voorsmaak: Geloof in die Kloof

2010-03-13 12:26

Die pad na Beyerskloop met Simonsberg agter.

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

So ’n week of wat gelede, kort voor Stellenbosch se Woordfees, kom geloof op die groot houtdek onder die prieel by Beyerskloof ter sprake.

Dis ’n betaamlike onderwerp, want ons loop proe-proe deur vorige wyne wat aanleiding gegee het tot die nuwe – ’n groot, ernstige meneer wat bepaald vir hierdie knap wynplek, bekend om veral sy pinotage-projekte, nuwe teikens stel.

Beyers Truter, immer vonkelend van oog, kry wel ’n diep trek in sy kyk as hy die een glas ná die ander in sy hand tol. Dié ritueel is as’t ware getuienis van sy geloof in onder meer pinotage en die grond van sy mooi kloof-wingerd. Ons snuif en vat klein teugies. Dis ’n ernstige saak dié, die bekendstelling van sy jongste vlagskipwyn, soos hulle dit, Anglisisties en al, in die bedryf noem. Dis ook ’n ernstige bottel geloof in die fyn-fyn kuns van wynmaak. En die gesprek neig filosofies.

Beyerskloof Faith 2007 is ’n nuwe en besondere rooiwyn – en ietwat van ’n simbool van wat Truter glo uit sy ervaring en omgewing kom.

’n Rooiversnitwyn vir die fynproewer is dit ook vir hom ’n geloofsdaad in pinotage se vermoë om by te dra tot wat hy en ander as ’n “Kaapse versnit” (juis vanweë die pinotage) beskou. Met ander woorde, om nogmaals Pinotage se lof te besing.

Met die Woordfees op hande, gaan draai die gesprek ietwat esoteries oor hoe moeilik dit is om die essensie van wyn in woorde te beskryf. “Ons maak liewer deuntjies op,” sê Truter met sy skelm glimlag en vertel hoe hy en Koos Kombuis saam-saam rympies opmaak en pinotage se lof besing.

Kombuis is so half-amptelik Beyerskloof Pinotage se troebadoer en sou tydens die Woordfees se Musiekmarathon saam met Hunter Kennedy, onder dieselfde prieel, hul ding doen.

Die borgskap is maar een van die “mensdinge” wat hier, onder Truter se leiding, aangepak word.

Die bekendstelling van die duur, nuwe rooiwyn dui op ’n ander aspek daarvan: Die wynmaker se betrokkenheid by een van die wynland se grootste probleme en uitdagings; dié van fetale alkohol- sindroom, waarvoor daar hier ’n spesiale fonds bestaan wat deur wyn-inkomste aangevul word.

Noem dit ’n slim bemarking-strategie, as jy wil, selfs kundig, maar Beyerskloof staan viervoet in die gemeenskap – sy eie (lojaliteit is hier ’n gegewe) en ook ander s’n.

Truter is eweneens profeet (niemand kan loflik oor pinotage praat sonder om sy naam te noem nie) as politikus (vra maar die Stellenbosse stadsraad), en dis ’n persoonlikheid wat enige handelsmerk as openbare gesig jaloerslik sal begeer.

Vir Beyerskloof en sy etikette (daar is 11 verskillende wyne) is Truter goud werd.

Deesdae is sy seun Anri diep bedrywig tussen die kelder se kuipe en tenke; ’n aardjie na sy vaartjie wat wynmaak betref. Maar Truter sr. is, vir al sy openbare “optredes” (komende KKNK sien hom weer in die kos-en-wynkonserte) steeds die filosoof agter die wyne.

En dus het die bekendstelling van die Beyerskloof Faith 2007 gepaardgegaan met ’n paar dieper gedagtes en noukeuriger proe-bepeinsings.

Die wyn in sy dik, swaar bottel met sy mooi en slim etiket (die woord “Faith” – soos in “geloof” – is letterlik van fyn wingerdgrondstof in ’n tegnies-gevorderde proses op die papier aangebring) behels ’n rooiversnitwyn waarin pinotage met ’n bydrae van 20% sy rol netjies speel. Daarby bevat die wyn cabernet sauvignon (30%), merlot (30%) en shiraz (20%).

Alles, sê Truter, kom uit die tien beste vate. Met 21 maande in die beste Franse eikehoutvaatjies is daar net sowat 400 kissies van ses. (Jy sal ongeveer R400 moet uithaal om een bottel te koop.)

Faith sluit aan by Diesel 2007, Beyerskloof se ander “vlagskip”, ’n suiwer pinotage wat verlede jaar bekend gestel is en nie net een van Absa se pinotage-toptien is nie, maar ook met vyf sterre in die Platter-wyngids spog. Nie veel pinotages het al dié eer te beurt geval nie.

Die nuwe Faith spog met vier-en-’n-half sterre.

Die naam Faith hou regstreeks verband met Truter se godsdiens, maar hy’s nie ’n man wat te veel daaroor sal uitwei as dit nie nodig is nie. Dade praat, glo hy ook.

En dan, terwyl ons die proe-glasies met die verskillende wyne wat Faith en Diesel se afkoms en agtergrond in konteks plaas (Beyerskloof se Synergy en die hele reeks pinotages, van die wit etiket tot die reserwe in swart) aandurf, praat die bekende wynmaker oor sy geloof in die grond en die druiwe. En natuurlik die voortreflikheid van goeie wyn.

Hy kry ’n ver kyk in die oë en ’n sagte glimlag om die mond as ons saam die Faith proe. “Dis die grond waarin jy geloof moet hê. Versorg jou wingerd. Koester jou wynmaakproses. Proe-proe in die kelder. Dan kry jy hierdie soort wyn.”

Dis ’n ongelooflike wyn. Hy stuur soveel plesierige seine van neus, mond en tong na jou brein dat jy kwalik op die kompleksiteit houvas kan kry. Sekerlik vir die lang termyn – ’n wyn, soos Beyers Truter glo, wat net in die Kaap gemaak kan word. Dis ook puur en pure Beyerskloof.


Om aan te skaf

Vir pinotage in sy kuier-element:

* Beyerskloof Pinotage 2009 (wit etiket). ’n Wyn wat uitgesproke pinotage is met blink, soeterige vrugtegeur; tog kurkdroog en sag. Jy kan dit effe afkoel in die somerdae en dadelik saam met die braai geniet. Of wegsit vir bietjie veroudering saam met ryk wintergeregte.

Vir pinotage in sy serebrale toestand:

* Beyerskloof Synergy 2007. 57% pinotage met shiraz, cabernet sauvignon en ’n sweempie merlot sorg vir ’n ryk, groot wyn.

* Beyerskloof Faith 2007. ’n Wyn om te hou en diep oor na te dink as jy die bottel oopmaak.

Werd om te weet

Pinotage en Beyerskloof is sinoniem. Dis waarskynlik die wêreld se grootste pinotage-etiket wat verkope betref. Daar is, soos verwag kan word, ’n hele reeks wyne wat met pinotage flankeer as dit nie net die suiwer een op sy eie is nie. Daar is ’n mooi pienk vonkelwyn en selfs ’n lieflike port-styl Lagare wat uit ’n versnit met Touriga Nacional (63%) bestaan. Maar dis die “Kaapse versnitte” waarin pinotage saam met ander rooidruifsoorte ingespan word waar die kelder se fokus lê. Die gesprek oor ’n unieke “Kaapse versnit” met pinotage gaan voort. In dié sin is die nuwe Beyerskloof Faith 2007 waarskynlik ’n hoogtepunt vir die Kaapse versnit.


As een van sy pinotage-stellings vertel Beyers Truter altyd dat dié wyn die hoogste telling resve­ratrol, ’n antioksidant, het. Hy haal die navorsers Darlene de Beer en Elizabeth Joubert aan. “Ja, 12 keer so sterk soos enige ander antioksidant. Twee glase ’n dag verhoog die antioksidantwerking met 75%,” sê hy met ’n groot glimlag.


Beyerskloof, wat in 1988 gevestig is, het aan een van Truter se voorsate, Andries Beyers, behoort wat die oorspronklike plaas in 1895 verkoop het.

Wie/Waar

www.beyerskloof.co.za; www.faithfund.co.za


- Rapport

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weather
Lottery
Cpt: 21-31°C Sunny. Warm. Pta: 17-30°C More sun than clouds. Warm.
Jhb: 15-28°C Afternoon clouds. Mild. Bloem: 18-27°C Scattered showers. More clouds than sun. Pleasantly warm.
Dbn: 20-29°C Tstorms late. Mostly cloudy. Warm. PE: 19-22°C Scattered showers. Morning clouds. Cool.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

VOLKSWAGEN

Jetta 4 2.0 Highline AT
2006
R 139,000.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 72,995.00

TOYOTA

Hilux 3.0 D-4D Raider 4x4 D-Cab Dsl PU MY09
2010
R 335,900.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chill out in Knysna

Spend 2 nights at the Turbine Boutique Hotel & Spa in Knysna's gorgeous Thesen Island for R3058 per person sharing. Includes return flights, taxes, car hire and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

gobii eReader nou beskikbaar

Koop die gobii eReader en gobii-omhulsel vir iemand spesiaal vir Valentynsdag. Gratis aflewering binne 24-uur. Koop dit nou.

Koop Friends with Benefits en wen

Koop die DVD of Blu-ray en staan ’n kans om 1 van 5 "Love You"-blikke met koekies te wen. Die wedstryd sluit 9 Februarie. Koop dit nou.

Koop 4 romans vir R79,96

Koop enige 4 romantiese verhale vir slegs R79,96 terwyl voorraad hou. Koop dit nou.

Geskenke vir hom

Koop ’n klassieke skuimskeerborsel vir R279 vir die man in jou lewe en kry 15% afslag op ’n uitgesoekte reeks naskeermiddels. Koop dit nou.

Dit is al weer ’n fleurige Valentynsdag!

Daar is fleurige spesiale aanbiedinge by kalahari.com met die gobii eReader, Friends with Benefits, parfuums en rose wat nou beskikbaar is. Koop dit nou.

2 DVD's vir slegs R129

Winskopie van die week

Sit snoesig teenaan jou geliefdes hierdie Valentynsdag met ons aanbod van 2 DVD's vir slegs R129. Aanbod geldig solank vooraad hou. Koop dit nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
There are new stories on the homepage. Click here to see them.