omgewing: Een mens se gemors...
2010-10-30 14:25
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dis vroegoggend in Kaapstad, maar die dromkrappers is reeds bedrywig.
In klein groepies of op hul eie stap hulle van huis tot huis en maak die vullisdromme op die sypaadjies oop.
Hulle haal die sakke uit en begin soek.
Hier trek iemand ’n verslete kledingstuk uit; daar word ’n bottel versigtig geplaas in die trollie wat besig is om vol te raak. Op ’n ander plek druk iemand vinnig ’n horlosie in sy sak voordat die huisbewoner dalk agterkom hy het iets kosbaar weggegooi.
Honderde mans en vroue oor Suid-Afrika heen snuffel daagliks in dromme tussen ander mense se vullis rond op soek na voorwerpe wat vir hulle ’n paar rand in die sak kan bring. Wanneer hulle genoeg goedere versamel het, sal hulle dit by een of ander herwinningspunt gaan ingee en enigiets tussen 20c en 40c vir ’n kilogram van hul ware kry.
In die Wes-Kaap het die maatskappy WastePlan onder leiding van Bertie Lourens begin om saam met van die dromkrappers te werk.
Feitlik enigiets word deur WastePlan herwin – van plastiek tot metaal, papier en ja, selfs skoon foelie. Sowat 70 dromkrappers van Pinelands, Melkbosstrand, Bloubergstrand, Plattekloof, Llandudno, Kampsbaai, Fresnaye en Somerset-Wes kry daagliks ’n paar rand van dié herwinningsmaatskappy.
Nog honderde dromkrappers vind op hul eie hul weg na ander maatskappye se herwinningsaanlegte.
Moosa Salie is net 57 jaar oud. Maar die lyne op sy gesig laat hom ouer lyk.
“Ek is al vyf jaar ’n dromkrapper,” vertel hy. “Ek kan nie elders werk kry nie.”
Ja, sê hy. Dit is seker nie higiënies om in dromme te krap nie, maar “dis beter as steel of huisbraak”.
Nie alles wat hy uit die dromme krap, gaan na WastePlan nie. Soms kry hy selfone, horlosies, klere en batterye wat nog werk.
Dit hou hy vir eie gebruik of om op ander maniere te verkoop, sê Moosa, wat haweloos is. “Ek kan uitkom met die geld wat ek as dromkrapper verdien.”
David Kaptein (34) het van Cradock Kaap toe getrek, want hy het gehoor daar is baie werkgeleenthede. “Ek het drie maande lank probeer om werk te kry. Toe dit nie gebeur nie, het ek begin om saam met die ander mense in dromme te krap.
“As die Boere sien ek krap, gee hulle gewoonlik vir my kos. Maar ek vat nie ou kos nie, al is ek honger. Ek sal net vars kos eet.”
David bly saam met sy vrou en ’n hond in ’n kamer wat hy in Pinelands huur. Hy erken van sy geld word gebruik om drank te koop, “maar ek baklei as ek gedrink is”.
Dewald Vermeulen van WastePlan se menslikehulpbronafdeling sê hy het al tientalle dromkrappers gehelp om identiteitsdokumente te kry. Met dié dokumente kan hulle onder meer aansoek doen om ’n staatspensioen.
Daar word ook deurentyd gepoog om vir die dromkrappers, waarvan die meeste haweloos is, meer permanente huisvesting te kry.
“Dit gaan maar moeilik, want hulle is gewoond daaraan om van plek tot plek te trek,” sê Dewald.
In die Kaapstadse metropool word 7 000 t vullis daagliks gegenereer. Afval wat op vullishope beland, vorm metaangas en dra by tot die aardverwarmingskrisis. Produkte wat herwin word, gebruik minder energie, water en grondstowwe as om nuwe produkte te vervaardig en dit beland ook nie op die vullishoop nie.
In die gebied wat WastePlan bedien, neem 50 000 huishoudings (sowat 70% van die gemeenskap) deel aan herwinning. Huishoudings word van deursigtige plastieksakke voorsien waarin alle herwinbare produkte geplaas word. Herwinning vind ook plaas by hospitale, winkelsentrums, maatskappye en sportbyeenkomste.
Hou ’n mens die dromkrappers dop, sien jy hoe verskillende mense verskillende goed uit jou weggooi-goed opdiep.
In Melkbosstrand is een dromkrapper net op soek na glas en papier. ’n Tweede man haal dadelik ’n ou, stukkende rekenaar uit dieselfde drom en sit ure lank om die masjien uitmekaar te haal sodat hy by die koper in die ingewande kan uitkom (dis ’n gevaarlike proses, want allerlei gifstowwe word só vrygestel).
In Killarney het Anne Carolus die dromkrap-geleentheid met albei hande aangegryp. “Ek het gesien hoe ander mense geld maak en verskillende goed uit die dromme krap. Ek het besef ek wil nie teen die kantlyn staan en kyk hoe ander mense geld maak nie.”
Sy het begin krap en benewens die goedere wat sy aan herwinningsaanlegte verkoop, hou sy voorwerpe soos klere, skoene en gebruiksartikels wat sy by die taxi-staanplek in die woongebied gaan verkoop. “Ek verdien tussen R50 en R300 per dag. My man krap ook dromme. Maar soms doen hy bouwerk en dan krap net ek.”
Amanda Isaac (36) is al die afgelope ses maande ’n dromkrapper. “Ek sou eerder ’n heeltydse werk wou kry; iewers in ’n kwekery waar ek met plante kan werk.
“Maar ek kry nie werk nie en nou krap ek saam met my boyfriend in dromme. Dit hou ons uit die moeilikheid uit.”
Anne vertel: “Soms is daar struwelinge tussen die dromkrappers. Veral as van die huisbewoners kospakkies bo-op die drom vir ons los. Mense baklei maklik oor kos.
“Ek krap ook as dit reën. ’n Mens weet nooit wat jy kry nie. Ek is soms stomgeslaan oor wat mense met geld weggooi.”
Groen wenk
* Jy kan in jou kantoor spaar deur die regte papier aan te skaf. Koop herwonne papier en gebruik albei kante daarvan. En as julle klaar is daarmee, herwin dit weer. Deur een ton papier te herwin, word 17 bome en meer as 26 400 liter water bespaar.
* Koerante, tydskrifte en wit papier kan alles herwin word solank dit skoon en droog is. Plastiekomhulsels, plakkers en rekkies moet verwyder word, maar kramdrukkers en koeverte met ’n plastiekvenstertjie kan herwin word.