rubriek: Om in die nou te leef
2012-01-28 13:36
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Nostalgie is ’n emosie waaroor veral die sensitiewes hoog opgee. ’n Verlange na wat was, of iets beters as dit wat jy nou ervaar. Ek dink egter ons geheue speel parte met ons en juis daarom het ek deur die jare al hoe méér gefokus geraak op die oomblik, die nou.
Maar dis nie maklik om in die nou te leef nie. Natuurlik is alles wat ons nou beleef, ingegee deur die wonde en pyn van die verlede. Vanselfsprekend moet jy vandag beheer neem oor gister om vandag te begryp en foute te vermy. Net soos môre bepaal word deur gister en vandag.
Maar “Domani never comes”, waarsku die populêre liedjie. Jy kan dit nie ken nie; net gister is ’n kleiharde realiteit.
“My foute sleep agter my aan,” bely ’n suksesvolle digter een aand aan my.
Tog kan ’n mens afskeid neem van die genadelose/liefdelose/selfgerigte mens wat jy eens was. Nou kan jy in die hede leef en die spreuk carpe diem ondersoek en beproef.
Skoolreünies en koshuissaamtrekke is iets wat ek vermy. My jeug was een van onvervulling en buite-wees. Waarom dan ’n saamtrek deurbring met mense wat my nie ter wille was nie? Ek onthou hoe ’n klasgenoot in matriek almal in ons klas na ’n partytjie genooi het, behalwe my en ’n paar kinders van die onderdorp.
Op die platteland was die onderdorp die plek van die andersoortiges, armes, verdruktes, spoorwegwerkers-se-kinders. Ondanks my ouers se verbod het ek gebeur na dié aweregse ruimte. Daar het ek met my eie oë gesien hoe ’n baber oor die stoep seil en ’n maatjie het laatnag vertel haar ma kan Jim Reeves oproep!
Ek was verwonderd.
Veral toe haar oë demonies in die nag gegloei het. Ek het vas geglo ek is in die dimensie van die bonatuurlike. (Jare later sou ek besef dit was maar net die skynsel van die naglig. Maar nostalgie sal ons laat glo dit was só.)
Alles in die lewe gebeur binne ’n konteks.
Om ’n vriendskap of verhouding ná jare te herbesoek is ’n resep vir ’n ramp. Laat die jeugliefde en -vriendskap in die herinnering gebalsem bly.
Waaroor gaan ’n mens praat by so ’n reünie?
Of gaan ons ’n valse kameraderie skep?
Hoe gemaak as jy iemand nie herken nie?
Dieselfde geld die besoek aan stede wat jy toentertyd besoek het. ’n Stad is soos ’n ou dagboek wat jy optel en met verwondering onthou hoe dinge indertyd daar uitgesien het. Dis ook ’n foto-album vol kiekies.
As babers oor die stoep kan loop, bly daar ’n afdruk van jou in ’n stad agter.
Met ’n onlangse besoek aan Parys het ek weer besef dat jy iets van jouself agterlaat. Dat jy daardie energie as’t ware weer kan optel soos wat ’n mens voetspore volg.
Parys op ’n somermiddag vol jong mense in die Latynse kwartier: uitbundig, bier in die hand, op soek na avontuur. Kortstondige, lyflike plesier.
Parys later op ’n lentedag verlangend na ’n agtergelate liefde varend oor die Seine.
Parys in die herfs vol ontnugtering, dolend deur agterstrate met die verwerking van ’n geliefde se dood.
Parys in die winter, ysig en toegesluit.
Elke keer Parys, maar in ’n ander gedaante. Die rolprent Paris je t’aime (2006) is ’n huldeblyk aan dié stad van lig en liefde. Verskillende rolprentmakers moet ’n arrondissement vertolk in ’n klein rolprentjie.
Ons hoor die binnespraak van ’n Amerikaanse vrou: ’n briewebesteller uit Denver, Colorado, wat praat oor Parys in ’n aaklige aksent. Sy is onaansienlik. Haar eensaamheid en patetiese uitsprake is hartverskeurend. Dit word gesinkopeer met die jongeling wat vir ’n ander een sê hulle is sielsgenote, maar hy verstaan nie Frans nie...
Dan som sy dit alles op vir ons: háár ervaring van nostalgie. Om sowel hartseer as gelukkig te wees, te begryp en nie te verstaan nie…
Met elke baken wat ek besoek, blaai ek deur die foto-album van my geheue. Hélène Cixous, beroemde Franse filosoof, praat van nostalgeria, haar verlange na haar jeug in Algerië en die woord impliseer dalk ’n samekoms van verlede en hede?
Gee my die hede, die nou, die nunc. Dalk was dit my Last Tango in Paris, gedagtig aan daardie ikoniese fliek van Bernardo Bertolucci uit 1973 met Marlon Brando en Maria Schneider.
Los die verlede, leef nou en vergeet van die toekoms. Dit sal vir sigself sorg. Ofskoon ek paradoksaal moes terugkeer in die tyd om tot hierdie gevolgtrekking te kom: nou.