reis: Kersfees in die koue
2011-12-17 14:28
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Hoewel hordes toeriste verkies om in die warmer maande na Europa te stroom, hou winter, of meer spesifiek Kersfeestyd, ’n unieke bekoring in vir besoekers aan die noordelike halfrond.
Dit is immers waar baie van die Kerstradisies wat ons vandag ken, vandaan kom en al bring Suid-Afrikaners Kersfees langs ’n swembad pleks van ’n kaggel deur, verlang baie mense na ’n wit Kersfees.
Dus is Desember nie noodwendig ’n slegte keuse vir ’n reis na Europa nie, veral as jy jou oog op Kersmarkte het.
Hierdie markte is vir vele genoeg rede om te reis en webwerwe soos www.travelintelligence.com het ’n toptienlys saamgestel van die beste Kersmarkte in Europa – van Wenen tot Keulen en Kopenhagen.
’n Stad wat ook jaarliks duisende besoekers lok met hul markte, is Praag.
Daar word selfs gesê dat jy nie regtig in Praag was as jy nie een van hul soel somers beleef het nie, waar straatmusikante en kunstenaars bedags die lengte van die bekende Charles-brug volsit en toeriste met hul kuns probeer beïndruk. Aan die ander kant het jy ook ’n asemrowende deel van Praag misgeloop as jy nog nie hul Kersmarkte beleef het nie.
(Dis dalk ironies dat sowat 59% van die inwoners van Praag ateïste is, en tog word die hele stad omgetower gedurende die jaarlikse tydperk rondom Kersfees.)
Jaarliks van einde November af is daar ’n hele klomp Kersmarkte in Praag waarvan een van die gewildstes die een op die ou dorpsplein is.
Hier kan jy sien hoe die plein voor jou oë omskep word in ’n ouwêreldse mark met eenvormige rooidak-houtstalletjies waar jy enigiets denkbaar kan koop – varsgeroosterde neute, leerhandskoene, musse, serpe en juwele, Kersversierings, houtspeelgoed, tuisgebakte koekies, varsgebakte olieringe (trdelník) wat in suiker en kaneel gedompel is, die heerlikste salami en varkvleis wat op die spit gaargemaak is. En natuurlik Svarák (’n soort warm kruiewyn) en Tsjeggiese bier – gellings daarvan.
Gewoonlik sneeu dit hierdie tyd van die jaar en die hele stad is bedek met ’n wit kombers.
Bedags, wanneer die meeste mense werk, is hierdie mark taamlik stil, maar smiddae vanaf vieruur, wanneer dit donker begin word en die eerste Kersfeesliggies die plein begin verlig, kom soek almal iets te ete en drinke hier op die plein. Dis ’n gemeenskaplike bymekaarkomplek vir oud en jonk, toeriste en die plaaslike inwoners, al is dit snerpend koud en die windjie soms maar baie dun...
Solank jy gepantser is met ’n ordentlike baadjie, ’n mus, serp en goeie waterdigte skoene, tesame met ordentlike sokkies en onderklere, kan jy maklik die byt in die lug trotseer.
(Later sal jy besef dit is nogal veel gevra om inkopies met handskoene aan te doen en jy kan seker wees dat jy waarskynlik een of ander tyd ’n handskoen aan die heelal gaan afstaan.)
Terwyl jy ’n tradisionele wegneem-aandete geniet, kan jy boonop ’n musiekuitvoerings op die koop toe kry. Met ’n besoek verlede jaar aan Praag was daar hoeka nie minder nie as twee Suid-Afrikaanse kore wat op dieselfde aand Kerskonserte op die plein gehou het. (Die een koor was die skoolkoor van die Hoërskool Wonderboom in Pretoria en hulle het ’n paar dae later ook ’n internasionale koorkompetisie in Praag gewen.)
In die agtergrond sal jy die perdehoewe van perdekarretjies op die keisteenpad hoor klap, terwyl die twee magtige torings van die Týnkerk vir die mees perfekte prentjie sorg.
Elke uur beier die kerkklokke vanuit verskillende kerktorings oor die stad heen. Sprokiemooi en idillies.
Ander bekende Kersmarkte
Keulen
Dié stad in Duitsland het vier markte en trek jaarliks byna 2 miljoen besoekers. Die gewildste van dié markte is Am Dom op die plein voor die Keulen-katedraal. Die ligging onder die gotiese torings is nie net indrukwekkend nie, die mark bied ook 160 stalletjies wat rondom ’n reusagtige Kersboom opgeslaan is.
Wenen
Die Christkindlmarkt is voor die stadsaal van dié stad en is ’n klassieke Kersmark wat al 700 jaar bestaan. Dit is daarom ook een van die bekendstes in Europa.
Nuremberg
Hierdie mark is in 1628 vir die eerste keer gehou en is bekend vir die houtfiguurtjies wat hier verkoop word. Daar word ook elke tweede jaar ’n jong man of vrou gekies wat die mark open en dan deur die dorp hardloop om die gees van Kersfees te versprei.
Kopenhagen
Dié mark word by Europa se oudste pretpark, die Tivoli-tuine, gehou en lyk soos iets wat uit ’n Hans Christian Andersen-storie kom. Benewens die stalletjies, is daar honderde Kersbome en meer as ’n halfmiljoen liggies wat die park verlig.
Bron: travelintelligence.com
wat | waar
Cultour Africa is ’n eiesoortige Suid-Afrikaanse maatskappy wat kulturele toere regoor die wêreld vir onder andere kore reël. Vir meer inligting kontak Johan by 012 803 2213 of stuur e-pos na johan@cultourafrica.co.za. Hul webwerf is www.cultourafrica.co.za.