rubriek: Biddag vir reën
2012-02-11 12:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dis droog in die Karoo.
Ek kan dit aan my vriend Faul se stem hoor as ek hom bel.
My pa vertel van lammerooie wat in die veld bly lê.
En in my gedagtes kan ek hoor hoe die boere oor die droogte kla, Vrydae as hulle mekaar in die dorp raakloop.
As jy in die Karoo grootword, is jy van kleins af bewus van die weer. Jy weet hoe lyk “’n wolkie so groot soos ’n man se hand”. Jy weet hoe dit voel om op ’n “vetkol” te bly – die enigste plaas in die distrik waar dit hardnekkig verseg om te reën. Jy ken ’n “jaloersbuitjie”, wanneer dit op een plaas reën en niemand anders ’n druppel kry nie. En jy hoor ou ooms moedeloos spot: “Destyds met die Sondvloed het ons mos net die blitse daar na Calvinia se kant toe gesien.”
Al bly ek deesdae in die stad, is daar ’n reënmeter in my tuin. En as dit gereën het, gaan meet ek dit dadelik, en skakel die millimeters om na duime en pinte. Want in my kop weet ek dat twintig pinte net die ergste stof laat lê. ’n Duim op droë veld is ’n goeie begin. Twee duim sagte reën beteken groen veld. Drie duim harde reën beteken vol damme. Vier duim kan damwalle breek.
Toe ek nog op laerskool was, is daar gereeld ’n biddag om reën gehou. Of dalk het dit net vir my gevoel of dit gereeld gebeur het. Ons hele skooltjie, geklee in optimistiese groen skooluniforms, het telkens in ’n stowwerige prosessie afgesit na die kerkgebou.
So ’n biddag kon ’n lang affêre word. Veral as jy agt of nege jaar oud was. Die opwindendste deel was om skelmpies onder gebed te loer en te probeer raai wie volgende gaan bid. ’n Voornemende bidder is ’n bietjie soos ’n hoender wat regmaak om ’n eier te lê. Die persoon kry so ’n onrustigheid oor hom, so ’n pofferigheid soos die asem diep ingetrek word, en hy begin rondskuif en met sy das vroetel, met so ’n plooi voor die voorkop soos hy repeteer vir die Groot Praat wat voorlê.
Die stilte tussen gebede was altyd opwindend: Wie gaan volgende wees? En dit was altyd opwindend as twee mense gelyk begin bid: Wie gaan eerste die stryd gewonne gee en die ander een ’n kans gee?
Ek sê dit met alle respek en oortuiging: Niemand kan bid soos ’n boervrou wat bid om reën nie.
In ons gemeente was destyds veral een tannie wie se talent op dié gebied ek bewonder het. As sy iemand buite die kerk raakloop en ’n geselsie aanknoop, het haar stem soos enige iemand anders s’n geklink. Maar as sy op so ’n biddag begin bid, het haar klinkers so ’n lang, gemartelde klank gekry. Dit het my sterk herinner aan die manier hoe my suster se stem verander het as sy by my pa gaan klik of kla oor die een of ander onreg wat ek haar kamma weer aangedoen het.
Die tannie het altyd haar gebed begin deur die Here God direk aan te spreek. Vir my agtjarige sieletjie was dit nogal skrikwekkend. ’n Kombinasie van die kinderkrans en die prentjies in my Kleuterbybel het my ’n ietwat ongesonde Godvresendheid besorg, daarom het ek altyd maar tot Liewe Jesus gebid.
Dan het die tannie begin om haar aanklag uit te lê: Here, U sién ons ellendes, hier waar ons vandag sit. U sién hoe mens en dier ly. U sién hoe die paaiemente by die Landbank agter raak. Wáárom stuur U dan nie vir ons úitkoms nie?
En hoe verder die tannie gevorder het, hoe krakeriger het haar stem geword en hoe kwaaier het sy geklink. Ek het die Here partykeer nogal jammer gekry, want om vir so ’n kwaai tannie nee te sê, het beslis nie in mý broek gesit nie...
Gisteraand was hier ’n donderstorm in Bloemfontein.
Ek het oudergewoonte in die oop deur gaan staan om die blitse dop te hou. Nes my pa altyd doen. Ek het gedink aan mense en diere in die Karoo wat swaarkry. Aan Landbanklenings wat afbetaal moet word. Aan lammerooie wat gaan lê en nie weer kan opstaan nie. En aan boeretannies wat hul mans sien swaarkry en op biddae die Here tot verantwoording roep.
Gisteraand voor ek aan die slaap geraak het, het ’n stadsjapie op Facebook geskryf: “OMG, hopi dt reen more ni! Wil gan quadbike ry.”