jou lewe gee en ek kan jou verseker dat niemand regtig tyd kan voorspel nie. Die dood sal jou ook maar verras soos wat dit my gaan verras.”

Ek besef dit nie in daardie stadium nie, maar die feit dat hy glo ek behoort steeds my eie gesondheid met dieet en oefening te bestuur, maak die eerste duik in die wanhoop wat so ’n troue bondgenoot geword het.

’n Vriendin stuur vir my ’n verjaarsdagskildery van son wat deur water breek, ’n opswem na die lig. Ek hang dit oorkant my sitstoel. Ek swem in daardie stroom. Elke dag. Ek verander my dieet, ek oefen. Ek begin die lewe op ’n afstand dissekteer. Die lewensdrang, as gemene deler tussen ons en alle lewende wesens.

As die drang na lewe so sterk is dat dit so ’n intense emosie soos vrees kan skep, moet dit tog geweldig belangrik wees om so lank as moontlik binne hierdie spesifieke bewussyn te leef. Selfs al kan ons dit nog nie presies dissekteer nie, is dit die elikser wat ons aan die lewe hou. Met hierdie gewaarwordinge begin my eie drang na lewe weer toeneem en voor ek my oë kan uitvee, dryf die doodsvrees my terug onkoloë toe.

Ek Google my oë rooi. Met chemo het ek ’n 50% kans dat die gewasse genoegsaam krimp om met mikrogolwe bestraal te kan word en as dit sou slaag, het ek ’n 6% kans op nog vyf jaar se lewe. “Statistieke is misleidend,” sê die onkoloog.

“6% is vrek baie as jy niks het om dit teen te meet nie,” sê my skoondogter.

Ek behou beheer oor my lyf deur te dieet en te oefen. Ek verdryf die chemo-naarheid met groentesappe en die treadmill. Ek dwing myself om te erken dat ek nog lank wil lewe. Ek maak rolprente in my kop oor myself saam met my geliefde en my kleinkinders oor tien jaar en ek kyk hierdie flieks honderd maal per dag. Ek leer my lewer ken en sing vir haar marsliedere! Ek sweep haar op om saam met my oorlog te maak. Ek kommandeer ook almal wat ek ken om my in die lewe in te dink. Ek vermy almal wat treur of my behandel asof hulle my groet. Ek verander van dokter na dokter sodra ek snuf kry hy of sy dink nie ek gaan dit maak nie.

Dokter nr. 12 kyk na my jongste scans en skud sy kop: “I don’t see why you had to go through all this chemo, I know I can remove everything.” Professors kom by, hulle twyfel en waarsku dat van die letsels ongemaklik sit, tussen are, dalk nie moontlik om uit te sny nie… Maar ek konsentreer net op die jong hepatoloog, die een met die skaam glimlag en hope selfvertroue. Hy is die hoop.

Ná die operasie loer hy ingenome om die hospitaaldeur.

“I told you we could do it!” sê hy.

“Nee,” sê ek, “ek het jou eerste gesê!”

Ons lag. Ek is skoon. 


Reinet se kinders, Jackie en Jan-Jan.

HOOP VIR KANKERLYERS

4 Februarie is Wêreldkankerdag en vanjaar val die fokus op die bestryding van negatiewe mites oor kanker. www.worldcancerday.org

Lewer kommentaar op hierdie artikel
6 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Nuutste Nuus-kommentaar

Leendert Van Oostrum sê... So 'n mooi, mooi sommerstorie! Lees die storie...

Weer
Lotto
Ksd: 15-23°C Sunny. Mild. Pta: 10-19°C Morning clouds. Mild.
Jhb: 7-15°C Morning clouds. Cool. Bfn: 9-19°C More sun than clouds. Mild.
Dbn: 14-23°C Sunny. Mild. PE: 12-24°C High level clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Winchester Mansions

Spend 3 nights at Winchester Mansions from R3 330 per person sharing and pay for 2 nights. Includes accommodation, return flights, car rental and Local Travel Insurance.

Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Drama- & liefdes-DVD’s – 2 vir R99

Moenie ons spesiale aanbiedinge van liefdes- en drama-DVD’s, wat jou ure voor jou skerm vasgenael sal hou, misloop nie. Die aanbod is geldig vir solank daar voorraad is. Koop nou.

Eksklusiewe spesiale aanbod op Wii U

Spaar R999 op hierdie wonderlike aanbod: Wii U 8GB-konsole, basiese pakket, + ’n bykomende stel + Nintendo Land. Nou net R4399.95. Solank daar voorraad is. Koop nou!

Opruimingsuitverkoping! Spaar tot 60%

Besoek ons opruimingsuitverkopingwinkel vir asemrowende aanbiedinge en spaar tot 60%. Solank daar voorraad is. Koop nou!

Witwarm winskopie van die week! Bespaar R2000 op die Samsung Galaxy SIII

Kry die Samsung Galaxy SIII vir slegs R4999.95. Dit is ontwerp vir die mens, maar geïnspireer deur die natuur. Word binne 24 uur versend. Terwyl voorraad hou. Koop nou!

Dan Brown’s se jongste roman, Inferno

In Dan Brown se nuwe roman, Inferno, is die Harvard-simboolkenner Robert Langdon weer aan die stuur van sake. Dit speel af in die hartjie van Europa, waar Langdon ingetrek word in ’n raaisel rondom een van die geskiedenis se oudste en geheimsinnigste literêre meesterwerke. Die langverwagte roman word vandeesweek uitgereik. Plaas jou bestelling nou!

Witwarm Weber-aanbod!

57cm kompakte braaitoestel + GRATIS deksel + GRATIS visbraaier vir R1299.95. Solank voorraad beskikbaar is. Stel nou ondersoek in.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

There are new stories on the homepage. Click here to see them.